Moderne fiets met klasieke styl  

Die oorspronkilike Kawasaki Z1

As daar nou een vervaardiger is wat my as skoolkind beïndruk het, dan is dit Kawasaki. Ek onthou fietse soos die Z1, die Z1300 met sy enorme 6-silinder enjin en later die GPZ 750 Turbo. Dit was innoverende fietse waaroor ek as skoolseun gedroom het. Toe ek my eerste motorfiets kon kies, moes dit ʼn Kawasaki wees. Dit was dalk stadiger as die ander fietse in sy klas, maar dit is wat ek wou ry. Die naam sal maar altyd ʼn spesiale bekoring vir my inhou.

Ek het onlangs die Z900-kaalfiets gery, maar as hierdie aggressiewe lyne jou nie aanstaan nie en jy verlang na fietse uit jou jong dae, dan het Kawasaki die antwoord – die Z900RS. Dit is egter nie ʼn nuwe fiets nie. Hierdie model het reeds in 2018 sy verskyning gemaak, en het vir 2023 geringe kosmetiese veranderinge ondergaan, wat ʼn nuwe verfskema insluit.

Die stilering van die RS laat geen twyfel dat Kawasaki sy inspirasie gekry het by die oorspronklike Z1 nie. Dit is byna ondenkbaar dat die RS die meeste van die meganiese komponente van die Z900 bevat. Die stilering en die kleinere detail is wat die RS steeds een van die beter retro-motorfietse maak. Die ronde hooflig met sy chroom afwerking, die groot brandstoftenk, en die dik saal sal enige persoon wat die oorspronklike Z1 onthou skoon nostalgies maak. Natuurlik is die hooflig nou ʼn LED-eenheid, en die tenk is so groot om die nuwe brandstofinspuiting te akkommodeer. Selfs die stiksels op die saal is soos dit was in die laat 1970’s.

(Foto: Brian Cheyne)

As jy mooi kyk, sal jy sien dat die bakpaneel waarop die Z900RS-naamplaat verskyn ʼn kurwe maak wat aansluit by die stiksels op die saal. Hierdie fiets is nie sommer een middag oor ʼn koffie bespreek en ontwerp nie. Daar is baie mooi gedink oor alles. Die een vlieg in die salf is egter die verkoeler. Kawasaki is bekend daarvoor dat hulle parte deel tussen modelle, maar ai, hulle kon sekerlik ʼn smaller verkoeler êrens gehad het. Hulle het probeer om dit met mooi aluminium afwerking te versier, maar dit pas net nie mooi by die algehele ontwerp nie.

(Foto: Brian Cheyne)

Die RS se saal is hoe ʼn saal moet wees. Plat en ferm. Dit maak dit baie gemaklik om rond te skuif en bied genoegsame ondersteuning op enige rit. Die brandstoftenk is dun waar dit die saal ontmoet, maar word gou breër nader aan die handvatsels. Die betrokke fiets wat ek gery het, het ʼn mooi donkerrooi kleur aan die kant en die verf is van hoë gehalte. Voor jou sit twee analoogwysers vir spoed en toere, met ʼn klein LCD-skerm in die middel vir al die ander inligting. Die meters kon net sowel oorskiet voorraad van 1970 gewees het. Die letters is net soos ek hulle onthou van die Z1.

Die Z1 was lugverkoel, maar die RS is natuurlik nie, anders sou hulle kon wegdoen met die onooglike verkoeler. Maar Kawasaki het dit tog goed gedink om verkoelingsvinne op die enjin na te maak. Die uitlaatpyp is ook ’n stukkie kuns, wat die vier pype in een verkorte demper uitspoeg.

Die Z900RS deel wel die 948cc-kragbron met die Z900, maar hy is effe makker gemaak om meer by die karakter van die RS te pas. Hy lewer 110 pk teenoor die Z900 se 123 pk. Die krag is egter op heelwat laer toere beskikbaar, wat beteken dat die RS goed wegtrek, maar gou uitasem raak. Maar die RS is nie vir spoed gebou nie, eerder vir styl. Boonop is daar genoeg woema in die enjin dat jy nie eers na ʼn laer rat hoef te skakel as jy ʼn voertuig wil verbygaan nie. Die vering is ook verstelbaar en dit maak die hantering van die RS uiters sekuur.

Die viersilinderenjin loop seepglad en die verkorte uitlaatpyp het ʼn baie mooi grom aan hom. Die ryposisie is regop, en selfs ʼn bietjie vooroor. Met sy chroom handvatsels en outydse instrumentasie kan ek my verbeel hoe dit moes gewees het om destyds ʼn Z1 te ry. Die Kawasaki-gene loop diep, en die RS is ʼn waardige opvolger vir die ikoniese Z1.

Die feite:

Enjin kapasiteit948 cc
Gewig ( Nat )215 kg
Kraglewering82 kW@8 500 rpm
Wringkrag98,5 Nm@6 500 rpm
Tenkkapasiteit17 ℓ
Saalhoogte835 mm
PrysR209 995

Klik hier vir die produkblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Harley Davidson ·

Ek het self ‘n kawa z1R gehad met die ” coffin” tank ek het hom 2 de hans gekoop oorspronklik aan Corki Balington behoort naas my harleys was dit die beste fiets wat ek ooit gehad het.

Burt ·

dink eerder die hoof-foto bo is ‘n KZ900? ek self het nog my Suzuki 550e ’84 model met net 16,000 km op-die-klok

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.