Stofskop is terug!

(Foto: Verskaf)

’n Vriendin van my het altyd spottend gegroet met: “Maak ’n stoffie!” Jy was dan vrywillig verplig om jou wiele met die wegtrek te laat tol. Ek dink sy sal goed kan assosieer met Stofskop wat hierdie jaar weer op die Randfontein-renbaan in Johannesburg aangebied word. Die dag word met trots deur Motul geborg. Maak volgende Saterdag (12 Augustus) vas in jou dagboek, want hierdie is ’n baie unieke sosiale geleentheid.

Die renbaan is ’n ovaalbaan, solank jy dus jou motorfiets links kan draai, is jy geholpe. Draai jou regterhand om spoed te kry en draai links. Wat kan nou makliker wees? Natuurlik is die baan grond, so jy gaan geleentheid kry om baie stoffies te maak. Boonop kan jy aantrek soos jy wil; jy kan dus as Superman of die Tandmuis opdaag. Die keuse is joune!

Hooforganiseerder Chris Shelvey is opgewonde oor die aantal inskrywings wat reeds ontvang is. Die aantal dames wat gaan deelneem, is reeds meer as vorige jare. Dit beloof dus om die grootste, beste en mees inklusiewe Stofskop ooit te wees.

Ryers word aangemoedig om enige motorfiets of bromponie in te skryf, want hierdie is nie sommer net nog ’n wedren nie. Dit is baie meer as dit. Dit gee jou ’n kans om lekker stof op te skop in ’n uitspattige uitrusting en vir almal te wys hoe goed jy jou fiets op die stofbaan kan hanteer. Vir die toeskouers behoort daar meer as genoeg vermaak te wees. Uit vorige Stofskoprenne het ons geleer dat uitrustings en motorfietse albei onklaar raak, wat unieke uitdagings aan die deelnemers bied. Om ’n spreekwoord so effe aan te pas: As iets meganies kan verkeerd loop, sal dit, en gewoonlik op die mees ongeleë plek!

“Vir die Motul-span is Stofskop een van ons gunstelinggeleenthede,” het Mercia Jansen, Motul se streeksbestuurder vir Suider- en Oos-Afrika, gesê. “Ons is mal oor die feit dat almal welkom voel, en ons moedig enigiemand wat van motorfietse hou – of wat bloot op soek is na ’n heel ander soort Saterdag – aan om hul Stofskop-motorfietse te registreer en te kom jaag of bloot net die ryers aan te moedig.”

Natuurlik sal die lug met meer as net stof en die gedreun van motorfietse gevul wees. Afgesien van die gelag en gejuig, sal daar ook ’n groot verskeidenheid koswaens wees wat die gegrom van ’n honger maag sal stilmaak. Hierdie is ’n dag om so ʼn bietjie laf te wees en die minder ernstige kant van motorfietskultuur te ervaar.

Daar is egter twee ernstige aspekte aan Stofskop: Veiligheid en die pryse wat tydens die prystrekking aangebied word. Of jy nou ’n deelnemer is of ’n toeskouer, jou toegangskaartjie laat jou vir die trekking in aanmerking kom. Toeskouers betaal R50 per persoon by die hek, en kinders onder 12 is gratis.

Of jy nou ’n Stofskop-veteraan of ’n nuweling-ryer is, hier is jou kans om vir die land se motorfietsgemeenskap te wys wat jy in jou motorhuis, jou skuur of selfs in stukke onder jou bed weggesteek het.

Die klasse waarin meegeding gaan word, is net so uniek, en julle moet my maar vergewe as ek eerder die Engelse name gaan gebruik. Daar is: Inappropriate Roadbike, Moped Mash, Chops & Bobbers, Scrambler & Tracker en Plastic Pigs. Ek dink die moeilikste besluit van Stofskop is waar jy jou fiets wil inskryf. Tyd is egter min, so as jy belangstel om deel te neem, stuur vandag nog ’n foto van jou kandidaat na [email protected]. Jy sal dan die skakel ontvang om in te skryf, asook meer inligting oor die dag.

Besoek gerus Stofskop se Facebookblad vir meer inligting: https://www.facebook.com/stofskop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.