Triumph Tiger 1200 GT Pro: Is dit dalk die beste keuse?

(Foto: Brian Cheyne)

Ek was eenkeer op ’n kort fotografiekursus by ’n uiters bekwame troufotograaf. Tydens ons inleidende geselsie het hy vir ons sy kamera gewys. Dit was nie die vlagskipmodel nie. Trouens, nie eens die tweede duurste een nie. Iemand vra hom toe hoekom hy nie die duurste model het nie. Sy antwoord het my getref. Hy het gesê die groter (en duurder) model was oorgespesifiseer vir sy behoeftes. As ons tog net hierdie filosofie wil toepas as ons karre en motorfietse koop, sal die motorfietslandskap soveel anders daarna uitsien. Soms koop ons ’n voertuig met drome van verlate stofpaaie en klipperige bergpasse, net om nooit daardie drome waar te maak nie.

(Foto: Brian Cheyne)

Met die onlangse bekendstelling van die Triumph Tiger 1200-reeks naby Nelspruit het een fiets my na aan die hart gelê: Die Tiger 1200 GT Pro. Dit is die goedkoopste een in die reeks, en tog was dit my gunsteling tydens die toets. Die reeks bestaan uit die meer padgeoriënteerde GT‑model en die stofpad Rally‑weergawe. Vir elke model is daar ook ’n Explorer‑weergawe met ’n groter brandstoftenk en ’n paar ekstra items wat standaardtoerusting op die Explorer is. Ek het weer ʼn bietjie tyd op die GT Pro deurgebring en gewonder hoekom jy enigsins ʼn ander model sal oorweeg.

(Foto: Brian Cheyne)

Die Tiger 1200‑reeks is baie groot fietse. Nie net in kapasiteit nie, maar ook fisiek. Parkeer jy egter die GT langs die Rally, dan besef jy hoe hoog die Rally eintlik is. So, as lengte nie jou sterk punt is nie, dan moet jy dalk elders kyk.

My plan was om die Saterdagoggend vroeg Parys toe te ry, maar die weer het nie saamgespeel nie. Ek is nie nét ’n mooiweerryer nie, maar as jy iemand anders se R285 000 se motorfiets leen, moet jy eerder versigtig wees. Terwyl ek gewag het vir die reën om te bedaar, het ek my foon aan die fiets gekoppel. Triumph se toepassing laat die skerm as ʼn navigasiestelsel dien.

(Foto: Brian Cheyne)

Hierdie groot fietse met hul asaandrywing maak enige pad baie kort. Die grom van die drie-silinder is musiek in jou ore en die GT Pro het ’n baie gemaklike ryposisie met genoeg windbeskerming. Dan is daar ook luukshede soos verhitte grepe en spoedbeheer. As langafstand toer jou ding is, sal hierdie fiets nie teleurstel nie.

Ek was skaars weg, toe sak die reën weer uit. Die Tiger het verskeie ryprogramme en een van hulle is juis Rain. Die elektroniese hulpmiddels is volop op hierdie fiets, en die puriste sal dalk iets te sê hê daaroor, maar dit het vir seker my bas gered. By die oprit tot die snelweg het ek begin versnel om by die verkeer aan te sluit, toe die agterwiel oor die geel streep gaan. Die band het onmiddellik sy greep verloor en die fiets het begin gly. Sonder enige insette van my kant af het die elektronika ingegryp en die fiets weer in ’n lyn getrek. Dit was vinniger as wat ek ooit sou kon reageer.

Die volgende dag het ek uitgery vir ’n foto of twee op ’n klein tweespoorpaadjie. Daarna het ek ’n lang stuk grondpad gery en ek moet erken dat hierdie fiets min gelyke het op só ʼn stuk pad. Die vering sorg dat die wiele stewig op die grond bly en selfs dít was geen moeite vir die Tiger nie, allooiwiele en al. Êrens op my roete het ek ’n mooi groen veld gesien en daar ingery. Toe ek my foon wou uithaal vir ’n foto, het ek besef my foon is nie meer in my sak nie! Dit het gelyk of ek die Macarena-dans doen soos ek al my sakke klap met die hoop dat ek my foon sal raakklap. Ek besef toe ek het dit by my eerste stop gelos. As jy ooit getwyfel het oor die teerpadvermoë van die Tiger 1200, dan moes jy saam met my gery het terug na my foon toe. Die heelpad maal gedagtes van versekering en die frustrasie daarvan om ’n foon van vooraf op te stel. Die draaie verskyn voor my, en die Tiger reageer. Grondpad, teerpad en tweespoorpad, alles met lof geslaag.

En toe dink ek: Het jy regtig die Rally‑weergawe nodig? Hier waar ek gery het, is seker die rofste terrein wat ek ooit sal durf aanpak, so hoekom nog R20 000 spandeer op iets wat ek dalk nooit sal gebruik nie? Ek sal eerder die geld gebruik vir bagasie en reis. Jou behoeftes is dalk anders, maar vir my is die Tiger GT Pro net reg gespesifiseer. O, en ek het my foon gekry, dankie!

Klik hier vir die produkblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Karel Kobus Kruger ·

Selfs die GT Pro het nog te veel onnodige foefies, soos bv. om jou foon te kan koppel.
Ek het onder andere n standaard 1200GS, en ek sou verkies dat hy nie cruise control en n quick shifter moes hê nie. Maar hy kom standaard so uit, so ek moes toe onnodig geld betaal. My 800GS is darem gelukkig sonder enige onnodige foefies.
Ek wens Kawasaki wil n tweesilinder groot boetie vir die KLR650 maak, iets soos n KLR900. En hou hom net so basies soos die KLR650. Die KLR650 is bietjie stadig op lang teer.

CA ·

Jy dink die 650 is stadig op lang teer…? Jy het nog nie my Hero Eco 150 op die N1 getoets nie. Maar ek kom weldra anderkant uit :) Ja en hy het nogal ‘n foonkoppeling vir laai – dis nodig want hy is laag teen die tyd dat jy jou bestemming bereik…

Laksman ·

hahaha dink dis juis daai foonkoppeling wat al jou spoed en krag drein ;)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.