Sportage nou in dieselmodelle beskikbaar

Kia se nuutste Sportage is beslis iets vir die oog. ʼn Uiters moderne ontwerp wat ‘n perfekte balans tref om nie té vroulik of té manlik voor te kom nie. Ek hou werklik daarvan. By sy bekendstelling verlede jaar het ons egter dieselkragbronne gemis.

Uiteindelik is die wag verby en het Kia pas sy reeks bygewerk met ʼn dieselmodel. Drie eintlik. Een enjin en drie verskillende spesifikasievlakke. Kia het dit goedgedink om die 1.6 ℓ-CRDi-viersilinderturbodieselenjin te kies. Ek is geneig om met hulle saam te stem. Die enjin bied ʼn romerige 100 kW en 320 Nm. Die enjin gaan gepaard met ʼn 7-spoed-dubbelkoppelaar-outokas en die twee saam sorg vir fantastiese brandstofverbruik … Kia beweer 4,9 ℓ/100 km.

Die ontwerp is kraakvars, en só ook die ontwerp van die binneruim. Gemaklik én ergonomies uitgelê met ʼn magdom luukshede om mens gemaklik te hou. Wat eerste opval, is die groot geboë raakskerm vir die inligtingstelsel wat Apple CarPlay en Android Auto bied. Die instrumente lees maklik en mens kan relevante inligting vertoon wanneer nodig.

Die kajuit is gemaklik en bied sitplek vir vyf en ʼn reusekattebak van 571 ℓ. Kia sê die Sportage mag 1 650 kg sleep – nie te versmaai nie … my woonwa weeg 1 350 kg gelaai. Lekker. Ek het net een kwaal. Daar is dinamiese knoppies waarvan die funksie verander na gelang van watse funksie jy mee besig is. Indien mens in die lugreëling is, stel die een die temperatuur en die ander die waaier se spoed. In die radio stel die een die golflengte en die ander die volume. Indien mens Apple CarPlay gebruik, bly daai stelling op die lugreëling en dan is die enigste volumekontrole op die stuurwiel … ʼn klein frustrasie wat Kia waarskynlik vinnig sal uitstryk.

Op die pad bied die dieselweergawe van die Sportage dieselfde lekker rit met goeie ritgehalte en sterk padhouvermoë. Die Sportage spog met ʼn groot veiligheidspesifikasie van ses lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, asook vastrap en stabiliteitsbeheer. Kia se markleidende waarborg bied ʼn 5 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan.

Ná ʼn kort rukkie agter die stuur geniet mens die wringkrag wat ʼn turbodiesel bied. Ongelukkig gaan diere van dié soort nie meer lank vryloop nie, want die Europeërs maak mos oorlog met diesel oor sy besoedeling. Ek persoonlik is gek oor die verbruik wat hulle bied, en in ʼn segment waar daar bitter min dieselmodelle nog beskikbaar is, sou ek vinnig ʼn diesel-Sportage opraap, terwyl mens kan.

Die reeks lyk nou só:

Kia Sportage 1.6T-GDi LX132 kW/265 Nm6,5 ℓ/100 kmR567 995
Kia Sportage 1.6CRDi LX100 kW/320 Nm4,9 ℓ/100 kmR597 995
Kia Sportage 1.6T-GDi EX132 kW/265 Nm6,5 ℓ/100 kmR621 995
Kia Sportage 1.6CRDi EX100 kW/320 Nm4,9 ℓ/100 kmR651 995
Kia Sportage 1.6T-GDi GT-Line132 kW/265 Nm6,5 ℓ/100 kmR677 996
Kia Sportage 1.6T-GDi GT-Line Plus132 kW/265 Nm6,5 ℓ/100 kmR705 995
Kia Sportage 1.6CRDi GT Line Plus100 kW/320 Nm4,9 ℓ/100 kmR735 995
Kia Sportage 1.6T-GDi GT-Line S132 kW/265 Nm6,5 ℓ/100 kmR762 995

Ons sal weer tyd saam met die Sportage deurbring en hom dán teen sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.