Porsche, Audi en Mitsubishi stel nuwe modelle bekend

Mitsubishi

Mitsubishi het sy Eclipse Cross opgeknap en die nuwe model is 140 mm langer as sy voorganger. Nuwe funksionaliteit op die Eclipse Cross is elektries verstelbare spieëltjies wat self toevou, outomatiese LED-hoofligte, dagligte, misligte, outomatiese ruitveërs, parkeersensors voor en agter en 18”-wiele.

Die langer bakwerk gee ʼn groter kattebak. Daar is ʼn nuwe inligtingstelsel met CarPlay, Android Auto en Mitsubishi Power-klankstelsel. Daar is luggate vir die agterste passasiers, elektries-verstelbare en verhitte voorsitplekke. Dieselfde twee enjins is beskikbaar, ʼn 1.5-viersilinderturbopetrol met 110 kW en 250 Nm of die atmosferiese 2.0-viersilinderpetrolenjin wat 110 kW en 198 Nm bied. Albei enjins maak gebruik van Mitsubishi se palwisseltransmissie.

Ons sal binnekort ʼn beurt kry om met die Eclipse Cross te ry, maar tot dan lyk die reeks só:

Mitsubishi Eclipse Cross 2.0 GLSR459 995
Mitsubishi Eclipse Cross 1.5T GLSR499 995

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan.

Audi

Audi het oor die afgelope twee dekades groot sukses behaal met hul A3-produk. Ons het eers die tweedeur gehad, toe die Sportback, ʼn afslaandak en toe die sedan. Audi het al meer as 63 000 eenhede in Suid-Afrika verkoop.

Die nuwe A3 het aantreklike stilering en ʼn sterk nuwe inligtingstelsel met tien keer die rekenaarkrag. Die nuwe stelsel het Audi Connect wat permanent aan die internet gekoppel is vir aanlyn dienste soos intydse verkeersinligting.

Daar is twee enjinopsies. Die 35TFSI word aangedryf deur ʼn 110 kW 1.4-viersilinderturbopetrolenjin. Dié enjin is gekoppel aan ʼn 8-spoed-outo. Die 40TFSI word aangedryf deur ʼn 2.0-viersilinderturbopetrolenjin met 140 kW. Dié enjin is gekoppel aan ʼn 7-spoed-dubbelkoppelaar‑ outomatiese ratkas. Die S3 model word deur ʼn 2.0-viersilinderturbopetrolenjin aangedryf en bied ʼn fantastiese 213 kW en 400 Nm.

Daar is vier verskillende pakkette beskikbaar: Upgrade, Technology, Sports en S-Line. Dié pakkette sluit verskeie opknappings en ekstras in. Ons sal binnekort die A3 onder hande kry, en sal dan meer inligting kan gee oor hoe hy ry.

Die reeks lyk só:

Audi A3 Sportback 35 TFSIR561 000
Audi A3 Sedan 35 TFSIR576 000
Audi A3 Sportback 35 TFSI AdvancedR586 000
Audi A3 Sedan 35 TFSI AdvancedR601 000
Audi A3 Sportback 35 TFSI S-LineR601 000
Audi A3 Sedan 35 TFSI S-LineR616 000
Audi A3 Sportback 40 TFSI S-LineR641 000
Audi A3 Sedan 40 TFSI S-LineR656 000
Audi S3 Sportback TFSI QuattroR795 000
Audi S3 Sedan TFSI QuattroR810 000

Die reeks word gedek deur ʼn 1 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan.

Porsche

Porsche het pas sy sportiefste Macan bekendgestel – die Macan GTS. Met verskeie Porsche-modelle is die GTS gereeld my gunsteling. Dit is beslis die geval met die 911‑ en die Cayenne GTS-modelle wat ek al gery het. Dit vind die perfekte balans tussen werkverrigting en gebruikersvriendelikheid sowel as gemak om daagliks gebruik te word.

Die Macan GTS word aangedryf deur ʼn 2.9 V6 met twee turbo’s. Die enjin bied 324 kW. Van 0-100 km/h neem 4,3 sekondes en hy sal aanhou snol tot 272 km/h. Dis fantasties! Om dinge veilig en op die pad te hou, kry die GTS nuwe lugvering met al die nuutste en beste veiligheidstelsels. Porsche het sopas begin bestellings neem vir dié nuwe Macan. Ons sal vroeg in 2022 ʼn beurt kry om met hom te ry.

Die reeks lyk só:

Porsche MacanR1 050 000
Porsche Macan SR1 271 000
Porsche Macan GTSR1 551 000

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 3 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos ·

Wow!!…. ‘n hele 140mm langer, nou kan ek helfte meer inlaai as vantevore. Ag nonsens man. En daarby die belaglike pryse, ek is definitief in die vorige eeu gebore! Waarmee gaan die mense aftree wat sulke duur karre koop? By hulle kinders bly en kleinkinders oppas op jou oudag? Good luck with that, geniet die orgasmiese gevoel van jou nuwe pocket rocket want die finansiële dae gaan binnekort aanbreek waarvan jy sal sê “ek het daarin geen meer behae nie”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.