Daar is vier rolspelers in die sewesitplek- bakkiegebaseerde sportnutsvoertuig-segment. Dit is Toyota se Fortuner, Ford se Everest, Isuzu se MU-X en Mitsubishi se Pajero Sport. Ek het ʼn voëltjie hoor fluit dat Nissan ook oorweeg om hul Terra hierheen te bring.
Die markleier is beslis die Fortuner met die meeste verkope elke maand. Ek het nou tyd met almal deurgebring en elkeen het hul eie sterkpunte. Die Pajero Sport sʼn is die luukshede en Mitsubishi se puik Super Select II-vierwielaandrywingstelsel.
Die Pajero Sport se nuwe Exceed-spesifikasievlak bied al die luukshede met ʼn indrukwekkende 8”-raakskerminligtingstelsel met CarPlay en Android Auto. Daar is klimaatbeheer, spoedkontrole, elektries-verstelbare leersitplekke – de lot. Selfs ʼn elektriese kattebakdeur met sensors wat hom oopmaak as jy jou voet onder die buffer swaai met die sleutels in jou sak… slim.
Die Pajero Sport word aangedryf deur Mitsubishi se 2.4-viersilinderturbodiesel wat 133 kW en 430 Nm bied.
Dit klink dalk nie verstommend nie, maar dié enjin gepaard met Mitsubishi se 8-spoed- outomatiese ratkas werk puik. Verder word daai krag aan al vier wiele gestoot deur Mitsubishi se puik Super Select II 4WD-viertrekstelsel met ʼn agterste ewenaarslot. Die Mitsubishi is selfs lekker lig op brandstof indien mens dit rustig vat. Mitsubishi sê dat hy 8,1 ℓ/100 km kan handhaaf, en ek dink dit is heeltemal billik.
Op die pad toer die Pajero Sport heel lekker stil en sterk. Daar is soms windgeraas, maar dit is te verstane met die groot spieëls en hoë bakwerk.
Binne word die sewe insittendes veilig gehou met sewe lugsakke, ISOFIX-monteringspunte vir babastoeltjies, ABS, EBD, remhulp, vastrap- en stabiliteitsbeheer.
Ons gaan in Desember met die Pajero Sport sleep en probeer om ʼn 4×4-roete iewers naby Naboomspruit op te spoor om die Super Select II op die proef te gaan stel. Tot dán… as jy in die mark is vir ʼn sewesitplek-SNV, kyk gerus na die Pajero Sport.
Die reeks lyk só:
Mitsubishi Pajero Sport 2.4DI-D | 133 kW/430 Nm | 8,1 ℓ/100 km | R609 995 |
Mitsubishi Pajero Sport 2.4DI-D 4×4 | 133 kW/430 Nm | 8,1 ℓ/100 km | R659 995 |
Mitsubishi Pajero Sport 2.4DI-D 4×4 Exceed | 133 kW/430 Nm | 8,1 ℓ/100 km | R689 995 |
Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan.
Die kompetisie lyk só:
Ford Everest 2.0Bi-Turbo 4WD XLT | 157 kW/500 Nm | 7,6 ℓ/100 km | 4 jaar/120 000 km-waarborg 6 jaar/90 000 km-diensplan | R744 500 |
Toyota Fortuner 2.8 GD-6 4×4 Epic | 130 kW/450 Nm | 8,5 ℓ/100 km | 3 jaar/100 000 km-waarborg 9-dienste-diensplan | R743 600 |
Isuzu MU-X 3.0 4WD | 130 kW/380 Nm | 7,9 ℓ/100 km | 5 jaar/120 000 km-waarborg 5 jaar/90 000 km-diensplan | R712 200 |
In dié segment speel voorkeur ʼn groot rol. Die Pajero is ʼn ware winskoop – maar wees versigtig vir sy onderdele ná die waarborgtydperk.