Nuwe era breek aan vir AMG

(Foto: Verskaf)

Die mensdom is vreemd. Soms hou ons nie van verandering nie, al weet ons nie werklik waaroor ons kerm nie. Presies só is die geval met die Mercedes AMG se allernuutste GLC. Wag, dis nie die hele naam nie. Dit is ʼn Mercedes AMG GLC 63 S E-Performance. ʼn Mondvol, ek weet.

Die wêreld is aan die gons oor die feit dat AMG die fantasmagoriese V8 verwyder het. Almal huil oor die geluid en die krag nog voordat hulle agter die stuur ingeskuif het. Ongelukkig is AMG se hande wêreldwyd afgekap met politici se oorlog teen die binnebrandenjin. Mercedes-Benz Suid-Afrika het dit goed gedink om ʼn handvol motorjoernaliste oor te neem Spanje toe vir die eerste wêreldbekendstelling van die nuwe perd, sodat ons self kan besluit.

Met die eerste oogopslag is dit ʼn pure AMG. Werklik netjies met groot wielboë en ʼn lekker vet paar tekkies. Ek het spesifiek nie vooraf te veel navorsing gedoen oor die tjor nie, sodat ek die kar met ʼn oop kop benader, maar in die inligtingsessie begin my oë al groter rek. 500 kW en 1 020 Nm. Liewe heiland! 0 – 100 km/h neem net 3,.5 sekondes en hy sal aanhou draf tot 275 km/h, beweer hulle. Die wêreld se sterkste 2.0 viersilinderturbopetrolenjin bied 350 kW en 545 Nm terwyl ʼn elektriese motor 150 kW en 320 Nm bied.

Ons toetsroete is ongeveer 150 km van Barcelona na die Priorat-streek. Aanvanklik begin almal by die verkeerde deure inklim – die stuurwiel is links, en hier moet ons regs hou, links verbygaan en antikloksgewys om ʼn sirkel. Dít gaan interessant wees.

Aanvanklik, in Comfort-rymodus, is die GLC presies dit. Gemaklik soos enige ander Benz. Tjoepstil met ʼn puik ritgehalte. Ek moet ook net noem dat Spanje die beste paaie het wat ek al ooit op gery het. Daar is nie ʼn gaatjie of ʼn kreukel in 150 km nie. Dis werklik verstommend. Ná ʼn paar minute het my rymaat sy linkerhandstuur-voete gevind, en hy selekteer Sport. Oombliklik is dit asof die motor ʼn paar hardlooptekkies aangetrek het. Effens stiller, maar bitter vinnig. Ek sê vir Willem – gee bietjie Sport Plus.

In ʼn oogwink, met die draai van ʼn knoppie, verander die Merc in ʼn AMG. ʼn Lekker diep, harde enjingeluid met sy uitlaatpype wat skiet en klap as jy jou voet afhaal en ratte terugskakel. Die hardlooptekkies is nou vir ʼn paar spikes verruil, én wegspringblokke. Die versnelling begin nou amper absurd voel.

Gelukkig is dit gou my beurt agter die stuur. My linkerhandstuurskoene is hoeka nog in my tas ná ʼn besoek aan Frankryk twee weke gelede. Soos ek agter die stuur inskuif merk ek op hoe puik die sitplekke is. Dit bied fantastiese steun, én dit vertoon werklik sportief. Ek ry so 10 km in Comfort om myself te vind. Sport bied ʼn wesenlike trappie op van die hibriede stilte en gemak van Comfort. Indien ʼn mens dan ook rustig ry, laai die battery heel vinnig.

Ons kom om ʼn draai en daar lê ʼn penreguit stuk perfekte teer voor my. Ek kan myself nie inhou nie en selekteer Sport Plus terwyl ek my voet in die mat begrawe. Soos ʼn vuurpyl vlieg ons verby die 200 km/h-merk in sekondes. Ek weet nie hoe lyk ʼn Spaanse tronk nie – maar tussen die drie Suid-Afrikaners in die kar sal ons seker ʼn Cream-Soda en ʼn bietjie Nando’s kan bekostig? Die pad raak min op 265 km/h – en die AMG trek nog soos ʼn pyl uit ʼn boog. Al ses oë in die kar is amper so groot soos die 22”-wiele onder die kar. Manne, dié ding is dêm vinnig!

(Foto: Verskaf)

Ons trek af sodat die manne ʼn rokie kan maak (vir hul senuwees, soos tant Stienie altyd gesê het). Die ander Suid-Afrikaners trek ook af en ons kan nie uitgepraat raak oor die GLC nie. Een van die ander ouens op dié persbesoek is Sean Nurse. Ook ʼn voormalige GR-beker renjaer. Ek het al baie saam met Nurse gery en hy ken van die stokke vat. Na die rook-stop vat ons weer die pad. Dis nie meer ver nie. Na die tweede haarnaald sien ek ʼn bergpas voor my lê en drie spieëls met ʼn baie groot GLC 63 daarin, met Sean agter die stuur. Die twee van ons lê die volgende paar kilometer af asof dit ʼn renbaan is. Sommer gou begin my kop sukkel om te verstaan hoe 2 310 kg met een passasier (ons is drie mét bagasie) só kan versnel, rem en draai.

Na die bergpas word die paaie verskriklik nou. Eintlik geskik vir enkelrigtingverkeer, óf net vir Fiat 500’s of MINI’s. Daar lê ʼn pragtige dorpie voor ons en ons hou weer stil vir ʼn paar kiekies. Ek vra vir Sean – wat dink hy? Ons stem saam dat ons uitgeboul is oor hoe die manne by AMG dit reg gekry het om soveel gewig te kry om só op te tree. Die viersilinderenjin was nie eers genoem nie.

Ek dink toe, verbeel jou karre het nog met inlyn 8-silinders gery. Of lugverkoelde enjins. Of vliegtuie met daai enorme “radial”-enjins. Daar is in vandag se tyd fantastiese tegnologie beskikbaar. Dié GLC maak gebruik van vierwielstuur, baie slim elektroniese teenrolstawe, ʼn elektriese turboaanjaer wat turbotraagtheid heeltemal hok slaan – ag, en só hou die lysie aan.

My gevolgtrekking is eenvoudig: Die GLC 63 SE Performance se padhouvermoë herinner aan Porsche se Cayenne Turbo-GT, hoër prys is daar nie – en ʼn mens verlang eenvoudig glad nie na die V8 nie.

Ons sal weer tyd met die Mercedes-AMG GLC 63 S E-Performance deurbring met sy plaaslike bekendstelling en sal dán berig oor sy prys – en hoe die voertuig hom op ons paaie gedra. Ons verwag die motor vroeg in 2024 op eie bodem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.