Sleeptuie te kus en te keur

Maroela Media was al vanjaar in die bevoorregte posisie om met verskeie voertuie te kon sleep. Dit is amper weer tyd om die wa vir die Desember-vakansie te haak, dié jaar Hartenbos toe. Ek kan nie wag nie. Dalk kom Kersvader vanjaar vroeg ʼn draai by jou maak en is jy dalk in die mark vir ʼn nuwe sleepvoertuig. Kom ons kyk na almal waarmee ons vanjaar al gesleep het.

Eerste aan die beurt was ʼn Ford Everest Bi-Turbo en hy het ons van my huis in Pretoria na Bosveld Oase gesleep – so 65 km. Die BiTurbo is lieflik stil en lig op brandstof. Dit was net vir ʼn vinnige naweek; die wa was dus ook nie juis swaar gelaai nie, maar ons kon 10,2 ℓ/100 km handhaaf. Die BiTurbo-enjin in die Sport bied 154 kW en 500 Nm.

Die tweede sleeptog was met Ford se Everest Platinum. Dit was in April ATKV Natalia toe. Terwyl die Everest Platinum effens duur is, sal ek argumenteer dat die algehele pakket stewig is. Die Everest het ʼn pragtige ontwerp met ʼn luukse binneruim. Daar is sewe sitplekke en laaipoorte vir elke kind om ʼn slimfoon vol te hou. En dan praat ʼn mens nie eens van die verhitte of verkoelde sitplekke nie.

Die Everest Platinum is met ʼn puik 3.0 V6‑turbodiesel toegerus wat 184 kW en 600 Nm bied. Dit bied ʼn rateltaai sleepkapasiteit van 3,5 ton. Ongelukkig kom daai krag en sleepgemak teen ʼn prys – naamlik die brandstofverbruik. Ons het nie sleg af see toe gesleep teen 11,8 ℓ/100 km nie, maar die terugtog was kwaai teen 15,7 ℓ/100 km. Ek moet byvoeg dat die Everest ons Swing teen 110 km/h teen elke bult opgesleep het sonder om ʼn oog te knip. Dís waar die brandstof heen is. Indien ek ʼn Everest oorweeg, sou ek beslis eerder die Wildtrak kies met 1” kleiner wiele as die Platinum – dit ry heelwat sagter.

In Julie het ons ATKV Eiland-Spa toe gesleep – 413 km van die huis af. Dié keer het Isuzu se 3.0 mu-X, spesifiek die LSE-model, diens gedoen. Ek dink dié model is in die kol omdat hy nie die groter wiele van die Onyx het nie. Die mu-X het ʼn eenvoudige en praktiese binneruim. Daar is nie foefies nie,  maar dit is juis wat dié voertuig aanloklik maak. Die 3.0 Isuzu mag ook 3,5 ton sleep, en sleep die Swing soos ʼn droom. Ons het 11,2 ℓ/100 km gehandhaaf soontoe, en 12,6 ℓ/100 km terug. Heel skaflik, dink ek.

Die mu-X bied 140 kW en 450 Nm uit sy 3.0‑viersilinderturbodiesel wat sy krag deur ʼn 6-spoed‑wringkragomsitter‑ outomatiese ratkas kry. Die mu-X bied vierwielaandrywing met ʼn laestrekratkas.

Oor September se langnaweek is ons Rust de Winter toe vir die 4×4 Jamboree saam met Toyota. Vanjaar het ek gekies om my eie wa saam te vat – ek hou mos van my eie bed. Dis glad nie ver nie, 86 km van my huis af. Soontoe het ek die puik GR-Hilux gebruik. Die 165 kW en 550 Nm in dié Hilux is fantasties. Die ratkas is puik gekalibreer en soek nie rond vir ratte nie – hy skop mooi vas en trek op die hope wringkrag wat hy in reserwes het. Die 9,9 ℓ/100 km is voorwaar goed vir sleep.

By Rust de Winter ruil ek die GR-Hilux vir ons eie langtermyntoetsvoertuig in – ‘n Hilux Raider X 2.4 GD-6 met handrat. Die vering op die standaard Hilux is beslis meer stamperig as die van die GR-Hilux, maar lekker sterk vir sleep. Die 2.4 het nie die brute krag van die GR nie, maar bied ʼn goeie 110 kW en 400 Nm en solank jy hom tussen 2 000 en 3 000 r/min hou, sleep hy soos ʼn droom. Ons het ook ʼn puik 10,5 ℓ/100 km gekry op die pad huis toe. ʼn Mens kan nou redeneer dat die GR-Hilux beslis die lekkerder sleeptuig is – maar hy kos amper R300 000 meer as die Raider X en die Raider is ook gerat om 3,5 ton te sleep.

Die karavaan staan nou by die werktuigkundige en kry sy jaarlikse diens, amper reg om gepak te word vir Hartenbos. Ons trek op 18 Desember weg en ons sleeptuig is Toyota se ultra‑luukse sessitplek-Quantum VX. Vier pragtige uitskoprusbanke agter vir die kinders wat nie vir die luuksste La-Z-Boy hef terug te staan nie. Ek sien uit daarna.

Die sleeptuie vergelyk só:

 Toyota Hilux 2.4 GD-6 Raider X 4×4 handratToyota GR-Hilux 2.8 GD-6 4×4 outoIsuzu mu-X 3.0 TD LXFord Everest Sport 2.0 BiTurboFord Everest Platinum V6 AWD
Krag110 kW/400 Nm165 kW/550 Nm140 kW/450 Nm154 kW/500 Nm185 kW/600 Nm
Verbruik10,5 ℓ/100 km9,9 ℓ/100 km12,6 ℓ/100 km10,2 ℓ/100 km15,7 ℓ/100 km
Ratkas6-spoed-handrat6-spoed-outo6-spoed10-spoed-outo10-spoed-outo
ViertrekJaJaJaJaJa
Sitplekke55777
Sleepvermoë3,5 ton3,5 ton3,5 ton3,5 ton3,5 ton
PrysR674 800R947 600R927 700R1 040 800R1 180 000

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

vuurvliegie ·

Wat ‘n lekker lees artikel Brendom. Die Ford Everest V6 se route na Natalia was bogemiddeld bergagtig teenoor die ander roetes. Sou graag dieselfde voertuie met dieselfde roete se toets wou sien.

George ·

Jip, jy kan nie regtig die as n toets of vergelyking sien nie. Moet dieselfde wa en roete wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.