Suzuki Katana: Meer as net mooi

Die nuwe Suzuki Katana. (Foto: Brian Cheyne)

Ek onthou nog hoe ons destyds by Pretoria se skou in die ry moes staan vir die tuimeltrein. Soos die mense wat klaar gery het, afklim en by jou verbystap, sien jy sommer die vreugde op hulle gesigte. Jy moes maar geduldig wag vir jou beurt.

Dit was ’n soortgelyke gevoel toe ek geduldig moes wag vir my beurt op die nuwe Suzuki Katana terwyl ek hoor met hoeveel lof die ander van die fiets praat.

Die heel eerste konsep‑Katana word toegeskryf aan ’n Duitser, Hans Muth. Hy was die hoof van stilering by BMW voor Suzuki hom aangestel het. Saam met Jan Fellstrom en Hans-Georg Kasten het hulle verskeie prototipes gemaak. Die ontwerp van die fiets het deur ’n paar fases gegaan. Die eerste ontwerp was gegrond op ’n 650 cc‑enjin. Die finale produksiemodel het egter ’n 16-klep 1100 cc‑enjin gehad en was op sy tyd deur Suzuki beskryf as die vinnigste massa-produksie fiets in die wêreld. Die Suzuki Katana was ánders, en die kompetisie het nie verwag dat die Katana so ʼn groot sukses sou wees nie. Suzuki het oor die jare ander modelle ook Katana gedoop, maar niks kon kers vashou by die eerste een nie.

Die saal van die nuwe Suzuki Katana is heelwat anders as die oorspronklike. (Foto: Brian Cheyne)

Suzuki het in 2018 al begin terg dat daar ’n nuwe Katana op pad is en almal het met hoë verwagting uitgesien na sy koms. Wel, hy is hier, en ek het geduldig in die tou bly wag. Uiteindelik het my skedule en Suzuki s’n ooreengestem en ek kon ook ’n tydjie saam met hierdie fiets deurbring.

Die nuwe een se ontwerp het heelwat in gemeen met die oorspronklike een s’n. Klein detail soos die vorm van die voorste modderskerm met die swart aksent-verf, die vierkantige hooflig, en die groot rooi Suzuki‑letters is alles gelig uit die oorspronklike. Die saal is egter heelwat anders. Dit het steeds die twee-kleur afwerking, maar is korter en wip hoog op na agter. Vir die eerste keer het Suzuki die flikkerligte en nommerplaat op hulle eie arm om die agterwiel monteer. Ek is nie heeltemal oortuig dat dit die regte besluit was nie, maar dit gee tog die Katana ’n vooroor aggressiewe houding.

As jy deur die tegniese spesifikasies blaai, kom jy agter dat die Katana nie veel verskil van die GSX-S1000 nie. Die 999 cc‑enjin is die bewese K5‑eenheid en is ’n juweel van ’n kragbron. Die kraglewering is ’n stewige 150 pk. maar dit is die beskikbaarheid daarvan wat my die meeste beïndruk het. In stadsverkeer het ek die fiets in derde rat gelos en myself verstom aan die versnelling as jy skielik die krane oopdraai. Die GSX-S was bekend daarvoor dat hy op laer toere ʼn rukkerige gevoel het. Die Katana het ’n nuwe versnellerprofiel gekry om hierdie probleem te probeer hokslaan. Die enjin se karakter is ook meer op stadsry gefokus. Suzuki het egter nie heeltemal geslaag met die verbeteringe nie en die fiets voel steeds nie gelukkig as die toere sak nie. Die oplossing was maar om hom op te wen en net te geniet.

Die nuwe Suzuki Katana. (Foto: Brian Cheyne)

Verder het Suzuki die grootste gedeelte van die uitlaatpyp onder die fiets weggesteek, wat beteken dat die sigbare pyp kort en bonkig is. Die klank wat hy maak, is so mooi dat ek twyfel of jy sommer die standaardpyp met iets anders sal omruil.

Die ryposisie is sportief. My bene was ver terug, en die handvatsels is regop en breed. Dit maak dat die fiets onmiddellik reageer op die geringste insette. Vering was aan die harde kant, maar is ten volle verstelbaar.

Die Katana het nie ’n elektroniese versneller of hidrouliese koppelaar nie. Tog het Suzuki drie vlakke van traksiebeheer ingebou in die fiets. Jy kan ook die traksiebeheer heeltemal afsit as jy jou voorwiel se loopvlak wil spaar en heeldag op jou agterwiel rondry. Met traksiebeheer aan, kon ek voel hoe die voorwiel lig word onder harde versnelling, maar die elektronika het die Katana mooi op sy trajek gehou. Jy is nie bewus van die inmenging nie. Om die Katana tot stilstand te bring, verg ook nie baie moeite nie. Die remme is dieselfde soos dié van die GSX-R1000, en hulle werk soos Brembo’s moet.

Die Suzuki Katana. (Foto: Willem Ebersohn)

Toe ek die eerste keer die Katana in lewende lywe gesien het, het die instrumentasie vir my gelyk soos ’n volkleur TFT, maar ek was verkeerd. Dit is ’n gewone vloeikristal‑eenheid met ’n paar kleur‑elemente. Daar is baie inligting op die skerm. Dit vat partykeer meer as ’n vinnige afkyk om die regte inligting raak te lees. Daar is ook ’n meter wat jou brandstofverbruik en reikafstand aandui. Met die verspot klein 12 liter‑brandstoftenk is hierdie baie belangrike inligting.

Om die naam Katana te dra, moet hierdie fiets baie spesiaal wees. Hy is. Die nuwe Katana is in die kol. Dit is meer as net ’n GSX-S met silwer bakpanele. As ’n daaglikse pendelfiets sal hy maklik kan diens doen. Jy kan hom maar hard druk ook, hy sal daar ook vreugde kan verskaf. Maar bo alles: dit is ’n Katana! Maak jouself maar reg dat mense sal staar en vrae vra. Ek het nou my beurt gehad en ja, dit was so opwindend soos ek gehoop het.

Kliek hier vir die produkblad.

Die feite:

Enjin999 cc, viersilinder
Gewig (nat)215 kg
Kraglewering110 kW @ 10 000 r.p.m.
Wringkrag108 Nm @ 9 500 r.p.m.
Tenkkapasiteit12 ℓ
Saalhoogte825 mm
PrysR186 750

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kiewiet ·

Die flikkerligte en nommerplaat lyk regtig nie mooi nie. Dit lyk soos in man wie se broek af gesak het en sy boude uitsteek.

Bleek Willem ·

Stem saam met Kiewiet.
Daai “poop-scoop” moet gaan.
Ek sien daar is reeds in Europa “tail tidies” beskikbaar vir dié Katana.
Andersins ‘n gawe fiets en ook nie te duur nie.
Ek dink tog sy teikenmark gaan ou ballies wees wat die oorspronklike ene maar alte goed onthou.
Hoop Suzuki SA verkoop skeepshouers vol.

Chris Ws ·

Ek onthou nog goed so hele klomp jare gelede hoe ek en my vrou in die aande in ons bed le en luister het hoe ‘n werk kolega met sy Katana in die hoofstraat neffens ons volketel afgeskreeu het en ons bekommerd was hy verongeluk.Volgende dag by die werkhet het hy net geglimlag as ek hom vertel hoe bekommerd ons was iemand se skoot brakkie hardloop voor hom in of ‘n taxi draai voor hom in op daai spoed.Ai !

Andre ·

Katana was my eerste ervaring van 240kmpu ,jonk en onverskillig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.