Die wonderwêreld van gehoor bly ’n geskenk

Argieffoto (Foto: All Ear Plugs)

Deur Lynette Snyman

Die vermoë om te hoor maak ons “deel” – die bekende aanhaling van Helen Keller lui dat blindheid ons afsny van dinge, maar dat gehoor ons afsny van mense.

As ouers deel ons drome waar ons kinders inskakel by die horende wêreld. Veronderstel hierdie drome spat aan skerwe na die nuus van ʼn gehoorverlies.

Om gediagnoseer te word met gehoorverlies hoef geensins meer ʼn negatiewe konnotasie te hê nie.

Oudiologie – die studie van gehoor en gehoorafwykings – is ʼn veld toegewy aan mense met ouditiewe en vestibulêre disfunksies. Oudioloë gebruik gesofistikeerde toerusting om, met akkuraatheid, die tipe probleem te bepaal. Inligting en volgehoue ondersteuning word aan die persoon met die gehoorverlies, asook families gebied.

Daar is ʼn verskeidenheid oplossings en uitkomste vir mense met gehoorverlies.

Gehoorapparate soos Signia (Siemens), Oticon, Widex, Unitron en Starkey, om maar net ʼn paar te noem, versterk die gehoordrempels waar die gehoorverlies bevestig is.

Waar gehoorapparate nie effektiewe versterking bied nie, is inplantings ʼn opsie.

Die brein interpreteer klanke wat ons ore hoor, sodat ons die omgewing om ons beter kan begryp en spraak kan verstaan. Die vermoë om te hoor het daarom ʼn direkte impak op ons lewenskwaliteit.

Gehoor stel ons in staat om te leef en te beleef, te kommunikeer, leer en speel. Gehoor verhoog daarom ons lewensondervinding. Verbeel jou die ontbering om weerlig te sien, sonder om die donderslag te hoor.

ʼn Paar interessante feite van die menslike oor:

Die menslike oor se bewustheid van klankgolwe strek van 20 Hz tot 20 000 Hz.

Die kleinste beentjies van die hele liggaam word in die middeloor aangetref en word die malleus, incus en stapes genoem.

Die hardste been in die liggaam is die temporale been.

Gehoorverlies raak nie net mense bo 65 nie – ʼn groot persentasie van gehoorverlies word ervaar deur mense jonger as 65.

Die binne-oor, wat soveel wonders van gehoor insluit, is niks groter as ʼn potlood-uitveër nie.

Oorwas beskerm ons ore teen stof en vuilheid.

Geraas bo 70 dB oor lang periodes van blootstelling kan jou gehoor beskadig. Harde geraas bo 120 dB kan onmiddellike skade veroorsaak

Die buite-oor hou nooit op groei nie.

ʼn Mens kry elke jaar ʼn “nuwe” oorkanaal – die vel in die oorkanaal groei ongeveer 3,30 cm elke jaar!

Welkom in die wêreld my lieflingkind!
ʼn Wêreld vol wonder, soek en vind.
Hoor jy my stem as ek sag vir jou sing?
ʼn Wonder-wêreld van klank wat vreugde bring.
ʼn Vrolike neurie wat dra op die wind –
ʼn ryke simfonie wat mens en klank verbind.
Luister na die sagte, drup-plas-plof van die reën,
wat getuig van liefde en bedekte seën.
ʼn Rukwind wat huil en energiek aan ruite pluk –
akkoorde soos vioolsnare wat teen ebbehouttoetse druk.
Jy luister aandagtig, glimlag, pruil en boots na –
ek sien uit na jou woorde en my babbelbekkie se vrae.
Mag jy eendag skaterlag, hartsgeheime koester en luister –
as iemand sag of dringend in jou ore fluister.
Betree die arbeidsmag met ʼn vonkel in die oog en gespitste oor,
om nuwe kennis in te win, besigheidstrategieë te hoor.
Ons aftrede, vir sommige ʼn belewenis, ʼn nuwe seisoen,
om te deel met vriende en geliefdes, kuier, leef en doen!
Elke fase, elke asemteug geleen,
maar die heel meeste deur almal bejeën,
is die wonder van gehoor; musiek- ʼn engelekoor.

  • Besoek ʼn oudioloog en deel die seën en wonder van gehoor met geliefdes hierdie feesgety.
  • Lynette is ʼn oudioloog en spraakterapeut. Besoek Lynette se webwerf by Snymanaudio.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Miena ·

Ek het so 2 weke gelede n deeglike oudio gehoortoets moes gaan doen in Pta-experience hearing. En so my man saamgesleep. Hy het toe ook sommer ene gedoen. Ek is gediagnoseer met tinnitus en NIHL – vir my ouderdom (45) is die oudioloog asook die Oor-Neus & Keel Spesialis redelik bekommerd omdat dit al so gevorderd is vir n jong persoon. My man (50) – wel na jare op konstruksie werk asook oordromme wat gebars het as kind en dan weermag (artillerie)- is gehoorverlies so gevorderd by hom dat hy nou moet gehooraparate dra in beide ore. Iets waarvoor hy nie groot aanhanger is tans nie maar dis nou maar die lot. Ons moet hoor wat om ons aangaan. Ons beide se beroepe is van so aard dat ons nie sonder gehoor kan gaan nie. Ons werk in die Veiligheid en Risiko bedryf – konstruksie en mynbedryf. Ons moet te alle tye kan hoor wanneer daar noodseine uitgaan of insidente oproepe inkom. Maar helaas is ons beveel om nou jaarliks ons oudio toetse te gaan doen. Dankie vir tegnologie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.