Suzuki DL 1050 DE – Nog ʼn bietjie beter

(Foto: Black Rock Studio)

Dit is amper ondenkbaar dat die Suzuki V-Strom 1000 al 21 jaar met ons is. Die idee van ʼn fiets wat beide vir die teerpad en die grondpad bedoel is, kom al ʼn lang pad. Een van my heel eerste artikels vir Maroela Media was juis oor die DL1000 V-Strom, en Suzuki het oor die jare hierdie fiets stukkie vir stukkie verfyn. Die DL-benaming het ook gekom en gegaan soos die modelle verander het. Die laaste groot opknapping was in 2020 toe Suzuki die DL 1050 XT bekend gestel het.

Die jongste weergawe van die DL is pas bekendgestel, en hy heet nou die V-Strom 1050 DE. Suzuki het ons genooi om die nuwe fiets te kom ry in KwaZulu-Natal, en behalwe vir die 1050 het Suzuki ook die nuwe DS250SX saamgebring. Ek was baie nuuskierig om hierdie fietsie te ry, want ek het maar ʼn sagte plekkie vir kleinkapasiteitfietse.

Ons was egter daar om die 1050 DE te ry, so ons moes eers hoor wat alles nuut is voordat ons op ʼn baie interessante roete sou vertrek. Alhoewel Suzuki by die bewese meganika gebly het, het die DE-model verskeie verbeteringe bygekry om die fiets baie meer grondpad-georiënteer te maak. Die grootste hiervan is die verbetering van die elektronika. Die nuwe 5” TFT-skerm maak dit uiters maklik om by al die elektroniese verstellings uit te kom. Behalwe vir die drie vlakke van traksiebeheer is daar ʼn nuwe ‘Gravel’-program bygesit wat jou wel toelaat om die agterwiel te tol sonder dat die fiets die krag sny. Die DE het twee verstellings vir kraglewering en twee vlakke van ABS. Jy kan ook nou die ABS afsit op die agterwiel, iets wat ontbreek het by al die vorige V-Stroms.

ʼn Ander noemenswaardige verandering is die nuwe voorwiel. Nie net het sy deursnit gegroei tot 21” nie, maar hy beskik nou ook oor ʼn binneband. Die agterwiel is egter nog binnebandloos. Dit is ʼn vreemde kombinasie, en tog is dit iets wat deeglik nagevors is en Suzuki volstaan by sy besluit. Die fiets staan ook nou heelwat hoër, en Suzuki het die swaaiarm langer gemaak en die handvatsels breër. Die windskerm is kleiner as op die vorige model en het nou gereedskap nodig om te verstel. Die vering bied meer reikafstand, en die grondvryhoogte is nou 190 mm. Snelskakeling en spoedbeheer is standaard op die DE.

Die roete vir die dag was sowat 150 km en die natuurskoon van KwaZulu-Natal was beslis die tema vir die dag. Die idee was ook om op die agterpaaie te ry om ʼn eie Afrika-ondervinding te gee. Dit was nodig om hoenders, beeste, bokke en honde mis te ry op pad na ons eerste uitkykpunt, die pragtige Mzinyatthi-waterval. Ek was op die 250SX vir hierdie stuk, en ek was aangenaam verras oor hoe lewendig die klein Suzuki is. Ná die watervalle is ons op ʼn lieflike grondpad na die onderpunt van die Inandadam. Hier kon ek fietse ruil en die 1050 geniet in die omgewing waarvoor hy bedoel is.

Die enjin is steeds die 1037 cc V-twee eenheid, en is die ideale kragbron vir ʼn rustige avontuurrit. Draai egter die versneller ywerig, dan tol die agterwiel met gemak. Ons het ʼn redelike pas gehandhaaf totdat ons by ʼn groot waterplas gekom het. Hier het ons behoorlik vuil geword! Vandaar het ons met ʼn lieflike bergpas gery tot by ʼn punt wat uitkyk oor die Inandadam. Die groter voorwiel en die klein veranderinge aan die elektronika het die V-Strom 1050 net nóg beter gemaak. Dit is ʼn ongelooflike bekwame fiets wat alles bied wat die deursnee avontuurryer soek: gemak, betroubaarheid en die vermoë om weg te draai van die teer. Met of sonder ʼn passasier sal die DE jou bring waar jy wil wees.

Die DE is reeds by handelaars beskikbaar teen R 259 000.

Vir meer inligting klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.