Sit-sit só: Ses sitplekke teen sakpasprys

Daar is net vier voertuie waaraan ek kan dink wat ses sitplekke bied. Dit is Suzuki se XL6, Toyota se Quantum VX Premium, BMW se X7 en Volvo se XC90.

Terwyl die Quantum meer as R1 miljoen kos, die Volvo R1,5 miljoen en die BMW amper R2 miljoen, kan mens nou ses sitplekke vir die skoollopie kry vir minder as R400 000.

Suzuki se XL6 is geskoei op die Ertiga-sewesitplek-MPV. Die ontwerp is genoeg opgedollie dat dit nie voel jy ry agter in ʼn Toyota Avanza-taxi nie. In die binneruim is die XL6 doelgerig, maar bied net ses sitplekke wat gemakliker is as die sewe wat mens in die Ertiga vind. Daar is ʼn lekker raakskerm wat Android Auto en Apple CarPlay bied, sterk lugreëling – selfs lugopeninge en kontroles vir die agterste passasiers om self hul klimaat te beheer.

Onder die kap sit Suzuki se getroue 1.5-viersilinder- atmosferiese petrolenjin. In ons toetseenheid was die enjin gekoppel aan Suzuki se 4-spoed- outomatiese ratkas. Die enjin bied 77 kW en 138 Nm. Jy gaan geen motorresies daarmee wen nie, maar vir die toer skool toe elke oggend is hy dooddollies.

Op die pad toer die XL6 gemaklik genoeg. Die rit is aanvaarbaar en mens jaag nie met só ʼn tjor nie, so padhouvermoë is voldoende. Die kajuit kon met bietjie meer klankdigting doen – maar teen die prys is die XL6 heel in die kol. Met twee lugsakke is die XL6 seker nie die veiligste motor op aarde nie – maar mens kan dit nie teen dié prys verwag nie. Hy spog egter met sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding en stabiliteitsbeheer.

Dis moeilik om die XL6 op te som. Mens raak nie liries oor sulke motors nie – dis nie ʼn vuurvretende sportmotor of ʼn 4×4 wat ʼn berg kan klim waar ʼn bobbejaan ʼn kierie kort nie. Maar dis ʼn gemaklike gesinsbuks wat ses sitplekke bied sonder om die bank te breek. Indien jy meer as vyf sitplekke nodig het – kyk gerus.

Die reeks lyk só:

Suzuki XL6 1.5 GL handratR336 900
Suzuki XL6 1.5 GLX handratR351 900
Suzuki XL6 1.5 GL outoR355 900
Suzuki XL6 1.5 GLX outoR370 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/200 000 km-waarborg en ʼn 4 jaar/60 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Mitsubishi Xpander 1.5 outo77 kW/141 Nm7 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

2 jaar/30 000 km-diensplan

R385 995
Toyota Rumion 1.5 TX outo77 kW/138 Nm6,2 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

4-dienste-diensplan

R386 500
Honda BR-V 1.5 Elegance89 kW/145 Nm6,3 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km-waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R490 500

Tussen dié mededingers is die Toyota en die Suzuki uit dieselfde fabriek. Die Mitsubishi is ʼn billike alternatief en die Honda beslis die mooier en luukser alternatief wat sewe sitplekke bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.