Renault se Kiger kombineer billik met luuks

Renault se Kiger is ‘n behoorlike, billike sportnutsvoertuig. (Foto: Renault)

Die Franse motorbedryf, veral Renault, het oor die afgelope paar jaar na die partytjie toe gekom en die Kiger tel onder die eregaste, gegewe vir wat jy vir sy prysklas kry.

Die persepsie dat ʼn Renault ʼn duur en moeilike kar is om te onderhou word deesdae deur hul uitstekende diensplanne en waarborge die nek ingeslaan.

Renault kom al ʼn lang pad saam met ons en is in 1899 gestig. In 2017 het die Renault–Nissan–Mitsubishi-alliansie die wêreld se meeste ligte voertuie verkoop, met 10,6 miljoen eenhede. Dit is meer as een uit elke nege voertuie wêreldwyd, waarvan Renault 3 761 634 eenhede verkoop het. In 2020, met die wêreldwye afname in motorverkope, kon Renault darem 2 949 849 eenhede verkoop.

Die Kiger se stomp neus se kurwes sit net op die regte plekke. (Foto: Renault)

Die aandelestruktuur van die alliansie is, net soos in enige multi-nasionale maatskappy, ingewikkeld, maar in eenvoudige terme is Renault tans in die beherende posisie met 43,4% aandele in Nissan, hoewel Nissan in 2017 soveel as 5 816 278 eenhede, en verlede jaar 4,052 miljoen verkoop het.

Hoewel jy die nuwe Kiger, wat vanjaar bekendgestel is, se basismodel, die Life, vir minder as R200 000 kan bekom, stel die Maroela Media-span voor dat jy eerder die Zen, of die topklas Zen AMT vir ʼn toetsrit neem. Ons kon die Zen AMT vir ʼn ruk onder “gesinsomstandighede” toetsbestuur.

Die Kiger se kajuit is besonders luuks vir ‘n goedkoper voertuig. (Foto: Renault)

Vir ʼn middelklas-gesin van vier sal die Kiger die aangewese voertuig wees om in te belê, want met ʼn uitstekende diensplan en verskeie waarborge sal daar nie maklik enige verskuilde koste wees wat in hierdie taai ekonomiese tye kan opduik nie.

Boonop word dit as ʼn sportnutsvoertuig gereken en sy nuwe ontwerp, veral met die macho stomp neus, laat hy mans en vroue se koppe draai en natuurlik baie belangrik, hoewel geen voertuig slaggatbestand is nie, kan jy met sy grondvryhoogte van 205 mm met ʼn meer geruste hart ons land se paaie aandurf.

Jy kan jou slimfoon maklik aan die oudiovisuele stelsel koppel. (Foto: Renault)

Die ses treffende kleure om van te kies is Kaspiese blou, uitstraalrooi, maanlig silwer, yskoue wit, mahoniebruin en planeetgrys.

Renault het reeds in hulle vorige modelle met kleurskemas op die paneelskerm, wat ten volle digitaal is, begin eksperimenteer en dit werk goed. Daar is sewe kleurtemas “skins” om van te kies en wie weet, dit mag dalk net jou bloumaandag-gemoed in iets beters verander.

Daarbenewens verkleur die paneelbord na groen, rooi en blou as dit onderskeidelik in eko-,sport-, en normaal-mode, met ʼn lekker groot knop, op die kantkonsole gestel word. In die eko-modus wys die revolusie-meter ook mooi tussen hoeveel omwentelinge die enjin gehou moet word.

Met ‘n druk of ‘n draai kan daar tussen eko-, sport- en normaal-mode gekies word. (Foto: Renault)

Die oudiovisuele stelsel, met sy agtduim raakskerm is prakties uiteengesit en verstaanbaar. Die luidsprekers se klank is helder en “skoon”. Jy kan jou slimfoon vir veiligheid wegberê en deur middel van die Apple Carplay of Android Auto aan die stelsel koppel.

Vir ʼn voertuig korter as vier meter is die 405 liter bagasieruim heel gaaf en kan jy ʼn paar tasse vir die naweek se weggaan inpak. As jy die agterste sitplekke afslaan, sal die 879 liter genoeg wees sodat ma die Kersbonus in een inkopierit kan uitgee.

Vir ‘n korter motor bied die bagasieruim heelwat pakplek. (Foto: Renault)

Klein kindertjies het ʼn manier om oral binne ʼn kar te wil rondklouter, hopelik voor en nadat die voertuig in beweging is. Wees egter versigtig dat hulle nie op die konsole tussen die voorste sitplekke trap nie. Hoewel die oproldeurtjie ʼn oulike idee is, kan dit meegee na ʼn paar jaar se impak onder klein voetjies.

Die oproldeur om toegang na die konsole tussen die twee voorste sitplekke te verleen, is ‘n oulike konsep. (Foto: Renault)

ʼn Belangrike deel van ʼn middelklas-gesin se kultuur is ʼn uitstappie na McDonald’s. Dit is egter baie moeilik om die koeldrankbekers, veral die ekstra-grotes êrens in die kajuit op ʼn veilige plek te sit, want die houers in die deure lê skuins en binne in die middelste konsole kan dit rondskuif. Daar is ook nie ʼn veilige plek vir ʼn groot waterbottel nie.

Die Kiger bied twee enjin-tipes, ʼn atmosferiese eenliter (52 kW), of ʼn eenliter turbo (74 kW). Die atmosferiese weergawe kom met ʼn handratkas, of ʼn outomatiese AMT-ratkas wat gekombineer word, en die turbomodel met ʼn handratkas of X-tronic CVT. Die brandstofverbruik-gemiddeld wissel tussen 4,5 ℓ en 4,6 ℓ op die oop pad en 5,8 ℓ en 6,8 ℓ in die stad.

Die outomatiese ratkas het my ʼn paar keer laat sweet omdat dit ʼn rapsie te lank vat om in te skop as ek in spitstyd vinnig voor aankomende verkeer in ʼn systraat moet indraai.

Die reeks lyk só:

Renault Kiger Life 1,052 kW/ 96 Nm5,3 ℓ/ 100 kmR199 900
Renault Kiger Zen 1,052 kW/ 96 Nm5,3 ℓ/ 100 kmR214 900
Renault Kiger Zen 1,0 AMT52 kW/ 96 Nm5,2 ℓ/ 100 kmR224 900
Renault Kiger Zen 1,0T74 kW/ 160 Nm5 ℓ/ 100 kmR254 900
Renault Kiger Intens 1,0T74 kW/ 160 Nm5 ℓ/ 100 kmR274 900
Renault Kiger Intens 1,0T CVT74 kW/ 160 Nm5,4 ℓ/ 100 kmR294 900

Die hele reeks word deur ʼn 5 jaar/ 150 000 km waarborg gedek. Die atmosferiese weergawes kry ʼn 2 jaar/ 30 000 km diensplan en die turbo weergawes 3 jaar/ 45 000 km.

Die kompetisie lyk só:

Suzuki Vitara Brezza 1,5 GL77 kW/ 138 Nm6,2 ℓ/ 100 km5 jaar/ 200 000 km waarborg

4 jaar/ 60 000 km diensplan

R248 900
Hyundai Venue 1,2 Motion61 kW/ 115 Nm6,5 ℓ/ 100 km5 jaar/ 150 000 km voertuigwaarborg

7 jaar/ 200 000 km dryfstelselwaarborg

3 jaar/ 45 000 km diensplan

R259 900
Nissan Magnite 1,0 Turbo Acenta74 kW/ 160 Nm5,3 ℓ/ 100 km6 jaar/ 150 000 km waarborg

3 jaar/ 30 000 km diensplan

R269 800
Chery Tiggo 4 Pro 1,5 Urban81 kW/ 138 Nm?5 jaar/ 150 000 km voertuigwaarborg

10 jaar/ 1 000 000 km enjinwaarborg vir eerste eienaar

5 jaar/ 60 000 km diensplan

R269 900
Kia Sonet 1,5 LX85 kW/ 144 Nm7 ℓ/ 100 km5 jaar/ onbeperkte km waarborg 4 jaar/ 60 000 km diensplanR275 995
Toyota Urban Cruiser 1,5 XS77 kW/ 138 Nm6,2 ℓ/ 100 km­3 jaar/ 100 000 km waarborg

3 dienste diensplan

R277 300
Citroën C3 1,2 Feel60 kW/ 118 Nm5,7 ℓ/ 100 km5 jaar/ 100 000 km waarborg

3 jaar/ 60 000 km diensplan

R279 900

Hier is klomp mededingers, gaan toetsbestuur almal. Van die handelsmerke gaan ‘n beter ervaring bied en een van die voertuie gaan lekkerder ry as die ander – dis jou wenner!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.