Gehalte- tweedehandse klere antwoord vir groeiende spruite

Argieffoto. (Foto: Cotton Bro/Pexels)

Enige ouer kan getuig van die tempo waarteen kleingoed hulle klere ontgroei en die stres van sente omdraai om klere elke seisoen te vervang.

Nuwe ouers word ook gedurig met hope skattige babakleertjies bederf en sit naderhand met kaste propvol klere wat te klein is en waaraan die prysetikette dikwels nog hang.

Baie wil boonop hul deel doen om die besoedelende impak van massaproduksie te bestry.

Reklamekenner Paul de Klerk is een van dié ouers en hy het besluit om ’n plan te beraam met die “ontploffing van kinderklere” wat sy huishouding jaarliks tref.

“Ek het ʼn sesjarige en ʼn driejarige, so ek verstaan hoe vinnig kinders deur klere gaan en hoe duur kinderklere van goeie gehalte geword het. Die pandemie het my ook laat besef hoe moeilik dit vir sommige ouers gaan wees om hulle kinders se klere te vervang en ek het gedink daar moet ʼn manier wees om albei partye te help.”

De Klerk en sy sakevennoot, Estée Grobler, het einde 2021 besluit om Jolly Monsters op die been te bring. Dit is ʼn aanlyn tweedehandse klerewinkel waar ouers maklik, vinnig en veilig tweedehandse klere van ʼn goeie gehalte vir hul groeiende spruite kan koop en verkoop.

Jolly Monsters bied moderne klere van tophandelsmerke vir kinders van geboorte tot die ouderdom van tien jaar.

Met die aankoopproses gaan alle items gaan deur ʼn streng keuringsproses voor dit verkoop kan word. “Alle items moet skoon gewas en in ʼn baie netjiese toestand wees sonder gaatjies, vlekke of verlore knopies.”

Omdat Jolly Monsters die eerste afleweringskoste dek, moet minstens 20 items (wat aan die nodige kriteria voldoen) op ʼn slag gestuur word. Items wat egter nie daaraan voldoen nie, kan dan teruggestuur word of aan behoeftige gemeenskappe geskenk word.

“Ons ondersteun ’n gemeenskapsprogram waardeur kleinskaalse entrepreneurs die geskenkte klere binne hulle plaaslike gemeenskappe koop en verkoop, wat ’n broodnodige ekstra inkomste vir hulle genereer. As alternatief sal geskenkte klere wat nie deur dié program verkoop word nie, gratis aan plaaslike liefdadigheidsorganisasies geskenk word,” verduidelik De Klerk.”

Argieffoto. (Foto: Polina Tankilevitch/Pexels)

Hoewel daar reeds verskeie aanlyn markte op sosiale media is, meen hy dat Jolly Monsters minder moeite van ouers verg en veral meer sekuriteit wat betref betalings bied.

“Ouers wat klere wil verkoop, hoef nie meer item vir item alles mooi af te neem, op te laai of te sukkel met betalings nie. Ons hanteer dit alles self.”

Klere wat op Jolly Monsters se webblad verskyn, is naastenby 60% goedkoper as die winkelprys en volgens De Klerk is baie van die klere wat hulle ontvang basies splinternuut.

Hy benadruk dat die koop en dra van tweedehandse klere ook goed is vir ouers se beursies sowel as die omgewing.

“Statistiek dui daarop dat 80% van alle klere wat gemaak word op die ashoop beland, so dit het ʼn geweldige positiewe omgewingsimpak om tweedehandse klere te dra.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.