Nuwe beperkte weergawe Hilux bekendgestel

Toyota se Hilux kraai gereeld koning wanneer dit kom by maandelikse motorverkope in Suid-Afrika.

Suid-Afrikaners is lief vir hul bakkies en Toyota spog met ʼn reuse-markaandeel in die land. Om sy markaandeel teen die nuwe Ford Ranger te beskerm, het Toyota nou sy Raider-aanbieding ʼn bietjie opgekikker vir die res van 2023. Die nuwe beperkte weergawe-model dra die naam Raider X en gebruik die Raider as basis. ʼn Paar visuele opknappings later lyk die Raider X vir my nou baie na aan die GR-S‑model waaroor ek so mal is.

Die Raider X kry mooi tweekleurige 17”-sierwiele, bonkige swart aksente op die wielboë, ʼn chroom aksent op die sierrooster en ʼn swart rolstaaf met ʼn bakseiltjie.

Onder die kap sit Toyota se 2.4 GD-6‑viersilinderturbodieselenjin. Dié enjin bied 110 kW en 400 Nm. Die Raider X is beskikbaar in handrat en outo – albei met ʼn 6-spoed. Die Raider X spog met puik brandstofverbruik van 7,6 ℓ/100 km op die handrat en 7,7 ℓ/100 km op die outo.

Die binneruim spog met gemaklikhede soos lugreëling, elektriese vensters en ʼn raakskerminligtingstelsel wat Apple CarPlay en Android Auto bied, sowel as ʼn truratkamera. Om jou veilig te hou, is daar die gewone passiewe stelsels soos sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, vastrap‑ en stabiliteitsbeheer sowel as sleepwaswaaibeheer. Die Raider X is toegerus met ʼn viertrekstelsel met laestrek en ʼn ewenaarslot op die agteras.

Die Raider X prys só:

Toyota Hilux 2.4 GD-6 4×4 Raider X handratR674 800
Toyota Hilux 2.4 GD-6 4×4 Raider X outoR704 300

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en 9‑dienste-diensplan.

Die Raider X is reeds beskikbaar by al 220 Toyota-vertoonlokale landswyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Manie ·

Ek wonder of Toyota ooit ‘n kleiner (Corsa) tipe bakkie sal vervaardig, want dit sal ‘n wenner wees. Die kleiner bakkies word al hoe minder.

Brendon Staniforth ·

Dagsê Manie

Baie dankie vir jou kommentaar. Ongelukkig gaan dit vanaf Desember net erger raak met die NP200 wat opgeskort word. Dan het ons glad nie meer ‘n halfton bakkie in Suid-Afrika nie.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Brendon Staniforth ·

Dagsê Vonkprop

Baie dankie vir jou kommentaar. Ek’t ‘n maand terug vir Martina Biene, besturende direkteur by VW SA direk gevra. Nie in hierdie stadium nie. Daar is ‘n A0 voertuig wat in ons fabriek bygevoeg gaan word wat moontlik 2025 of 2026 aanlyn sal wees. Op daai platvorm is daar ‘n moontlike driekwartton bakkie, maar niks voor dán.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Vonkprop ·

Dankie Brendon. Sal maar duim vashou. Dit beteken wel die tweedehandse mark gaan nou blom met ouens wat klein bakkies opraap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.