Motorkoopwenke vir vroue

Deur Eugenie Buys 

Om ʼn nuwe motor te koop, kan nogal ʼn angswekkende ervaring wees, veral vir my as ‘n vrou wat absoluut niks van karre, enjins, krukasse, vonkproppe en perdekrag weet nie. Wanneer jy vir my vra watter kar iemand ry, sal my antwoord gewoonlik wees: “’n Wit een”.

En so bevind ek myself in my huidige posisie, met ʼn motor van agt jaar oud, rentekoerse wat te hoog is en ʼn bankbalans wat te laag is. ʼn Motor is dalk nie noodwendig ʼn finansiële bate nie, maar dit is tog ʼn noodsaaklikheid en iets wat vir jou onafhanklikheid bied. As ʼn ma moet jy ook dink aan die veiligheid van jou kinders in die motor waarmee jy elke dag ry.

In vandag se tyd is dit nie net meer die man van die huis wat die motor-aankope doen nie. Dit is ook nie meer net mans wat motors verkoop nie en ek moet sê, ek was nogal dankbaar daarvoor. Dit is makliker om vir ʼn ander vrou te sê, “hoor hier, ek het geen idee wat ek doen nie”, as wat dit is om dit vir ʼn man te sê. So vir al die sterk, onafhanklike vroue daar buite wat ook binnekort hierdie spreekwoordelike perd moet opsaal, hier is my wenke:

  • Doen jou navorsing. Maak seker jy koop die regte motor vir jou behoeftes. Jy gaan nie twee karstoeltjies agter in ʼn tweedeur-sportnommertjie pas nie, maak nie saak hoe hard jy probeer nie. En ʼn massiewe 4×4 se maandelikse dieselrekening gaan beslis nie jou finansiële probleme oplos nie.
  • Wees eerlik met die verkoopspersoon by die handelaar. Of jy nou nuut of tweedehands koop, wees eerder van die begin af eerlik oor jou begroting en jou behoeftes. Dit help nie jy kyk na ʼn sportnutsvoertuig, maar jy moet noodgedwonge met jou drome in skerwe in ʼn luikrug van die vloer af ry nie.
  • Indien jy voor die tyd wil weet hoeveel jy maandeliks gaan betaal, is daar talle paaiement-sakrekenaars op die internet beskikbaar. Maak gebruik daarvan en maak jou somme, sodat jy kan onderhandel.

Kliek hier om jou eie som te maak.

  • Moenie skaam wees om iemand wat meer as jy weet se raad te vra, of selfs saam te bring wanneer jy jou motor koop, nie.
  • En hierdie een is baie belangrik: Toetsbestuur die motor wat jy wil koop! Hulle kan vir jou baie mooi dinge vertel van al die bybehore wat saam met die motor kom, maar uiteindelik is dit jy wat elke dag met hom moet ry en maak die gemak daarvan ʼn wesenlike verskil in jou alledaagse lewe.

My behoeftes was eenvoudig: Ek was op soek na ʼn klein, gemaklike karretjie, wat lig is op brandstof, maar waar die kattebak groot genoeg is dat ek nie die stootwaentjie se wiel hoef af te haal om hom te laat pas nie. En so in my soeke, kom ek af op die Suzuki Swift GLX wat elke liewe boksie afmerk. Hy ry sag en gemaklik, is lekker rats en klein, maar sy binnekant is ruim en daar is regtig meer as genoeg bybehore om ʼn mens se lewe gemaklik te maak op die pad. Amper alles word aan jou slimfoon gekoppel en basies al wat kortkom is dat hy nie vir jou kan koffie maak tydens jou rit nie (alhoewel hy meer as genoeg bêreplek het vir jou fles of wegneemkoffie).

Ek besef ʼn mens koop nou nie elke tweede dag ʼn nuwe motor nie, maar my hoop is dat wanneer jy dit in die toekoms moet doen, dat hierdie wenke jou ʼn bietjie meer gerustheid en ʼn bietjie meer selfvertroue sal gee tydens die proses. Mary Anderson het immers in 1903 al die ruitveër ontwerp en sedertdien het talle vroue ʼn merkwaardige teenwoordigheid in die motorwêreld gehad, so hoekom kan jy nie dan ook nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Veritas ·

Goeie artikel. Dink ook gerus aan herverkoopwaarde, prys van parte buite waarborg, die waarborg self, prys van dienste, kaping en diefstal risiko’s, versekering koste, veiligheids issues ens. Vra maar gerus vir hulp van enige een wat iets weet, nie net van iemand wat as ‘n sterk, onafhanklike vrou identifiseer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.