Sandero nie meer beste waarde vir geld

(Foto: Verskaf)

Die motorbedryf in Suid-Afrika is enorm in vergelyking met ons ekonomie en bevolking. Die middelklas-huishouding in Suid-Afrika het twee of meer voertuie, iets wat beslis nie die norm in talle lande is nie.

Daar is tans voertuie in ons mark wat ek meen geen waarde bied nie, en nog nooit gebied het nie. Haval val vir my in hierdie klas in dié sin dat hy kopers lok met reusespesifikasievlakke, maar slegte aanvanklike gehalte, afgryslike brandstofverbruik en nog slegter herverkoopwaarde.

Nietemin, Renault se Sandero het in ʼn stadium puik waarde gebied. Die huidige model het aanvanklik R133 900 gekos in 2014 toe hy bekendgestel is. In daardie stadium was sy inligtingstelsel met navigasie puik waarde vir geld. Die bykomstighede sluit in spoedbeheer, lugreëling en twee lugsakke – heel indrukwekkend.

Renault het nou ʼn Sandero Techroad bekendgestel … ʼn beperkte weergawe van die Sandero om ʼn bietjie beter waarde te bied. Teen R251 900 in ʼn mark waar Suzuki se Baleno, Toyota se Starlet en Ford se Figo bestaan, voorsien ek ʼn enorme opdraand vir Renault met dié produk.

(Foto: Verskaf)

Die enjin is ʼn 900 cc-driesilinderturbopetrol wat 66 kW en 135 Nm bied. Ja, 0–100 km/h is nie asemrowend nie, maar heeltemal voldoende vir dié segment. Renault maak aanspraak op ʼn gemiddelde brandstofverbruiksyfer van 5.4 ℓ/100 km – heel billik.

Een van die “opknappings” in die Techroad is leerbekleedsel. Indien moontlik, vra spesifiek vir die gewone lapsitplekke, dit bied baie beter steun en boonop ʼn sitplek van baie beter gehalte as die leervervanging. Op die pad toer die Sandero Techroad heel goed. Die enjin is ywerig, die vering sag en gemaklik – dit is net die sitplekke wat ongemaklik is.

Dit is maklik om die Techroad op te som. Teen R251 900 bied dit eenvoudig nie dieselfde gehalte as die Ford, Suzuki en Toyota nie.

Die reeks lyk só:

Renault Sandero 66kW turbo Expression66 kW/135 Nm5.4 ℓ/100 kmR217 900
Renault Sandero 66kW turbo Stepway Expression66 kW/135 Nm5.4 ℓ/100 kmR231 900
Renault Sandero 66kW turbo Stepway Plus66 kW/135 Nm5.4 ℓ/100 kmR251 900
Renault Sandero 66kW turbo Stepway TechRoad66 kW/135 Nm5.4 ℓ/100 kmR251 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/150 000 km-waarborg en 2 jaar/30 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

ModelKrag en brandstof-verbruik0–100 km/h en topspoedWaarborgPrys
Ford Figo Freestyle 1.5 Trend91 kW/150 Nm

5.5 ℓ/100 km

11.8 sek

175 km/h

4 jaar/120 000 km-waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R241 100
Honda Jazz 1.2 Trend66 kW/110 Nm

5.6 ℓ/100 km

13.5 sek

175 km/h

5 jaar/200 000 km-waarborgR245 600
Fiat 500 TwinAir Rockstar63 kW/145 Nm

4.0 ℓ/100 km

11 sek

173 km/h

3 jaar/100 000 km-waarborgR250 900
Suzuki Baleno 1.4 GLX68 kW/130 Nm

5.1 ℓ/100 km

10.9 sek

175 km/h

5 jaar/200 000 km-waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R259 900
Volkswagen Polo Vivo 1.6 Highline77 kW/153 Nm

6.2 ℓ/100 km

9.7 sek

188 km/h

3 jaar/120 000 km-waarborgR260 300
Toyota Starlet 1.4 XR68 kW/130 Nm

5.1 ℓ/100 km

10.9 sek

180 km/h

3 jaar/100 000 km-waarborg

3 jaar/45 000 km-diensplan

R263 700
Citroën C3 1.2 Feel60 kW/118 Nm

5.7 ℓ/100 km

13.2 sek

169 km/h

5 jaar/100 000 km-waarborg

3 jaar/60 000 km-diensplan

R264 900

Daar is ʼn magdom mededingers in dié segment. Die Figo se gehalte teen die prys mét ʼn diensplan is onweerlegbaar en bly my keuse. As ruimte nie ʼn top-prioriteit is nie, is die Fiat 500 ʼn pragtige buksie teen die prys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.