Toyota se Starlet skitter nou nog helderder

Deur Bernard Hellberg Jr.

Toyota is al vir etlike jare die land se topverkoper, en al troon die Hilux-bakkie breëbors uit bo-aan die lys van Toyota suksesverhale, word al meer motors in die kompakte kategorie belangrike verkopers vir dié handelsmerk.

Met die eerste generasie Starlet het Toyota bewys dat kompak nie beknop of lui hoef te wees nie, en dat nie net die Volkswagen Polo Vivo kopers se beursies laat oopvlieg nie. Dat Toyota se nuweling binne minder as twee jaar ʼn allemintige 18%-markaandeel in die Starlet se B-segment kon verower, bewys hoe gewild die motor in ʼn kort tydperk geraak het.

Nóú trek Starlet ʼn nuwe baadjie aan, en skitter sy ster helderder met aanpassings wat dié buksie heelwat opknap.

Toyota sê hy het Starlet-kopers se voorstelle ter harte geneem en verskeie verbeterings aangebring wat die kar vernuwe met meer styl, meer tegnologie, en meer krag, sonder om waarde vir geld in te boet.

Ek was nie mal oor die vorige Starlet se ontwerp nie. Die kar het amper oudmodies gelyk, en was na my mening toe reeds gereed vir ʼn opknapping. Dit is beslis nie meer die geval nie.

Nuwe hoofligte pryk nou in ʼn splinternuwe sierrooster met verchroomde mislig-omhulsels en oorgrootte “vlerke” weerskante van die Toyota-kenteken. Nuwe sypanele en deure help om die algehele ontwerp meer vaartbelyn en sportief te laat lyk, terwyl nuwe agterligte en ʼn herontwerpte stamper die algehele prentjie netjies afrond.

Al was die vorige Starlet nie juis swak toegerus in die kajuit nie, het Toyota ook hier na kopers geluister en spoggerige aanpassings gemaak.

Daar is altesaam vyf Starlet-modelle en drie graderingsvlakke – Xi, Xs en Xr – en almal pronk met ʼn nuwe tweekleurige instrumentpaneel in grys en swart, met óf blou óf swart deurpanele. Die Xi en Xs word onderskei van die Xr met swart aksente wat soos koolstofvesel lyk, terwyl die Xr se chroomafwerking werklik stylvol lyk.

Opgraderings aan die kajuit bring ʼn 7 duim‑raakskerm na die Xi- en Xs-modelle, terwyl die Xr ʼn pragtige 9 duim‑hoëresolusieraakskerm ontvang. Al gebruik jy nie Apple CarPlay of Android Auto nie, bied die stelsel doeltreffende funksionaliteit om jou vingerpunttoegang tot alle nodige inligting te gee. Boonop is Toyota Connect standaard op alle Toyotas, wat 15 Gb data maandeliks tot jou beskikking stel deur die kar se ingeboude Wi-Fi‑stelsel.

Al is die Xr die enigste van die drie graderings met lugtoevoer vir die agterste passasiers, spog die Starlet met USB-punte voor en agter, outomatiese lugreëling en elektriese vensters.

Rytyd tydens die bekendstelling in die Kaap was redelik beperk, maar met ʼn eerlike en afgeronde ryding soos die Starlet kort jy nie ure agter die stuur om te weet waarvan jy hou en waarvan nie.

Die nuwe 1.5 liter‑ atmosferiese viersilinderenjin is een van die motor se hoogtepunte. Al skiet dié enjin se 77 kW en 138 Nm nie juis vir die sterre nie, lê die Starlet se superkrag in sy goeie brandstofverbruik.

Oor Chapmanspiek het ons ʼn gemiddeld van bykans 6,4 ℓ/100 km kon handhaaf, wat werklik lig is. Toyota reken dat so min as 5,4 ℓ/100 km moontlik is onder die regte omstandighede, maar met tot vyf passasiers en hul bagasie in die lekker groot kattebak, sal hierdie syfer waarskynlik nie gou binne Jan Alleman se bereik wees nie.

Die Starlet het hom reeds goed in Suid-Afrika bewys, en vir kopers wat op soek is na goeie waarde, moderne funksionaliteit en puik bougehalte, sal die kar se ster aanhou skitter.

Die reeks lyk só:

Starlet 1.5 Xi77 kW/138 NmR226 200
Starlet 1.5 Xs Handrat77 kW/138 NmR239 100
Starlet 1.5 Xs Outo77 kW/138 NmR261 100
Starlet 1.5 XR Handrat77 kW/138 NmR294 900
Starlet 1.5 XR Outo77 kW/138 NmR313 300

Starlet-modelle word met ʼn diensplan (met drie dienste/45 000 km) verkoop, terwyl ʼn drie jaar/100 000 km‑waarborg geld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SjN ·

Toyota begin ook nou met elke jaar n ander naam vir hul reeks, hoekom torring aan resep wat al die jare gewerk het?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.