Nuwe mededinger in kleinkapasiteit-motorfietsmark

Foto: Brian Cheyne

My swaer het altyd gesê: “Gemaak in China. Hanteer versigtig. Stoor in ’n koel, droë plek.” Alhoewel dit steeds die siening van die meeste mense is, is produkte uit China besig om drasties te verbeter. Een sodanige produk is die nuwe Voge 300 DS wat deur Southern African Motorcycles ingevoer word. Hulle is ook verantwoordelik vir fietse soos Big Boy, Gomoto en Jonway.

Die Voge‑modelle is egter nie net nog ’n generiese Chinese fiets met ’n Voge‑kenteken nie. Dit word deur Loncin vervaardig, wat ook die BMW C‑reeks bromponies vervaardig en die enjins vir die BMW F750‑ en F850 GS‑modelle verskaf. Dit behoort jou ’n idee te gee van die vertroue wat BMW in Loncin het.

Die 300 DS trek sterk op die nuwe Honda CB500 X wat later hierdie maand plaaslik bekend gestel word. Met die oranje aksente van die toetsmodel, was daar mense wat my gevra het of dit ’n KTM is.

Foto: Brian Cheyne

Die windskermpie lyk op die oog af of dit maklik verstelbaar is, maar jy gaan gereedskap nodig hê om dit te doen. Agter die skerm sit ’n klein vloeikristal instrumentepaneel met ’n swart agtergrond en wit syfers. Die kontras maak dit baie makliker om te lees, selfs in helder sonlig. Die DS is met ’n USB‑sok net onder die instrumente toegerus.

Die DS‑benaming van die Voge wil voorgee dat hierdie ’n dubbeldoel‑fiets is, maar soos met ander fietse in hierdie klas sal ek nie sommer ’n wilde vrotpad aandurf nie. Die Voge het wel 17”‑bande voor en agter en ruim reik op die vering, so ’n goeie grondpad behoort nie ’n probleem te wees vir hierdie buksie nie.

Foto: Brian Cheyne

Die saal is uiters gemaklik, maar voel tog asof dit afdraande loop vorentoe. Die handvatsels is breed en die afwerking van die skakelaars is goed. Trouens, ek was beïndruk met die algehele bougehalte van die klein Voge. Agter op die fiets is selfs ’n stewige raam vir bagasie. Alles aan die fiets voel stewig en goed afgewerk.

Die enjin is ’n 292 cc‑enkelsilindereenheid met brandstofinspuiting. Dit lewer 21 kW teen 8 500 rpm, maar bereik sy maksimum wringkrag van 25 Nm alreeds op 7 000 rpm. Dit is genoeg om die Voge tot naby aan 140 km/h te bring, maar hy is op sy gemaklikste op 120 km/h. Die toetseenheid het skaars 500 km afgelê en ek het verwag dat die ratskakelings stram gaan wees, maar dit was glad en moeiteloos. Die enjin het ’n gesonde brul en die fiets trek met ywer. Van waar ek die fiets gaan haal het, was daar ’n kort stukkie stadsverkeer, en daarna het ek op die snelweg geklim. Om by te bly by die verkeer was geen probleem nie.

Foto: Brian Cheyne

Die naweek het ek sommer net in ’n rigting gery, en met grondvryhoogte van 190 mm kan jy afdraai op ’n voetpadjie en kyk waar jy eindig. Die breë handvatsels is ook hoog genoeg dat jy gemaklik kan staan op die fiets. Ek het in Rayton gou iets geëet en toe ter wille van volledigheid met ’n lang stuk grondpad huis toe gery. Die Voge 300 DS het sy naam gestand gedoen en was tuis op teer en stof. Vir daardie ryers wat kla dat fietse se sluitwering nie kan afsit as jy jouself op grond bevind nie, het ek ’n tikkie goeie nuus: Die 300 DS het nie sluitwering nie. Vir die res van ons kan dit problematies wees as ons daarop vertrou. Een ander klein item wat my pla, is dat die systaander nie die enjin sny as jy hom uitskop nie. Dit kan jou in die verleentheid stel as jy net wegtrek en omval.

Foto: Brian Cheyne

As ’n pendelfiets het die Voge uiters goed gevaar. In die kort rukkie wat ek hom gehad het, was my verbruik selde onder 30 km/l. In geen stadium het ek gevoel asof iets gaan breek of afval nie. Fietse soos die Voge 300 doen goeie baanbrekerswerk vir Chinese fietse. Selfs sy 7 500 km‑diensintervalle is beter as ander kleinkapasiteit‑fietse.

So as jy in die mark is vir ’n aantreklike pendelfiets en die gebrek aan sluitwering sit jou nie af nie, gaan loer gerus in en vat een vir ’n toetsrit. As jy egter meer avontuurlustig is, het hulle ook ’n Rally‑weergawe wat op pad is, en ek sien heelhartig uit na hom.

Die feite:

Enjinkapasiteit292 cc-enkelsilinder
Gewig (Droog)155 kg
Kraglewering21 kW @ 8 500 rpm
Wringkrag25 Nm @ 7 000 rpm
Tenkkapasiteit16 l
Saalhoogte810 mm
PrysR62 999
Waarborg3 jaar/20 000 km
DiensintervalInloopdiens: 1 000 km/3 maande
Diens: 7 500 km/6 maande

Klik hier vir die produkteblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.