Suzuki-padskool: Beter ryers is veiliger ryers

(Foto: Brian Cheyne)

Vroegoggend, en die wolke hang dragtig met reën. Ek is op pad na Red Star Raceway waar ek vandag moet gaan werk aan my selfvertroue in draaie. Ná my ongeluk so ’n paar jaar terug, sukkel ek steeds om ’n fiets met oorgawe in ’n draai te leun. Ek is al beter, maar ’n mens mag nie ’n kans laat verbygaan om nog te leer en te verbeter nie. En dit is juis waarheen ek op pad is: na Suzuki se padskool.

Die padskool is nie om van jou ’n vinnige ryer op ’n baan te maak nie. Die doel van hierdie dag is om ryers ’n kans te gee om te werk aan hulle tekortkominge. As jy dalk bietjie vinnig in ’n draai gaan of die draai is skerper as wat jy gedink het, dan tel jy doodeenvoudig die fiets regop en ry van die baan af. Hier is nie sypaadjies of stormwaterslote om jou oor te bekommer nie. Boonop ry ons almal in dieselfde rigting, sonder taxi’s wat mense op- en aflaai.

Ek het regtig gedink ek is vroeg uit die vere, maar by Red Star wemel dit van opgewonde ryers en hulle fietse.

(Foto: Brian Cheyne)

Nadat ek aangemeld het, gaan stap ek deur die kuipe en sien ’n wye verskeidenheid van fietse. Wat my dadelik opval, is die aantal dames wat ook hier is. Ek gesels met Lizell oor haar baanfiets. Sy is nog skrikkerig om tussen motors op die pad te ry, maar hier op die baan het sy vryheid. Nog ’n entjie verder staan Jenna by haar Suzuki GSXR-1000. Sy lyk baie jonk, maar sy ry al motorfiets vandat sy nege is. Dit is vir my verblydend om te sien dat meer vroue begin motorfiets ry en die stereotipe verbreek dat vroue net agteroppies is.

Ons moet egter eers twee kort lesings bywoon voor ons op die baan mag gaan speel. Die eerste is oor baanveiligheid. Die tweede is oor veiligheid op die pad.

(Foto: Brian Cheyne)

Baie van wat hulle sê, weet ek, maar tog is dit leersaam om net weer herinner te word aan dít wat ons as vanselfsprekend aanvaar. Die doel van die dag is glad nie om rondetye te verbeter nie. Ook nie om jou knie op die baan te kan neersit nie. Nee, die dag is daar om jou meer vertroud met jou fiets te maak. Daar was heelwat ryers teenwoordig wat hulle vir die heel eerste keer op ’n baan begewe. Sommiges babbel van opgewondenheid, ander swyg van bekommernis.

(Foto: Brian Cheyne)

Die vinniger ryers word eerste op die baan losgelaat en die nuwelinge kan nie besluit of hulle opgewonde of bang moet wees nie. Terwyl die vinnige fietse om die baan jaag, stap ek oor na Suzuki se plek in die kuipe. Hulle het vir my drie fietse reg: die DL 650 V-Strom, die GSX-S100 en die allemintige Hayabusa. Red Star is ’n tegniese baan met baie draaie. Nie die ideale baan vir ’n fiets soos die Hayabusa nie. Boonop is dit koel en kort-kort val daar so ’n spatseltjie reën. Ek kies eerder die DL en vat die eerste paar draaie baie tentatief. Met elke ronde vat ek die draaie bietjie vinniger en leun bietjie meer. So besef jy dat jy baie verder kan leun en baie vinniger om ’n draai kan gaan as wat jy dink.

Met elke sessie kan ek ’n verbetering voel. Selfs die nuwelinge se vrees is aan’t verdwyn, en dit wys. Ek kan ’n dag soos Suzuki se padskool nie hoog genoeg aanskryf nie. Enigiemand sal baat vind daarby, ongeag jou ryvermoë. Suzuki subsidieer ook die dag, so die koste is minimaal. Hou gerus Suzuki se sosiale media dop vir die volgende een en kom kyk self al was jy nog nooit op ’n baan nie; dit is die regte leerskool dié.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.