Peugeot se 3008 kry lyf

Dit is altyd lekker as ʼn vervaardiger goed aan die gang is met hul produkte. Dit maak ʼn mens opgewonde oor wat tans beskikbaar is en wat in die nabye toekoms op pad is. Een van hierdie vervaardigers is Peugeot.

Daar was die afgelope ruk enorme verwikkelinge en Peugeot Suid-Afrika is nou ʼn volfiliaal van Stellantis – ʼn internasionale groep betrokke by verskeie handelsmerke en met byna 400 000 werknemers in diens.

Hul nuutste opknapping in die reeks is op die 3008. Dit is Peugeot se C-segment-sportnutsvoertuig. Die C-sportnutssegment maak 11% van die totale passasiervoertuigmark in Suid-Afrika uit. Enige vervaardiger wil sy stukkie van die koek in die segment hê.

Peugeot is veral tans aan die brand as dit kom by ontwerp. Hul hele reeks sportnutse – van die 2008 tot die 5008, waaronder die 3008 – is werklik pragtige voertuie. Die 3008 kry nou weer sy embleempie voor op die kap, soos alle Peugeots destyds.

Peugeot het nou ook hul nuwe embleem en handelsmerk gewys… dit is werklik modern en mooi.

Daar is drie modelle in die 3008-reeks. Al drie voertuie maak gebruik van dieselfde 1.6-viersilinderturbopetrolenjin en ʼn outomatiese ratkas. Die enjin bied 121 kW en 240 Nm. Van 0 tot 100 km/h neem ʼn ratse 8,9 sekondes en ʼn mens kan 7 l/100 km haal op die gekombineerde siklus.

Die drie spesifikasies is Active, Allure en GT. Die reeksleidende GT kry pragtige 19”-sierwiele en Nappa-leer. Een van die opvallendste eienskappe van ʼn moderne Peugeot is die fantastiese materiale en bougehalte aan die binneruim.

Die kajuit is uiters gemaklik en alles is ergonomies uitgelê. Die GT-model kry ʼn fantastiese 12.3”- digitale instrumentskerm. Die inligtingstelsel is met Apple CarPlay en Android Auto toegerus – albei funksies wat effens makliker is om baas te raak as Peugeot se eie sagteware. Ek pik nou wel op die Peugeot want ʼn eienaar sal vinnig die stelsel baasraak en dan gewoond wees waar alles aan- en afskakel.

Op die pad is die Peugeot 3008 voorwaar ʼn luukse ervaring – van die puik binneruim tot die lekker sterk enjin en die gladde ratkas. Die kajuit is stil en die vering soepel. Die 3008 is ʼn pragtige produk en is mededingend in sy segment geprys.

Die reeks lyk só:

Peugeot 3008 ActiveR514 900
Peugeot3008 AllureR574 900
Peugeot 3008 GTR644 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km-diensplan en -waarborg.

Ons sal weer tyd met die 3008 op die platorand deurbring en sien hoe hy hom dan in die daaglikse roetine en die verkeer gedra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

ouMo ·

Pragtige motor. Beter opsie as die mededingers met hul opgepofte pryse (bv Volkswagen)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.