Zontes se treffende nuwe liggewig

(Foto: Brian Cheyne)

Die eerste keer dat ek hierdie nuwe Zontes gesien het, het ek in my spore vasgesteek en gevra: “Wat is dit dié?” Jy kan die fiets eenvoudig nie miskyk nie, selfs al is dit ’n kleine 155 cc-motorfietsie. Zontes het nog altyd vir my mooi fietse gemaak, maar hierdie een is iets besonders.

Die stilering van die fiets is uiters aggressief met hoeke en lyne oral. Die stert wip hoog op en met die nommerplaat wat laag oor die agterwiel sit, lyk die Zontes soos ’n kaalfiets behoort te lyk.

(Foto: Brian Cheyne)

Vir kostebesparing gebruik Zontes heelwat van sy komponente op verskillende modelle en die 155 is geen uitsondering nie. Die wiele, byvoorbeeld, is nou al die bekende Zontes-ontwerp en daar word heelwat van die brons verf op die gegote aluminium-onderdele gebruik. Alles dien om die Zontes-reeks herkenbaar te maak waar ook al jy een sien. Die toetsfiets het rooi verfaksente wat die ontwerp mooi aanvul.

Die voorlig bestaan uit twee LED-ligte wat bo-op mekaar monteer is. Die instrumentasie is dieselfde klein vloeikristaleenheid van Zontes se S250.

(Foto: Brian Cheyne)

Dit is eintlik jammer, want Zontes se TFT-skermpie, wat op die 310-modelle verskyn, is baie goed. Aan die ander kant sou dit dalk net afbreuk gedoen het aan die ontwerp. Die kontroles is eg Zontes.

Die spesifikasievlak van die 155-U is hoog vir hierdie klas fiets. Die enjin is waterverkoel en toegerus met brandstofinspuiting. Daar is selfs ’n USB-poort in die bakpanele gemonteer om jou foon of GPS aan te koppel. Sluitwering is standaard op hierdie fiets.

(Foto: Brian Cheyne)

Die ZT155 is ’n klein fiets, gemaak vir pendel. Hy vertoon nie net kompak nie, hy is ook. Die saal is klein met ’n harde plastiekinsetsel aan die agterkant. Dit kan ongemaklik raak, tensy jy jou ryposisie effens vorentoe aanpas. Verder is die fiets verbasend gemaklik, ondanks sy beknopte afmetings.

Iets wat ek baie geniet het, is die verkorte uitlaatpypie. Dit gee aan die fiets ’n parmantige grom. Dit is asof die fietsie dink hy is groter as wat hy eintlik is. Die fiets trek heel goed vir sy grootte en was ’n fees in die verkeer.

Ek het ’n Suzuki 155 besit wat gedien het as my daaglikse pendel van die Gautreinstasie tot by ons kantoor en as ek nou daardie oefening weer moet doen, sal ek beslis die 155-U oorweeg. Dit is ’n ongelooflike mooi fiets met genoegsame woema om kort ritte hope pret te maak.

Zontes kon nog nie ’n prys verskaf nie, maar dit beloof om uiters mededingend te wees. Die eerste besending behoort in die derde kwartaal van 2021 hier aan te land.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.