Polo pas álmal

 

(Foto: Mpumelelo Macu)

Ons was onlangs in die Oos-Kaap om opnuut die hele reeks Polo-voertuie onder hande te neem. Die Polo-naamplaatjie is gʼn vreemdeling vir Suid-Afrikaners nie; dit was in die verlede gereeld ons topverkoper in die passasiervoertuigsegment.

Dit bly vir my ʼn raaisel hoekom sedanmotors besig is om uit te sterf. Vat ʼn luikrug, kompak uit die B-segment of iets groters uit die C-segment, gee dit ʼn enorme kattebak – en siedaar …

Maar niemand koop meer die goed nie.

Almal wil ʼn (minder praktiese) sportnutsvoertuig (SNV) hê. Ek stem dat veral Gauteng se paaie tans in ʼn afgryslike toestand is, maar daarvoor het mens eerder sterker bande nodig, nie ʼn SNV nie.

(Foto: Mpumelelo Macu)

Die Polo-sedan kom uit Indië en daarmee saam ongelukkig ook ʼn ligte binneruim. Gelukkig het Volkswagen nou vir ons donker bekleedsel op die sitplekke laat sit. Onder die kap sit ʼn atmosferiese 1.6-viersilinderpetrolenjin. Bó op die platorand kan die outo aanvanklik bietjie lig in die broek voel, maar jy raak hom vinnig gewoond en dan loop alles klopdisselboom. Die enjin bied 81 kW en 152 Nm. Die handrat is ʼn 5-spoed en die outo ʼn 6-spoed.

Die Polo Vivo is trots Suid-Afrikaans en word op tuisbodem vervaardig by Volkswagen se aanleg in Kariega. Dit is Volkswagen se stokou resep van die CITI Golf. Vat die uitgaande model, kry sy onderdele plaaslik vervaardig teen ʼn beter prys en stel die motor bekend onder ʼn ander naam teen ʼn winskoop.

Só het hulle die CITI Golf vir dekades aan die gang gehou en daarna die Polo Vivo.

Die nuutste Vivo is werklik ʼn aantreklike outjie en bied goeie waarde. Die Vivo GT spog met ʼn 1.0-driesilinderturbo-enjin wat 81 kW en 200 Nm bied. Die GT maak gebruik van ʼn puik 6-spoed-handrat.

Die Polo is ʼn ware juweel. Ons VW-fabriek hier in Kariega bou Polo vir groot markte wêreldwyd. Polo GTI word slegs hier in Suid-Afrika vervaardig. Dit is ʼn groot pluimpie vir Volkswagen in SA en hul bougehalte.

Die nuutste Polo ry soos ʼn droom. ʼn 1.0-driesilinderturbopetrolenjin wat 70 kW en 175 Nm bied deur ʼn 5-spoed-handrat ry heerlik. Dié Polo is een van die min kompakte luikrugmotors wat werklik nie klein voel nie. Die Polo troos jou agter die stuur en voel soos ʼn ware luukse motor.

My opsomming is soos volg: ongeag jou behoeftes, Volkswagen het ʼn Polo wat sal pas. Die sedan en Vivo is bekostigbaar en een kom met ʼn enorme kattebak. Die volvet-Polo is luuks en die GTI is ʼn vuurvreter van formaat.

Indien jy in die mark is vir ʼn B-luikrug of sedan, gaan loer beslis na die Polo; dit is nie verniet gereeld Suid-Afrika se gewildste passasiermotor nie.

Die Polo-reekse lyk só:

Vivo:

Volkswagen Polo Vivo 1.4 Trendline55 kW/130 Nm5.7 l/100 kmR248 500
Volkswagen Polo Vivo 1.4 Comfortline63 kW/132 Nm5.9 l/100 kmR269 600
Volkswagen Polo Vivo 1.6 Comfortline outo77 kW/153 Nm6.1 l/100 kmR299 600
Volkswagen Polo Vivo 1.6 Highline77 kW/153 Nm6.2 l/100 kmR299 600
Volkswagen Polo Vivo 1.0TSI GT81 kW/200 Nm4.6 l/100 kmR336 100

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/120 000 km-waarborg. Die diensplan is opsioneel.

 

Sedan:

Volkswagen Polo sedan 1.681 kW/152 Nm6.2 l/100 kmR340 700
Volkswagen Polo sedan 1.6 Life81 kW/152 Nm6.2 l/100 kmR369 900
Volkswagen Polo sedan 1.6 Life outo81 kW/152 Nm6.5 l/100 kmR391 200

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/120 000 km-waarborg en 3 jaar/45 000 km-diensplan.

 

Polo:

Volkswagen Polo 1.0 TSI 70kW70 kW/175 Nm5.3 l/100 kmR337 700
Volkswagen Polo 1.0 TSI 70kW Life70 kW/175 Nm5.3 l/100 kmR379 200
Volkswagen Polo 1.0 TSI 85kW Life outo85 kW/200 Nm5.4 l/100 kmR401 500
Volkswagen Polo 1.0 TSI 85kW R-Line outo85 kW/200 Nm5.4 l/100 kmR450 000
Volkswagen Polo GTI147 kW/320 Nm6.4 l/100 kmR527 700

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/120 000 km-waarborg en 3 jaar/450 000 km-diensplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Koos 100 ·

Brendon, die antwoord op jou vraag oor hoekom sedan motors uitsterf, is die antwoord baie maklik in 3 redes:
1. Vir die prys van ‘n POLO kan ek ‘n (bitter) goeie chinese SUV (o.a. Cherry) koop.
2. Almal koop deesdae SUV’s, so in verkeer voel jy in ‘n sedan bietjie gedomineer.
3. Motor maatskappye moet ook maar deel van die blaam dra. Daar is seker 5 advertensies in die media vir ‘n SUV teen sowat 1 vir ‘n sedan. Hulle adverteer SUV as ‘n leef of lewens styl en dit verkoop.

Morné ·

Polo! dit is net n 40/80 motor hier in die Kaap. Kan net 40km/h in die dorp ry en net 80km/h op die snelweg. Sien dit elke dag! Hehehehe

Vonkprop ·

Ek ry ‘n 2019 Hyundai Elantra en sal daardie kar se spasie, krag, gerief en petrolverbruik vir geen SUV verruil nie. Ek belê eerder in beter bande en beplan my roetes beter. Al my vrinne met hulle SUV karre het maar net nie die kattebak spasie wat ek het nie en dan slaan hulle altyd hulle sitplekke plat om ‘n punt te bewys dan vra ek maar net hoekom het hulle ‘n 7-seater gekoop maar moet die heeltyd sitplekke platslaan vir spasie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.