VW se baanbrekerbus…

Daar is ʼn nostalgie wat met ʼn Kombi gepaardgaan. Ou herinneringe word opgeroep – David Kramer, padkos en die lang pad see toe, ʼn wildtuinvakansie, kamp en draairoomyse. Die Caravelle se tweekleur-afwerking verseker dat ʼn tikkie nostalgie behoue bly terwyl die moderne kajuit en afwerkings die kombi in die 21ste eeu inlui.

Ek het onlangs pa geword en ná die landwye inperking vakansieplanne vir April deurmekaargekrap het – is dit geskuif na einde November. Ek besit ʼn halftonbakkie, en my vrou ʼn Hyundai i20. Albei voldoende in hul eie reg, maar nie een van hulle is regtig ʼn groot gesinsbuks om ʼn vakansie, en al baba se benodighede wat moet saamry, aan te durf nie.

Gelukkig kon ek met Volkswagen se opgeknapte Caravelle 2.0BiTDI 146kW Highline 4Motion die lang pad aandurf. Al is dié die jongste Caravelle, dra hy steeds die kenmerkende ontwerp van ʼn Volksiebus, nou net baie deftiger.

Die twee groot glydeure is elektronies en jy hoef net liggies aan die handvatsels te trek dan gly die deure self oop. Daar is ook ‘n knoppie op die sleutel en op die paneelbord om sake verder te vergemaklik. Die agterste ry sitplekke kan op spore vorentoe gly terwyl die eerste ry sitplekke ook in die rondte gedraai of platgeslaan kan word. Wanneer die voorste sitplekke omgedraai word verander die agterste kajuit in ‘n klein sitkamer en daar is selfs ʼn konsole wat in ʼn klein opvoutafeltjie verander. Daar is talle hokkies en vakkies waar jy onder meer jou slimfoon kan herlaai, koppel of bêre. Met sewe sitplekke en plek vir ʼn wavrag bagasie is die Caravelle die perfekte ryding om jou gesin in gerief en met styl te vervoer.

Ook goed aangesien baba Lara ʼn waentjie, wieg, drastoeltjie, bottels, doeke, melk, kos en vele meer nodig het om gemaklik te wees. Volkswagen se Caravelle het ʼn groot genoeg kattebak om alles in te sluk.

Die N3 na Natal se Noordkus is in ʼn japtrap deur die Caravelle verorber. Volkswagen se nuwe Caravelle word deur ʼn opgeknapte 2,0 viersilinder dubbelturbodiesel met 146 kW en 450 Nm aangedryf. Krag word deur ʼn 7-spoed dubbelkoppelaar DSG ratkas aan al vier wiele gestoot. Op die oop pad kan die Caravelle naby aan sy beweerde 8,2 ℓ/ 100 km brandstofverbruiksyfer kom. Dit gee vir die Caravelle ʼn reikafstand van 976 km op 80 ℓ diesel.

Die Caravelle is ʼn puik gesinsryding met oor genoeg plek en funksionaliteit wat sorg vir pure rygenot. Gemak, ruimte en weelde maak die lang pad see toe soveel korter. Die Caravelle ry heerlik stil en sag en ondanks sy grootte is daar meer as genoeg verbysteek-krag. Die outomatiese ratkas sorg vir seepgladde ratwisseling met krag wat na al vier die wiele gestoot word. Onbelemmerde sig en gemaklike sitplekke maak van die Caravelle ʼn lekker toerbus wat voorsiening maak vir elke lid van die gesin.

Dit is baie maklik om die Caravelle op te som. Volkswagen skaaf al sedert 1949 aan die konsep… 72 jaar lank. Daar is nou nét die Caravelle in die reeks beskikbaar, maar die res van die Kombi-reeks word binnekort opdateer. In Suid-Afrika is ʼn Kombi sinoniem met groot gesinne, en mens kan sien hoekom.

Die reeks lyk só:

Volkswagen Caravelle 2.0 BiTDI 146 kW Highline 4Motion DSG146 kW/ 450 Nm8,2 ℓ/ 100 kmR1 116 600

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/ 120 000 km waarborg en 5 jaar/ 60 000 km omvattende instanhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Hyundai H1 2.5 VGTi Elite125 kW/ 441 Nm9,8 ℓ/ 100 km5 jaar/ 150 000 km voertuigwaarborg

7 jaar/ 200 000 km dryfstelselwaarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R732 900
Ford Tourneo Custom 2.0SiT SWB Limited136 kW/ 415 Nm6,7 ℓ/ 100 km4 jaar/ 120 00 km waarborg

6 jaar/ 90 000 km diensplan

R763 200
Kia Grand Sedona 2.2CRDi SXL147 kW/ 440 Nm8 ℓ/ 100 km5 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km diensplan

R895 995
Toyota Quantum 2.8 VX Premium115 kW/ 420 Nm8,7 ℓ/ 100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

9 dienste diensplan

R985 600
Mercedes-Benz V250d140 kW/ 440 Nm6,7 ℓ/ 100 km2 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 186 757

Die Caravelle en V-klas sit heel bó aan dié segment. Die Hyundai en Ford is winskope en sit saam, dán is die Kia en Quantum in ʼn ander klas wat luuksheid aanbetref. Die Kia en Mercedes-Benz is die kleinstes tussen dié almal terwyl die Hyundai en Toyota die meeste sitplekke bied. Elkeen is uniek op sy eie manier. Gaan toetsbestuur almal, een sal aan jou vereistes voldoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Boksombende ·

Ek sal absoluut graag ‘n kar soos die he vir my familie van sewe, maar teen die prys wat gevra word is die kar ongelukkig buite die bereik van meeste mense.

Eugene ·

Is die vergelykende voertuie op julle lys ook almal 4 wiel aangedrewe, soos die Caravelle?

HJvdb ·

Eugene, ek is bevrees dat slegs die Caravelle 4-wiel aangedrewe is.

HJvdb ·

Ons het verlede jaar vir ons n Toyota Quantum 2.8 VX Premium gekoop en komende van my vrou wat haar Toyota VX Cruiser ingeruil het kan ek die voertuig regtig aanbeveel.

Afwerking is duursaam en stylvol.

Sitplek uitleg werk fantasties en sit BAIE gemaklik, die en langpad van NW af Kaap toe was n fees teen n gemaklike spoed van 150km/h. Trek selfs ons dubbel-as Exclusive sonder enige probleme teen 110km/h.

Padhou-vermoe op grondpad (Ons bly op n plaas buite die dorp), teer droog of nat is fantasties, automaties, klein draai radius genoegsame “ground clearance” vir grondpad gebruik, “Traction control” en wonderlike rem stelsel.

As ek my nou vrou vra of sy die voertuig sal wil inruil op n VX Cruiser word ek geantwoord asof ek “traction” verloor het.….LOL

Dus my opinie…..Toyota het raak geslaan met die bus en ander bus modelle wat ons ook gery het soos Mercedes, VW en Huyndai gaan moet sokkies optrek op met die Toyota te kompeteer.

MT ·

Verstaan ek jou korrek; jy noem dat jy teen 150km/h met ‘n voertuig op Suid-Afrikaanse paaie ry, maw 30km/h vinniger as die maksimum spoedgrens op enige openbare pad in die land?

Jy begryp seker nie dat wanneer jy 30km/h of meer as die spoedgrens op ‘n gegewe stuk pad jaag (want dis tog maar wat dit is), jy onmiddelik ge-arresteer kan word.

Ek vind dit altyd vreemd dat Suid-Afrikaners so maklik met oortredings kan spog, maar dan sal kla wanneer bv. die regering dit ook doen. Vreemde gedrag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.