MV Agusta vestig hom weer in SA

(Foto: Brian Cheyne)

Vir die meeste mense is die Pierer Mobility Group (PMG) onbekend, maar hierdie maatskappy het heelparty groot name onder sy sambreel.

KTM is seker die bekendste, en dit sluit ook name soos Husqvarna en GasGas in. Die belangrikste deel van hierdie groep is die samewerkingsooreenkomste tussen die verskeie vervaardigers. So, byvoorbeeld, deel KTM se 890 Adventure en Husqvarna se Norden 901 die meeste van hul meganiese dele, maar Husqvarna het vrye teuels om sy eie, unieke ontwerp vir sy eie fietse te gebruik. Hy neem nie net ’n KTM en plak ’n Husqvarna-plakker op nie. So kon Husqvarna sy eie identiteit behou.

In ’n klein Italiaanse gehuggie met die naam Verghera, het ene graaf Domenico Agusta in 1945 begin om motorfietse te bou. Sy maatskappy het bekend gestaan as Meccanica Verghera Agusta. Die eerste twee woorde is later net afgekort na MV. In November 2022 het PMG ’n 25,1%-aandeel in die MV Agusta-groep bekom. Dit was ’n strategiese vennootskap tussen die twee maatskappye. PMG beheer nou aankope en die voorsieningsketting van MV Agusta. Dit stel MV Agusta in staat om sy produkte wêreldwyd te versprei deur PMG se handelaarsnetwerk. Gelukkig het hulle die ontwerp en stilering van MV Agusta se motorfietse vir die Italianers gelos, want kyk, hierdie mense weet hoe om ’n motorfiets te ontwerp. Soms wonder ek of MV Agusta se vertoonlokale nie eerder kunsgalerye genoem moet word nie.

In Suid-Afrika het onafhanklike invoerders MV Agusta-modelle ingevoer, en dit het veroorsaak dat onderdele en dienste nie heeltemal op standaard was nie. Hierdie ikoniese handelsmerk val nou egter onder die beheer van KTM Suid-Afrika, en die eerste volwaardige MV-handelaar is in die suide van Johannesburg by FAST KTM. Hulle het ’n toegewyde area net vir MV Agusta, en as jy enigsins ’n treffende motorfiets waardeer, gaan loer gerus in. Hulle het die hele MV Agusta-modelreeks beskikbaar, en met name soos “Brutale” en “Turismo Veloce” kan jy jouself net indink hoe die fietse moet lyk. Ek kan my verlustig in die detail op elke fiets.

FAST KTM beoog om later vanjaar ook ’n tak in Kaapstad te open, maar tyd sal leer hoe die handelsmerk posvat in Suid-Afrika. Die groot voordeel van hierdie vennootskap is dat daar nou fabrieksopgeleide tegnici regstaan om jou MV te versien, ongeag die ouderdom van die fiets. En, omdat alle aankope nou deur die Pierer-groep hanteer word, kan onderdele maklik bestel word deur dieselfde kanale as KTM en behoort daar nie lang wagtye te wees nie.

FAST KTM het tans twee demonstrasiemodelle beskikbaar as jy wil gaan uitvind of die fietse net so goed ry soos hulle lyk. As jy jou dus naby Johannesburg bevind, gaan maak gerus ’n draai by FAST KTM. Die MV’s is beslis die moeite werd.

Klik hier vir meer inligting.

(Foto: Brian Cheyne)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.