ʼn Spiksplinternuwe doelgerigte ontdekkingsreisiger

In ʼn wêreld waar rekenmeesters oorheers en ʼn sakeplan eers goedgekeur word indien al die raadslede oortuig kan word dat daar honderde duisende items van ʼn sekere produk verkoop kan word, raak dit al hoe moeiliker vir visionêre om nuwe ondernemings te stig. Darem hoef miljardêr sir Jim Ratcliffe, grootkop by Ineos, nie iewers anders vir geld aan te klop nie.

Die storie is eintlik fantasties. Sir Jim en ʼn pel was uit vir ʼn bier in die Grenadier-kroeg in Londen en het die feit betreur dat daar nie ʼn doelgerigte voertuig is wat mens nuut kan koop om oorlandsreistogte mee aan te pak nie. Woorde in die rigting van: “Nou maar goed, kom ons bou ons eie een …” is geuiter, en die res – met meer as ʼn miljard pond – is geskiedenis.

Ratcliffe het ʼn paar voorwaardes gehad. Dit moet ʼn doelgerigte geenfoefies-voertuig wees. Mens moet hom self kan pasmaak met toerusting en bybehore na eie gelang én die voertuig moet uiters betroubaar wees.

Die enigste manier om die betroubaarheid met die eerste hou uit die veld te probeer slaan, is om na leiers in die bedryf te gaan vir onderdele. Daarom loop die Grenadier met BMW-enjins. Albei 3.0-inlynsessilinderturbo’s, een diesel en een petrol. Waarskynlik die beste ratkas op aarde tans is ZF se 8-spoed-outo … hy’s daar en die dryfstelsel kom van Magna af, almal kenners in hul veld.

Ons het verlede jaar die voorproduksiemodelle gesien in Kaapstad, en hoewel ek tóé beïndruk was, kon niks my voorberei vir die finale produk wat vir ons in Inverness, Skotland, voor die hotel gestaan en wag het nie.

Dit was my eerste keer in Skotland, en skielik was ek bly dat ons nie die vorige week daar was nie – want dit was toe 16 grade kouer, en dit was reeds nou deksels koud by nul grade. Die finale weergawe van die Ineos Grenadier staan voor die hotel – spierwit en werklik netjies.

Vroeg die volgende oggend vertrek ek en my rymaat. Darem ry die Skotte ook aan die linkerkant van die pad, aan die regterkant van die kar. Dit is vir my oombliklik opvallend hoe sag die Ineos ry. Hier is doodgewone kronkelvere – niks lugvering nie, dis té onbetroubaar. Soos die pad deur die platteland wandel, besef mens ook gou dat daar ook min bakrol is.

Die kajuit is pragtig en ruim. Die sitplekke is uiters gemaklik – nog ʼn item wat van die kenners af kom, Recaro is in 1906 gestig en maak deesdae van die gemaklikste motor- en vliegtuigsitplekke in die bedryf! Tussen die sitplekke is die eenvoudigste paneelbord wat ek al in ʼn geruime tyd teëgekom het. Daar is ʼn duidelike knoppie vir elke funksie, en dit is pragtig uitgelê. Nie ʼn kieslys in ʼn kieslys in ʼn kieslys op ʼn raakskerm waar mens nooit die regte knoppie kan vind nie. Ek hou daarvan.

Agter die stuur is die bestuursposisie vir twee minute vreemd, dan voel mens tuis. Die enjins reageer blitsig, en die ratkas weet altyd wat aangaan. Die geluid vanuit onder die enjinkap is lieflik, selfs in die diesel. Die dieselenjin bied 183 kW en 550 Nm, terwyl die petrolenjin 210 kW en 450 Nm bied. Die petrolweergawe is 1,3 sekondes vinniger tot 100 km/h teen 8,6 sekondes waar die diesel 9,9 sekondes neem, maar die diesel is vriendeliker by die brandstofpomp. Die diesel kan 10,5 ℓ/100 km handhaaf, en die petrol nader aan 14,4 ℓ/100 km.

Dis egter op die pad waar mens die Ineos se karakter begin identifiseer en vriendelik raak met hom. Die ritgehalte is puik, op die teer én in die veld of op ʼn tweespoorpad. Die fisieke aktiwiteit om die Ineos te bestuur gee vir mens ʼn soort satisfaksie. Alles is meganies. Daar is geen foefies en simpel versnellerkalibrasie wat wegtrek altyd ongelyk en stamperig maak nie. Já, aanvanklik is die stuur bietjie traag, maar mens is binne 10 km gewoond daaraan, presies soos Isuzu se D-Max. Darem is die terugvoer van die voorwiele af goed.

Sodra mens die teerpad verlaat en in die veld, woestyn of selfs meer gaan ry – dis waar mens die laaste gedeelte van die Ineos se karakter identifiseer. Dit is ʼn hardebaard 4×4-voertuig met ʼn laestrekratkas en drie ewenaarslotte! Ons het deur Loch Laggan gery, en in die koue was daar nie een modderspoor of bult wat die Ineos se kloue kon loskry nie. ʼn Leerraam-onderstel, twee soliede dryfasse, laestrekratkas en 3,5 ton se sleepkapasiteit … ʼn resep vir groot sukses.

Is daar enige foefies? As ek werklik hard moet dink, twee. Die eerste een is die klankstelsel. Ek sou graag bietjie sterker luidsprekers wou geniet. As mens in die truspieëltjie kyk, dan hinder die pilare van die agterdeure jou sig. Verder dink ek dat Ineos ʼn ses geslaan het met sy spiksplinternuwe doelgerigte ontdekkingsreisiger.

Ons sal ná sy plaaslike bekendstelling weer tyd met hom op eie bodem deurbring – en dán meer insig kan gee.

Die reeks lyk só:

Ineos GrenadierR1 513 100
Ineos Grenadier TrialmasterR1 630 560
Ineos Grenadier FieldmasterR1 630 560

Elke model is beskikbaar as ʼn vyfsitplek-stasiewa. Die diesel- en petrolweergawes is identies geprys.

Ons sal nader aan die plaaslike bekendstelling meer inligting gee oor waarborg en diensplanne vir die plaaslike mark, asook die bykomende pakkette wat beskikbaar is deur die handelaarnetwerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.