Suzuki V-Strom 1050 DE – reg vir 2023 en die kompetisie

Die EICMA-motorfietsskou in Milaan word elke jaar in November gehou en hier word die meeste van die nuwe modelle vir die volgende jaar bekendgestel.

Met EICMA net ’n paar maande weg, het verskeie vervaardigers reeds begin om van hul nuwe modelle aan die media te wys. Dit is amper soos winkels wat wedywer oor wie eerste hul Kersversierings gaan opsit. Suzuki is vroeg uit die blokke en het pas hul 2023 V-Strom 1050 DE bekendgestel.

Die grootkapasiteit V-Strom het in 2002 sy buiging gemaak, en alhoewel dit ’n uiters betroubare en gemaklike fiets was, het die 650‑weergawe baie beter verkoop. In 2014 het die tweede generasie V‑Strom 1000 op die mark verskyn. Hierdie fiets was heeltemal herontwerp, en die enjinkapasiteit het gegroei van 996 cc tot 1037 cc. Dit het ook heelwat nuwe elektroniese hulpmiddels bygekry, asook die “snawel” wat nou al sinoniem met avontuurfietse is.

In 2019 het Suzuki die derde generasie V-Strom 1050 bekendgestel en daar was hierdie keer ook ’n XT‑model beskikbaar. Die stilering was baie meer aggressief, en die XT‑modelle het speekwiele bygekry. Die DL 1050 bly seker een van die gemaklikste fietse wat ek al gery het, en die afmetings van die fiets pas my lengte perfek. Nog meer elektroniese hulpmiddels het bygekom en die analoogskerm is met ’n vloeikristaleenheid vervang. Hierdie byvoeging het gemengde reaksie uitgelok. Alhoewel dit ’n uitstekende eenheid was, het die puriste ’n tradisionele spoednaald gevra en jonger ryers het weer gewonder hoekom dit nie ’n volkleurskerm is nie. Sedert bekendstelling het Suzuki sowat 15 000 van hierdie modelle wêreldwyd verkoop.

Nou het Suzuki hul mededinger vir 2023 bekendgestel, en die topmodel heet nou die V-Strom 1050 DE. Alhoewel Suzuki twee variante van die V-Strom gaan hê, het Suzuki Suid-Afrika ons meegedeel dat hulle net die DE‑variant gaan invoer. Hierdie fiets behoort teen die middel van volgende jaar plaaslik beskikbaar te wees.

Die DE is duidelik gerig op die ryer wat die meeste van sy rit ver weg van die teerpad gaan ry. Vir hierdie doel het die DE nou ’n 21”‑voorwiel. Met speke, natuurlik. Die vering bied ook bykomende reikafstand.

Die handvatsels en voetrusse is breër en die fiets kry ’n aluminium‑beskermingsplaat onder die enjin. Iets wat al lank op die V-Strom ontbreek, is die vermoë om die agterrem se sluitbeheer af te sit as jy jou op ’n grondpad bevind. Suzuki het nou ’n doelgemaakte ryprogram bygesit vir grondpad ry wat jou die vermoë gee om die sluitbeheer heeltemal af te skakel. Suzuki het selfs so ver gegaan as om die fiets met ’n sterker, duursamer ketting toe te rus.

Ek is baie bly om te sien dat die skerm nou wel ’n volkleur 5” TFT gaan wees! Die fietse gaan ook in ’n reeks nuwe kleure beskikbaar wees. Suzuki sal ’n reeks bybehore beskikbaar stel om jou V-Strom goed toe te rus.

Die V-Strom 1050 word gereeld oorgesien as ’n ernstige dubbeldoelfiets, maar met hierdie nuwe opdaterings behoort hy goed te vaar teen die kompetisie. Ek het nog altyd van die groot Suzuki gehou, en nou lyk dit asof Suzuki ernstig is om die mark aan te durf.

Die feite:

Enjin1037 cc 90° V-twee
Gewig (Nat)252 kg
Grondvryhoogte190 mm
Saalhoogte880 mm
Tenkkapasiteit20 ℓ

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jack ·

Wat sou die kraguitset van die enjin wees en teen watter revolusies?

Brian ·

Die krag het onveranderd gebly van die vorige model. 107 pk teen 8 500 rpm.

Pieter ·

Lyk baie indrukwekkend. Al wat my pla is daai 20l tenk. Ek is gewoond aan 17l op my ou Dakar. Die een se brandstofverbruik gaan seker dubbeld die Dakar s’n wees, veral as ‘n mens ‘n bietjie “entosiasties” ry. :-) Maar verder baie mooi. Sal graag meer wil weet oor die enjin se werksverrigting.

Brian ·

Pieter, die V-Strom lewer 107 pk teen 8 500 rpm. Die enjin het onveranderd gebly van die vorige model, so dit was nie eers genoem in die persverklaring nie. Een ding waaroor ons almal wonder is hulle “Gravel mode”. Ons sal maar geduldig moet wag tot volgende jaar dat ons dit op die proef kan stel!

SjN ·

Fiets vertoon baie mooi, sal met groot belangstelling statistiek en terugvoering dophou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.