Motorverkope: Toyota, VW kraai koning   

Daar is in Mei sterk groei in plaaslike motorverkope aangeteken en uitvoere het ook skerp gestyg teenoor dieselfde tydperk verlede jaar.

Daar is in Mei ʼn 10%-groei in plaaslike verkope aangeteken en ʼn allemintige styging van 23% in uitvoere teenoor Mei 2022. Die plaaslike motorbedryf kon ʼn indrukwekkende 43 060 eenhede in Mei verkoop en 31 833 voertuie uitvoer.

Toyota het weer koning gekraai, gevolg deur Volkswagen, Suzuki, Hyundai en Ford. Die toptien word afgerond deur Nissan, Haval, Isuzu, Renault en Kia. In die volgende paar maande gaan ʼn interessante kragspel tussen Ford en Toyota ontwikkel rakende hul Ranger- en Hilux-modelle.

Toyota se Hilux was sy gewildste model terwyl die Polo Vivo Volkswagen se verkope opgestoot het. Die Polo Vivo was ook die gewildste passasiersvoertuig vir die maand en die Hilux die gewildste ligtehandelsvoertuig. .

Vyf van Suid-Afrika se sewe plaaslike handelsmerke wat in Suid-Afrika vervaardig word, voer elke maand groot getalle uit. Volkswagen het verlede maand 7 855 eenhede uitgevoer, gevolg deur Mercedes-Benz (7 567), Ford (6 274), Toyota (5 531) en BMW (3 300). Volkswagen bou die Polo, Mercedes-Benz die C-klas, Ford die Ranger, Toyota die Hilux en BMW die X3 vir uitvoermarkte wêreldwyd.

Gary McCraw, direkteur van die Nasionale Motorhandelaarsvereniging (Nada), is egter bekommerd oor of die sterk prestasie volgehou kan word weens talle uitdagings.

“Sekere handelaars het voor die rentekoersaankondiging op verkope gefokus om kliënte in staat te stel om voordeel uit laer koerse te trek. Hierdie aktiwiteit, vroeg in die maand, het beslis verkoopsvolumes gedurende Mei bevoordeel. Koopoorweging het egter nie verswak ná die koersverhoging nie, gedryf deur die voortdurende neiging na kleiner, meer bekostigbare voertuie.

“ ’n Bydraende faktor tot die beter as verwagte verkope is dat verskeie handelsmerke aansporings begin bied het om nuwe voertuigkopers aan te moedig. Dit is iets waarvan ons nog nie veel gesien het sedert die pandemie nie. Dit sal interessant wees om te sien of die pas volgehou kan word,” het McCraw gesê.

(Grafika: Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Grens ·

Toyota se Hilux is weer bo, dit wys jou dat betroubaarheid altyd bo bly.

Manie ·

Ek glo dat Isuzu die swak suspensie probleem reggestel het, want die ouer modelle was lief vir “ball joint” breek met gepaardgaande bakwerk skade aan die voorkant.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.