Wilder as wildtuin

(Foto: Verskaf)

As jy dink Simba kan brul of byt – dan het jy nog nie met ʼn Mercedes-AMG A45S te doen gehad nie. Ons was ʼn wyle terug by sy bekendstelling en ons het hom bitter kort gery op ʼn reguit stukkie pad. Ek was bietjie – teleurgesteld is nie die regte woord nie – uhmmm, is daar so ʼn woord soos onderweldig?

So daag ʼn dofgryse op in die parkeerterrein. Hy’s werklik wintie met klomp plakkertjies op en ʼn reusedrukvlerk agter. Soos ek inklim, besef ek dat die sitplekke werklik lekker sit en mens kan dit stel tot dit net reg voel. Die stuurwiel kom lekker ver uit naby aan mens sodat jou skouers nie seer raak nie. Die binneruim het harde plastiek hier en daar, maar die skerms is fantasties en daar is fisieke knoppies vir die dingetjies waarmee ek gereeld werk, soos die volumeknoppie.

Soos mens die 2.0-viersilinderturbopetrolenjin aanskakel, gee hy ʼn geringe blaf … maar soos hy staan en luier, skud en vibreer dinge – amper soos ʼn resiesperd se spiere wat trek soos hy regstaan om weg te spring.

Mens vat eers so ʼn paar kilometer om die leeu (dis mos ook ʼn kat) uit die boom te kyk … en ná jy voel jy het alles onder die knie, begrawe jy jou regtervoet in die hoek. Soos ʼn atoombom is mens in ʼn oogwink oor die 200 km/h en daar is nog drie ratte om te gaan!

Op my roete huis toe van die kantoor af is daar ʼn paar stukke teer wat mooi is met moeilike draaie en kurwes. Ek kies die Sport Plus-rymodus en sê vir die AMG: “Doen jou bes.” Soos ʼn vuurpyl skiet ek uit die laaste draai en ek is stomgeslaan. By die verkeerslig klim ek eers uit om te kyk watter rubber onder die AMG sit – Michelin Pilot Sport Plus. Tans is daar net een band wat naby daaraan kom en dit is die Yokohama Advantan onder ʼn GR-Corolla.

Die 2.0-viersilinder onder die A45 se kap is die sterkste massaproduksie-viersilinder ter wêreld: 310 kW en 500 Nm. 0–100 km/h neem ʼn geklike 3,9 sekondes. Dit is werklik indrukwekkend. Hy is veilig ook – nege lugsakke en al die aktiewe en passiewe veiligheidstelsels wat mens verwag van dié soort voertuig. Op die pad is hy hard, maar nadat ek gesien het wat die outjie in die padhouvermoë-afdeling kan doen, sal ek eerder my bek hou. Sy byt is groter as sy blaf.

Ek sal die A45 só opsom: In ʼn wêreld waar die binnebrandenjin daagliks in die spervuur is, is dit vir my ʼn riem onder die hart dat sulke lawwe blitsbuksies nog bestaan.

Die A-klas AMG-reeks lyk só:

Mercedes-AMG A35 4Matic sedan235 kW/400 Nm0–100 km/h in 4,8 sek

250 km/h topspoed

R1 176 273
Mercedes-AMG A35 4Matic luikrug235 kW/400 Nm0–100 km/h in 4,7 sek

250 km/h topspoed

R1 285 854
Mercedes-AMG A45S 4Matic+ luikrug310 kW/500 Nm0–100 km/h in 3,9 sek

270 km/h topspoed

R1 440 693

 

Die kompetisie lyk só:

Audi RS3 Sportback quattro294 kW/500 Nm0–100 km/h in 3,8 sek

250 km/h topspoed

1 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 296 500
BMW M2 Coupé338 kW/550 Nm0–100 km/h in 4,1 sek

250 km/h topspoed

2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 503 975
Porsche Cayman GTS 4.0294 kW/430 Nm0–100 km/h in 4,0 sek

288 km/h topspoed

2 jaar/onbeperkte km-waarborg

3 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 758 000

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.