Onderwysers hier is raad vir uitputting, uitbranding

Foto ter illustrasie. (Foto: Jeshoots.com/Pexels)

Deur Marlene Pienaar

Onderwysers in Suid-Afrika word toenemend blootgestel aan uitbranding weens die hoë eise wat aan hulle gestel word. Vir onderwysers om optimaal te funksioneer, leermateriaal effektief voor te berei en verstaanbaar oor te dra, effektief te kommunikeer, hulle klas optimaal te bestuur en goeie verhoudings te handhaaf met leerders, kollegas en ouers, is hulle eie emosionele, fisiese en psigiese welstand uiters belangrik.

Die realiteit is dat baie onderwysers nie algehele welstand ervaar nie. Hulle ervaar onbewustelik geringe tot matige simptome van uitbranding en in uiterste gevalle volkome uitbranding. Die rede hiervoor mag wees dat uitbranding nie akuut is nie, maar stadig met verloop van tyd ontwikkel. Navorsing op die gebied van uitbranding toon dat onderwysers onder volgehoue en ekstreme druk werk en dus erge spanning ervaar.

Die ervaring van ekstreme werksdruk tesame met eksterne stressors in ʼn eg Suid-Afrikaanse konteks, is slegs maar enkele van die uitdagings wat onderwysers daagliks die hoof moet bied en wat aanleiding gee tot negatiewe geestes- en emosionele gesondheid. Uitdagings sluit in armoede, gebrek aan hulpbronne, kurrikulum veranderinge, die implementering van nuwe onderwyswetgewing en -beleide, veelrassige en meertalige klasse, oorvol klaskamers, swak samewerking tussen die skoolbestuur en onderwysers, aggressiewe leerders sonder respek, spertye en hope administrasie. Hierdie stresfaktore mag lei tot uitbranding indien dit nie pro-aktief aangespreek en effektief hanteer word nie.

Hoogs gemotiveerde leerkragte wat die onderwys as roeping beskou en graag ʼn positiewe bydrae wil maak, wat hard werk en alles insit ten einde ʼn verskil te maak, is gewoonlik meer vatbaar vir uitbranding.

Individue met ʼn geneigdheid tot uitbranding is die wat sensitief, toegewyd, entoesiasties, empaties, en energiek is. Diegene wat hoogs betrokke is en somtyds onrealistiese hoë verwagtinge aan hulleself stel met betrekking tot hulle uitsette (Heine, 1992).

Uitbranding is ʼn staat van emosionele, geestelike, intellektuele en fisiese uitputting wat veroorsaak word deur voortdurende, onbehandelde negatiewe stres. Dit kom veral voor wanneer individue emosioneel oorweldig voel en ʼn onvermoë het om die spanning en eise van elke dag te hanteer. Voortdurende onbehandelde stres lei tot ʼn afname in belangstelling en motivering en veroorsaak onbevredigde daaglikse funksionering en verlaagde produktiwiteit.

Individue mag langdurige, kroniese moegheid en lae energievlakke ervaar, hulle mag hulpeloosheid ervaar, neerslagtig raak, emosioneel afgestomp raak, gevoelens van sinisme ervaar, en ʼn negatiewe ingesteldheid teenoor hulle werk en kollegas ontwikkel. Hulle onttrek van ander en eindelik mag hulle selfs voel dat hulle niks meer het om voor te leef of om by te dra tot ʼn sinvolle lewe nie.

Uitbranding vind geleidelik plaas. Dit is ʼn chroniese toestand wat stadig en ongemerk oor tyd ontwikkel. Dit is die resultaat van onbehandelde, volgehoue negatiewe stres en uitputting. Dit mag ʼn persoon onkant vang as daar nie aandag gegee word aan spesifieke simptome en waarskuwingstekens wat aanvanklik baie subtiel is, maar met verloop van tyd vererger nie. Dit is belangrik om daarop te let dat geen persoon gevrywaar word van uitbranding nie, veral nie individue wat in menslike hulpbron professies, soos die onderwys, werk nie.

Elke teken van spanning en stres, dien as ʼn rooi vlag en moet effektief hanteer word. Indien vroeë waarskuwingstekens aangespreek word, kan uitbranding in ʼn groot mate voorkom word. Indien die tekens van intense spanning en negatiewe stres geïgnoreer word, sal dit lei tot uitbranding.

Positiewe sielkunde soos aangewend binne die omraming van die Christelike geloof, bied ʼn verskeidenheid van streshanteringstegnieke – byvoorbeeld die aanvaarding en aanbied van vergifnis en die soeke na sin en verankering binne die geloofsoortuiging – wat individue in staat stel om negatiewe stres te identifiseer, effektief aan te spreek en te bestuur ten einde uitbranding te voorkom. Inoefening van hierdie streshanteringstegnieke uit die positiewe sielkunde stel individue in staat om ʼn kognitiewe gereedskapkas van streshanteringstegnieke op te bou. Hulle kan hierdie tegnieke dan gebruik sodra hulle bewus raak van die eerste tekens van stres in hulle liggame. Effektiewe aanspreek van korttermyn stres en die daarstel van langtermyn planne vir die hantering en bestuur van negatiewe stres en uitputting, kan uitbrandingsindroom onder onderwysers voorkom.

As deel van Die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA) se sterk gemeenskapsgefokusde benadering, bied ons ʼn agt-week-lange kursus aan wat spesifiek uitbranding in die onderwys aanspreek. Ons benadering word vergestalt in die teologiese opleiding wat die APA doen, asook die BA-, NGOS- en splinternuwe BSocSci-programme. Ons bied voortgesette professionele toerustingspuntkurssusse aan wat geakkrediteer is by die Suid-Afrikaanse Raad vir Onderriggewers (SACE) ten einde onderwysers te bemagtig en te ondersteun.

Hierdie werkswinkel is ʼn pro-aktiewe voorkomingsprogram wat gerig is daarop om by onderwysers bewustheid te kweek van die oorsake, simptome en gevolge van volgehoue stres, uitputting en uitbranding. Die faktore in die onderwys wat bydra tot die ervaring van negatiewe stres, raak toenemend kompleks. Langtermyn blootstelling aan negatiewe stres kan tot uitbranding lei.

Bewustheid van die probleem en die effektiewe hantering daarvan is noodsaaklik ten einde die aftakelende effek wat dit op liggaamlike, emosionele en geestelike welstand het, te voorkom.

Die kursus het ten doel om alle onderwysers te bemagtig met die nodige kennis, streshanteringsstrategieë en -vaardighede om volgehoue negatiewe stres effektief te hanteer en sodoende uitbranding te voorkom.

Verdere opleiding vir onderwysers:

Die AP Akademie bied in November ʼn reeks ope aande vir sy toerustingspuntkursusse aan. Die reeks artikels sal die volgende onderwerpe aanspreek:

  • Probleemgedrag in die klaskamer met Mia Coertze
  • Neuromotoriese ontwikkeling en integrasie met Adél Breytenbach
  • Seksuele misbruik en etiek met Nolene Rust
  • Kreatiwiteit en innovasie met Freek de Villiers
  • Gesonde interpersoonlike verhoudings met Tildie de Villiers
  • Uitbranding en selfsorg met Marlene Pienaar

Vir meer inligting oor die TPK se ope aande, besoek www.apa.ac.za/toerustingspuntkursusse-tpk-ope-aande/

Vir meer inligting oor TPK, besoek www.apa.ac.za/toerustingspuntkursusse/ of stuur ʼn e-pos aan [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.