Rocket 3 maak grendeltyd draagliker  

Die Triumph Rocket 3. (Foto: Brian Cheyne)

My jaar het nie goed begin nie. Eers het ek twee weke in die hospitaal deurgebring met ’n gebarste blindederm, toe breek ek my hand in ’n onderonsie met ’n kar se deur. Ek was nog besig om te herstel, toe begin die president ’n toespraak met “My fellow South Africans”.

Met die verslapping van die inperkingsmaatreëls kon die media weer motorfietse kry om te toets. My heel eerste oproep was na Triumph om die nuwe Rocket 3 te bestuur. Ek kon kies tussen die twee modelle wat beskikbaar is, die R en die GT. Die R is die sportiewe een en die GT is die rustige toerweergawe. Ek het gevra vir die GT.

Die Triumph Rocket 3. (Foto: Brian Cheyne)

Die Rocket 3 het die grootste enjin van enige produksiemotorfiets. Dit is selfs groter as die intreevlak Toyota Hilux. Die 2 500 cc, drie-silinder enjin is in-lyn monteer in ’n baie kompakte raam. Aandrywing geskied deur ’n dryfas, want ek dink nie daar bestaan ’n ketting wat hierdie enjin se wringkrag sal oorleef nie.

Die Rocket, sy groot kragbron ten spyt, is ’n baie lae fiets. Die saal is maar net 773 mm van die grond af op die R en 750 mm op die GT. Die fiets is egter breed. Om dit ten volle te waardeer, hoef jy net agter die 240 mm agterwiel te gaan staan.

Die Triumph Rocket 3. (Foto: Brian Cheyne)

Dit is ’n baie groot stuk rubber en vandaar vloei die lyne voorente na ’n breë brandstoftenk. Ek was verbaas om te verneem dat hierdie tenk net 18 liter brandstof hou. Hy vertoon baie groter. Die nuwe Rocket 3 is ’n allemintige 40 kg ligter as sy voorganger, so ’n kleiner brandstoftenk en meer aluminiumkomponente help seker om gewig te bespaar.

Soos dit maar is met Triumph-motorfietse is daar ongelooflik baie detail om in te neem en die Rocket stel nie teleur nie. Voorlangs het die nuwe Rocket ook twee hoofligte soos die vorige model, maar hulle is meer moderne LED-eenhede.

Die Triumph Rocket 3. (Foto: Brian Cheyne)

Die instrumentpaneel is oorgeneem van die Scrambler en vertoon goed op die Rocket. Die uitlaatpype is kunswerke en herinner ook aan dié van die vorige Rocket. Die passasier se voetrusse vou netjies weg as hulle nie in gebruik is nie. Selfs die raamwerk waaraan die twee kanttasse hang, vou op as die tasse af is. Die Rocket is ongelooflik goed uitgedink en ek haal my hoed af vir die ingenieurs van Triumph dat hulle hierdie fiets ’n werklikheid kon maak.

Die fiets is groot, amper intimiderend. Gooi jy egter ’n been oor en sak in die luukse saal in, verdwyn al die vrese. Die fiets is ongelooflik goed gebalanseerd. Die handvatsels van die GT komplimenteer die voetkontroles wat vorentoe monteer is. Die uitleg van al die kontroles is tipies Triumph en ek het nie eers nodig gehad om lesse te kry nie.

Die Triumph Rocket 3. (Foto: Brian Cheyne)

Toe ek die aansitter druk, brul die enorme enjin saggies. Die Euro-regulasies het gewis hier ’n invloed, maar dit is nogtans ’n bevredigende brul. Toe ek by Triumph uitry in die stil verkeer in, kry ek die eerste voorsmakie van waaroor die Rocket gaan: die 221 Nm wringkrag. Die fiets versnel ongenadiglik en vereis al jou aandag en krag net om vas te hou. Ek het dit probeer rustig vat, maar toe ek op die snelweg se oprit kom, was dit asof die Rocket sy vryheid proe. Die ratkas het snelskakeling en vir snelskakeling om goed te werk moet jy die krane groot oopdraai. My maag was nog by die begin van die oprit toe ek al, in sesde rat, tussen die verkeer moet inskakel. Daar flits ’n oranje waarskuliggie op die instrumentepaneel wat aandui dat die rubber nie kan bybly by die aanslag nie. Die vastrapbeheer werk oortyd maar die versnelling hou net nie op nie. Net vir interessantheid, die 0-100 syfer is 2,79 sekondes.

Die Triumph Rocket 3. (Foto: Brian Cheyne)

Op die snelweg het ek eerder die spoedbeheer aangesit sodat my ingewande net weer kan opvang. Ek kon sien dat hierdie wringkragspeletjie vinnig verslawend kan raak. Ongeag jou spoed of rat waarin jy jouself bevind, laat die geringste insette op die versneller die Rocket vorentoe beur met mening. Ek het lanklaas soveel pret gehad in ’n reguit lyn.

Die storie is bietjie anders in die draaie. Die gewig van die fiets en die grootte van albei wiele maak die Rocket ongewillig om van rigting te verander. Hy is nie lomp nie, dis net dat dit doelbewuste insette van jou verg en dit voel soms of die Rocket jou wil teëgaan. My lyne deur draaie was baie wyer as wat ek normaalweg sou, maar niks wat my ’n angsaanval sou gee nie.

Die Triumph Rocket 3. (Foto: Brian Cheyne)

In die GT-afwerking kry jy ook twee sagte tasse wat ’n beperkte hoeveelheid bagasie kan vat. Dit behoort meer as genoeg te wees vir ’n vinnige naweek weg. Sabie toe, byvoorbeeld. Ek dink die Rocket sal die ideale fiets wees vir die lang, vloeiende draaie tussen Sabie en Graskop. Boonop sal die vervelige N4 pad tot daar ’n fees wees op die Rocket.

In ’n mark van krimpende enjins en omgewingsbewustheid is die Rocket dalk so rebelse skop teen die stroom in. En dit is vir my die aantrekking van die Rocket en hoekom die eerste besending reeds uitverkoop is. Dit is ’n monumentale fiets wat die grendeltyd vir my meer draaglik gemaak het.

Produkblad: https://www.triumph-motorcycles.co.za/motorcycles/rocket-3/rocket-3

Spesifikasies:

 Rocket RRocket GT
Enjin2458 cc drie-silinder
Gewig (Droog )291 kg294 kg
Kraglewering123 kW  @ 6 000 rpm
Wringkrag221 Nm @ 4 000 rpm
Tenkkapasiteit18 l
Saalhoogte773 mm750 mm
PrysVanaf R 299 000Vanaf R 315 000

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Karel Kobus Kruger ·

Ideale stel wiele vir die R62 tot in Humansdorp, en dan terug Kaapstad toe met die N2. En dan iewers op n verlate stuk Karoopad sonder spietkops waar jy hom heeltemal oop kan draai.

Jack ·

Pragtige artikel Brian. Hoe vergelyk die Triumph met die Harleys of iets soos die BMW 1600? JCK

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.