SA se mans en vroue seëvier by GS Trophy in Albanië

(Foto: BMW)

Vreugdevure het hoog gebrand in Albanië toe Suid-Afrika sowel die mans- as die vroueafdeling van die agtste BMW Motorrad International GS Trophy gewen het.

Altesaam 21 internasionale spanne het hierdie jaar deelgeneem, waarvan 15 mans- en ses vrouespanne was. Die manspanne het elk uit drie lede bestaan en die vrouespanne uit twee. Suid-Afrika se manspan is deur Gerrit du Toit (19), Dalton de Bruin (23) en Warren Venter (45) verteenwoordig. Die vroue is deur Hanneli Zondagh (50) en Christelle van der Meulen (47) verteenwoordig.

(Foto: BMW)

Hierdie kompetisie gaan nie net oor spoed nie, maar ook oor spanwerk. Ouderdom maak ook nie veel saak nie. Die oudste deelnemer was die 63-jarige Karyn Julliard van Frankryk en die jongste was ons eie Gerrit du Toit. Die kompetisie is oor sewe dae gehou en ’n totale afstand van sowat 1 230 km is afgelê. Elke dag het bestaan uit ’n roete om te ry met spesiale uitdagings vir elke span. Punte is elke dag toegeken vir die dag se gebeure. Die uitdagings is byvoorbeeld dat een ryer geblinddoek word en die ander spanlede moet dan die ryer deur ’n roete lei deur middel van hul kommunikasiestelsels.

(Foto: BMW)

Alhoewel elke dag deur wonderlike natuurskoon gekronkel het, was daar heelwat tegniese dele. Teen dag sewe was die organiseerders oortuig dat die spanne genoeg oefening gehad het om die laaste dag se roete aan te pak. Alhoewel dag sewe se roete die kortste was, was dit sekerlik die grootste toets vir die ryers. Daar was heelwat waterkruisings en die ryers moes hul lyn goed kies en dan net opkyk en hul R 1250 GS vertrou. Net om dit weer en weer te doen.

(Foto: BMW)

Terug by die kamp was daar die laaste spesiale uitdaging. Met ’n paar punte wat die voorste spanne skei, was hierdie die maak-of-breek‑uitdaging. Hierdie laaste uitdaging was op die strand gehou, maar die baan is uitgemerk en op plekke nie veel breër as die fiets self nie. Nie net was daar dik sand nie, maar ook natgespoelde klippe. As jy hier ’n fout maak, is jy in die water. Omstanders was verras toe die kleine Christelle van der Meulen haar GS in die sand ingegrawe het en nogtans eiehandig die agterwiel uit die sand gelig het. Haar bomenslike daad het daartoe bygedra dat die Suid-Afrikaanse vrouespan voor die Duitsers geëindig het.

Alhoewel albei Suid-Afrikaanse spanne stadig begin het, het hulle stelselmatig sterker geword. Aan die einde van die kompetisie kon daar egter net een wenner wees en vir die vierde agtereenvolgende jaar is die manspan van Suid-Afrika as wenners aangewys. Die vrouespan van Suid-Afrika het met ’n enkele punt oor Duitsland se vrouespan geseëvier.

“Dit is ongelooflik! Ons het met net een punt voorgeloop op die laaste dag en ons het nie die beste dag gehad nie,” het Hanneli Zondagh gesê. “Totdat die uitslag bekend gemaak is, het ons nie geweet watter kant toe dit sou gaan nie, maar op een of ander manier het ons ons voorsprong behou en ek voel werklik geseënd. Dit wys net wat spanwerk kan doen as jy weier om op te gee. Wat ’n wonderlike ding om te doen! As vroue eers aan die wonderlike tydverdryf van avontuurmotorfietse blootgestel word, sal hulle sien hoe wonderlik en bevrydend dit is. Jy sien die wêreld, jy ontmoet nuwe mense en ontdek nuwe plekke, selfs in jou eie land. ”

Suid-Afrika is seker een van die beste lande om ’n avontuurfiets te besit en hierdie kompetisie het net weereens bewys dat jou ouderdom of geslag jou nie hoef terug te hou nie. Knap gedaan, aan albei spanne van Suid-Afrika.

Die finale puntestand van die topdrie-spanne was soos volg:

Mans

Suid-Afrika: 217

Brittanje: 204

Duitsland: 185

Vroue

Suid-Afrika: 297

Duitsland: 296

Mexiko: 264.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.