Twee bakkies: Een goed, een swak

Ek sal die bakkiemark in verskeie segmente opdeel: Heel bó het ons pasgemaakte speelgoed soos Ford se Raptor, Jeep se Gladiator, Toyota se ’Cruiser en Isuzu se AT35. Almal oor R1 miljoen en absoluut ʼn speelding.

Dan kry ons die luukse dubbelkajuite soos Ford se Wildtrak, Volkswagen se Amarok Aventura, Nissan se Pro4X en Isuzu se V-Cross. Ek hou meer van die gevestigde handelsmerke se waarde-aanbiedings; ek glo dít is waar Jan Alleman kan koop. Toyota se 2.4 Raider X, Ford se 2.0‑enkelturbo Ranger XL, Isuzu se 1.9 LS en Nissan se Navara SE. Dié bakkies is almal net-net oor die halfmiljoen-merk.

Dan sit ons met twee ander bakkies – GWM se P-Series en Mahindra se Pik Up. Die Pik Up is ʼn rateltaai mededinger in die handelsvoertuigmark, maar as ʼn opgedolliede luukser dubbelkajuit sit hy die pot mis met die Mahindra Pik Up Dusk. Die P-Series is nie sonder kwale nie, maar maak ʼn baie sterker saak vir homself uit as die Mahindra.

Ontwerp

GWM P-SeriesMahindra Pik Up Dusk
4/53/5

GWM se P-series kan sy man staan teen enige van die hoofstroombakkies in die ontwerpafdeling. Hy was selfs die eerste bakkie om ʼn baie slim trappie in die agterste klap in te sluit wat dit maklik maak om agterop die bak te kom. Die Mahindra in Dusk-vorm is beslis nie die lelikste bakkie op aarde nie, maar dit is ʼn baie ou ontwerp wat met tierlantyntjies opgetof is.

Binneruim

GWM P-SeriesMahindra Pik Up Dusk
5/52/5

 Hier kry die Mahindra die laagste punte wat ek al ooit toegeken het. Die binneruim van die Mahindra is stokoud en bitter ongemaklik. ʼn Mens sit teen die deur en die bestuursposisie is net nie gemaklik nie. Die plastiek is hard, eerder gepas vir ʼn Indiese mark twintig jaar gelede. Die GWM se P-Series het ʼn puik binneruim. Die materiale is pragtig en die ontwerp luuks, om nie eens te praat van die goeie bougehalte nie. Die P-Series is lekker breed, én sy sitplekke agter groot.

Enjin, ratkas en dryfstelsel

GWM P-SeriesMahindra Pik Up Dusk
4/53/5

Die GWM se probleem hier is daai laaste titseltjie verfyning op die versneller. Daar is ʼn klein bietjie turbotraagheid – maar jy kan leer om daarmee saam te leef. Die ratkas wissel lekker seepglad ratte en die dryfstelsel is stil. Die Dusk se mHawk-enjin is puik, maar die dryfstelsel voel asof dit uit ʼn swaardiensvragmotor kom. Die outomatiese ratkas help effens om dinge egaliger te maak.

Ritgehalte, padhouvermoë en veiligheid

GWM P-SeriesMahindra Pik Up Dusk
4/53/5

Die Dusk is met groot modderterreinwiele toegerus om cool te lyk. Die balansering daarvan is amper onmoontlik en die geraas katastrofies. Die GWM se rit en padhouvermoë is in die kol. Die GWM spog ook met ses lugsakke teenoor die Mahindra se twee.

Opsomming

GWM P-SeriesMahindra Pik Up Dusk
17/2011/20

Dit lyk of ek nou onnodig lelik is met die Mahindra, maar dis ʼn ou produk wat ʼn wyle gelede verby sy beste is. Ja, die enkelkajuit as werkesel is onweerlegbaar teen sy prys, maar as ʼn dubbelkajuit vir die gesin kom hy nie die mas op nie. Teenoor die eerste keer wat ek met die P-Series gery het, is dit reeds ʼn groot verbetering. Ons soek nou net die 2.4‑enjin, nóg beter kalibrasie en 3.5 ton‑sleepvermoë. Teen dié pryse is albei dié opgedolliede weergawes maar duur, en dan wonder ek of ʼn mens nie eerder in die hoofstroom moet koop nie?

Prys

GWM P-Series 2.0TD DC Limited 4×4Mahindra Pik Up 2.2 CRDe DC 4×4 S11 Karoo Dusk
R694 950R624 999

Mededingers op prys lyk só

Ford Ranger 2.0 SiT XL 4×4‑outo, dubbelkajuitToyota Hilux 2.4 Raider 4×4‑outo, dubbelkajuitIsuzu D-Max 1.9 LS 4×4‑outo, dubbelkajuit
R663 100R674 800R685 200

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.