Vroue touwys gemaak oor motorfietsry

(Foto: Kevin Sanders)

Dit bly vir my wonderlik om te sien hoe gou iemand wat leer motorfiets ry in ’n baie kort tyd vorder van sweterige palms en benoude gesiggies tot breë glimlagte en vertroue. Ek het dit pas weer ervaar met die derde aanbieding van ’n dag spesiaal vir vroue wat graag wil leer motorfiets ry.

Hierdie inisiatief het gegroei uit die #Iconicwoman-veldtog wat aan die einde van 2020 deur die vrouerenjaer Paige Lindenberg van stapel gestuur is. Sedertdien het Mercia Jansen, areabestuurder vir Motul Suid- en Oos-Afrika, hierdie projek verder gevoer. Sy het opgemerk dat al hoe meer vroue opdaag vir hierdie geleentheid, wat net weereens bewys dat daar ’n groot behoefte is aan dae soos dié.

Natuurlik kan so ’n dag nie plaasvind sonder instrukteurs, motorfietse en opleidingsfasiliteite nie. Die geleentheid is weer gehou by ADA se puik terrein en Honda het weer ingestaan om die fietse te borg. Een ding wat ek regtig sonder skroom kan sê, is dat ADA se span van die beste in die bedryf is. Ek is elke keer beïndruk met hulle geduld en die manier hoe hulle so ’n geleentheid aanbied. Enigiemand sal kan leer motorfiets ry onder hulle toesig en opleiding. Honda het ook ’n wye reeks motorfietse beskikbaar gestel om van beginners tot ervare ryers te kan betrek. Die amptelike verspreiders van Motul-produkte in Suid-Afrika, Bikewize, was ook daar om vrae te beantwoord oor Motul se produkte.

Tydens die registrasie het ek met ’n paar vroue gesels en een opmerking wat ek meer as een keer gehoor het, was: “Ek is nou moeg om agterop te sit. Ek wil nou self ry.” Ander weer het al leer motorfiets ry, maar kort nou net die vertroue. Op só ’n dag kan jy in ’n beheerde en veilige omgewing leer. Die instrukteurs sal ook vinnig jou vaardigheid beoordeel en jou dalk na ’n meer gevorderde groep skuif as hulle dit nodig ag. Een van die vroue daar het al ’n lisensie, maar het nog net op teer gery. Hier kon sy nou die fynere kunsies van grond ry ook leer. Hoe jy ’n noodstop uitvoer op grond verskil heelwat van hoe jy dit op teer sal doen. Maar sekerlik die storie wat my die meeste aangegryp het, was ’n vrou wat pas albei haar ouers in ’n versorgingseenheid geplaas het, en terstond besluit het om te begin lewe. “Die lewe is kort,” sê sy. “’n Mens moet voluit lewe!”

Die dag is egter meer as dit. Die meeste vroue het familielede ook saamgebring en terwyl die mans hulle vroue aanmoedig, het die kinders hulself vermaak met die Motul-trapkarre! Ná middagete kon almal ’n plaaslike jenewer proe.

Hierdie geleentheid word een keer per jaar aangebied, maar volgens Mercia Jansen is die aanvraag van sodanige aard dat hulle twee sulke geleenthede in 2023 oorweeg. Hou gerus Motul se sosiale media, Facebook en Instagram, dop as jy sou belangstel om volgende jaar deel te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Wat is mooier as mooi? n mooi meisie wat op n mooi motorfiets ry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.