Met dié bande kan jy dorp én boendoes toe

Maroela Media is onlangs met ʼn pragtige reistog deur die Transkei bederf. Ek self was nog nooit in die hoekie van ons land nie … en ek sal een ding sê – dit is asemrowend mooi. Afgesien van die Weskus is ek nie bewus van veel plekke in Suid-Afrika wat só ongerep is nie.

Die doel van die reis was die bekendstelling van nuwe bande uit General Tire se stal. General Tire is trots Suid-Afrikaans en het in 1947 plaaslik bande begin vervaardig in Port Elizabeth. Ek sukkel nog met die nuwe naam – Gqeberha. Ek kan hom uitspreek, maar nie spel nie.

Ek het nou al talle kere tyd met voertuie deurgebring wat op General Grabber-bande loop. Ek hou van hulle. Daar is nou twee nuwe modelle in die stal, die ATX en AT3. Albei is alle-terrein-bande, met ʼn aggressiewe loopvlakpatroon. Die ATX is nou beskikbaar met wit letters aan die sykante. Dit vertoon werklik mooi op ʼn aggressief gestileerde bakkie soos die Isuzu D-Max V-Cross. Die ATX is gegrond op die AT3-band met ʼn stewiger LT- (Light Truck-) konstruksie.

Die ATX is beskikbaar tussen 16 en 18″, 265 tot 285 mm, aspekverhoudings tussen 65 en 75 en twee spoedgraderings – R (170 km/h) en S (180 km/h).

Die AT3 is beskikbaar tussen 15 en 22″, 205 tot 275 mm, aspekverhoudings tussen 40 en 75 en spoedgraderings tussen S en V (180 tot 240 km/h). Die LT-weergawes van die AT3 is beskikbaar tussen 15 en 18″, 215 tot 285 mm, aspekverhoudings tussen 60 en 85 en ʼn S-spoedgradering (180 km/h).

Ek het twee baie interessante dinge by General Tire geleer tydens die bekendstelling. Eerstens, ʼn LT-band, of Light Truck (met ʼn Amerikaanse aksent) het ʼn baie sterker karkas, hoër gewigsgradering, meer lae in sy konstruksie en ʼn dieper loopvlakpatroon. Dus, uit die aard van die saak is dit ʼn baie sterker band wat meer bestand is teen gaatjies en lekplekke en langer sal hou te danke aan die dieper loopvlakpatroon.

Die tweede ding, waaroor ek nog bietjie navorsing doen en apart oor sal berig, is die feit dat die hele “vyf jaar lange raklewe” van bande ʼn klug is. General Tire het ʼn vyf jaar lange vervaardigingswaarborg, en hul riglyn is dat bande om en by tien jaar vervang word, na gelang van die toestand van die bande.

Ryan Visagie van General Tire sê: “Hedendaagse bande word van baie meer gevorderde materiale vervaardig as bande uit toentertyd. Indien die bande altyd aan die beste toestande blootgestel word, en reg geroteer word – is daar geen rede dat bande nie tien jaar kan hou nie, selfs langer!”

Ons roete neem ons van Oos-Londen deur Butterworth tot op Wavecrest. Die bande gedra hulle werklik mooi op teer … en grond. Plek-plek is dit egter beter om langs die pad op die grond te ry, dis gladder. Ná ons die banddruk afneem na 1,5 bar toe en wegbeweeg van die teerpad af begin mens werklik voel hoe bekwaam die bande is. Dis eintlik vreemd. Ons motorjoernaliste praat altyd van hoe bekwaam ʼn 4×4 is – en dit is partykeer waar, maar mens kan die beste 4×4-stelsels op aarde hê – as die bande nie die pyp kan rook nie, sal die bakkie ook nie die mas opkom nie.

Daar is plekke waar mens die Isuzu mooi in die spoor plaas, en die General Grabber ATX trap perfek. Dit is weinig dat ons enige onnodige wieltol gehad het, selfs op meer gevorderde hindernisse.

Tussen Wavecrest en Morganbaai begin die 4×4-hindernisse meer ernstig raak. Niks belaglik nie – maar lekker veilig. Dis op ʼn pont oor die Keimond waar dit my weer opval. Ons bly in ʼn asemrowende land. Daar is derduisende kilometers ongerepte kuslyn. Ons is bitter lief vir ons bakkies – en baie mense sit met vierwielaangedrewe voertuie. Asseblief, beplan ʼn reis eers nader aan die huis. Draai af op daai grondpad. Pak die kamera en gaan ontdek plekke en ervarings. Dit is ongelooflik dat ʼn voertuig mens toegang bied tot die mees asemrowende herinneringe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Manie ·

Ek ry al die afgelope 10 jaar Firestone Destination bande en is hoogs tevrede met die bande se werksverrigting, beide op teer en grondpaaie. Ek hou van die General Grabber se voorkoms, lyk aggressief.

Kirst ·

Ek het al drie stelle Firestone ATX gehad op voertuie, en almal het goed gehou. Dit word egter nie meer gemaak nie. Ek dink Bridgestone Dueler het dit vervang, en dis nie so hard soos die Firestone nie. Ek het twee jaar gelede ‘n stel van hulle gekoop, so ek weet nog nie hoe lank hulle gaan hou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.