Gemeenskappe hou sleutel tot SA se onderwystoekoms

Melanie Buys is hoof van ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS). (Foto: Verskaf)

Deur Melanie Buys en Sarina Prinsloo

Van die 2034 skole in Gauteng is 401 skole sedert die begin van die Covid-19-inperkings in Maart 2020 deur vandale beskadig – byna 20% van skole in Gauteng. Dit is ongeveer dieselfde persentasie as skole wat tydens die Tweede Wêreldoorlog in Brittanje vernietig is.

Leerders van Glenvista High School het byvoorbeeld onlangs hul skoolsaal aan die brand gesteek omdat hulle nie eksamen wou skryf nie – meer as R400 000 se skade is aangerig. Die onlangse vlaag van vernietiging in KwaZulu-Natal en Gauteng het tot skade van meer as R300 miljoen aan skole in dié provinsies gelei. Meer as 2 000 skole is gevandaliseer vandat die Covid-19-inperkings in Maart 2020 ingestel is.

Gemeenskappe het egter die potensiaal om skole se grootste bondgenote, óf skole se grootste vyande te wees.

Skole moet leerders vir die verskillende rolle wat hulle as volwassenes in hul gemeenskap gaan speel, toerus. Geen skool kan hierdie rol op sy eie vervul nie. Elke skool staan in noue vennootskap met die gemeenskap wat hulle bedien. In Suid-Afrika sien ons dat sommige skole floreer, ten spyte van beperkte hulpbronne en onbevoegde onderwysowerhede. Wanneer ouers, lede van die gemeenskap en instellings soos kerke by skole betrokke raak, baat die hele gemeenskap daarby. Volwasse deelname stuur die boodskap dat skool belangrik is en dat die werk wat leerders daar doen die aandag en ondersteuning van volwassenes verdien.

Kultuur

Ron Berger, onderwyskenner, vat dit raak: Daar is geen kortpad na uitnemendheid nie, alles hang van kultuur af. As ons ʼn kultuur in skole kan vestig waar leerders druk ervaar om goeie werk te lewer en goeie mense te wees, is ons suksesvol.” ʼn Positiewe skoolkultuur kan selfs leerders uit baie moeilike omstandighede help om sukses te behaal. Dit gaan nie net oor die verwagting van uitnemendheid van leerders nie, maar ook oor die voorbeeld van positiewe betrokkenheid, verantwoordelikheid en toewyding van ouers, onderwysers en ander volwassenes in die skoolgemeenskap.

In SuidAfrika is suksesvolle skole suksesvol ten spyte van die staat. Die meeste Afrikaanse skole is goeie voorbeelde hoe gesonde bestuur, toegewyde onderwysers en ouerbetrokkenheid skole laat floreer. Ten spyte van armoede in gemeenskappe, toename in kwytskelding van skoolgeld en gebrekkige ondersteuning van die staat maak versigtige finansiële beplanning dit steeds moontlik om ekstra personeel aan te stel en fasiliteite te ontwikkel wat gehalteonderwys verseker.

Aan die ander kant sien ons dat disfunksionele skole swaarkry in ʼn onbetrokke of vyandige gemeenskap. In Gauteng is meer as een nuwe skool met fantastiese tegnologie gebou en toegerus, net om binne ʼn jaar te verval, omdat die gemeenskap nie eienaarskap neem om fasiliteite te beskerm nie.

Groter verantwoordelikheid vra eienaarskap

Minister Motshekga het ʼn ernstige beroep op skoolbeheerliggame, ouers en gemeenskappe gedoen om hul skole te waardeer en te beskerm. Sy is reg, groter selfstandigheid en inspraak lei inderdaad tot meer aanspreeklikheid en eienaarskap, maar dan moet die onderwysstelsel dit bevestig deur meer magte en verantwoordelikhede na skoolvlak af te wentel.

Ongelukkig weerspreek die minister se woorde en dade mekaar wanneer openbare skole jaarliks groter sentralisering en meer voorskriftelikheid deur die staat ervaar. Die huidige aanlyn toelatings in Gauteng is net nog ʼn voorbeeld van magte wat van skole en ouers weggeneem word. As ʼn gemeenskap geen sê oor hulle skool het nie en geen bydrae tot die sukses van die skool maak nie, neem hulle ook nie verantwoordelikheid nie.

Gratis onderwys is dikwels verniet

(Grafika: SOS)

Goeie openbare skole doen alles in hulle vermoë om hul eie omgewing te beheer en positief te beïnvloed. Hierdie skole is gewoonlik van skoolgeld afhanklik om te oorleef. Ouers wat skoolgeld betaal, hou die skool verantwoordbaar om ʼn opbrengs op hul belegging in die vorm van goeie onderwys te lewer.

In skole waar ouers geen skoolgeld betaal nie, voel hulle dikwels ook magteloos om op goeie onderwys aan te dring. Ouers en leerders ervaar geen aandeel in die sukses van die skool nie en voel dus ook min verantwoordelikheid om fasiliteite en hulpbronne te beskerm en te verbeter. Ouers se bydrae tot sukses van ʼn skool is egter nie net finansieel nie; grasplant op sportvelde, hulp met noodsaaklike instandhouding en koekverkopings is net so belangrik. Mense heg meer waarde aan iets waarvoor hulle opoffer en werk.

Die manier waarop die staat skole befonds, dra verder tot die probleem by. In plaas van gratis skole en verskillende befondsing van skole volgens kwintiele, sal ʼn stelsel met  ʼn vasgestelde staatsubsidie vir elke leerder meer effektief wees. ʼn Subsidie wat die leerder volg, ongeag watter skool hy/sy bywoon, sal die ingewikkelde stelsel van kwintiele, gedifferensieerde staatsfinansiering, verpligte kwytskeldings en eise vir terugbetalings aan skole aansienlik vereenvoudig. Dit sal ook eienaarskap en gesonde mededinging tussen skole aanmoedig.

Skoolinfrastruktuur

Staatsfondse wat vir die bou van nuwe skole en uitbreiding van onderrig beskikbaar gestel word, moet telkens aangewend word om vernietigde geboue te herstel en toerusting te vervang. Dit veroorsaak ʼn reusetekort in skoolplekke in Gauteng, waar leerdergetalle met meer as 50 000 per jaar toeneem. Dit lei daartoe dat onderwysdepartemente tans poog om goeie skole te dwing om veel meer leerders in te neem as wat bouregulasies, veiligheidwetgewing en skoolinfrastruktuur toelaat.

Eienaarskap

Ouers en kinders is nie die enigste wat by goeie skole baat nie. Die hele gemeenskap trek voordeel uit ʼn goeie skool in hulle omgewing. Die waarde van eiendomme verhoog en die lewenskwaliteit van alle lede van die gemeenskap verbeter.

Besighede kan met internskappe, mentorskap en skaduwerk leerders help om hul talente te ontdek en vaardighede te ontwikkel. Praktiese toepassing in ʼn werksomgewing van die lesse wat in die klaskamer geleer word, is van groot waarde om ʼn werksmag vir die toekoms voor te berei.

Die meeste lande met suksesvolle onderwysstelsels wentel soveel moontlik magte en verantwoordelikhede na skoolvlak af. Skole word deur die staat gefinansier, maar grootliks selfstandig bedryf, binne ’n vasgestelde raamwerk vir aanspreeklikheid. Skole se prestasie verhoog merkwaardig wanneer hulle vry is om self oor sake soos aanstellings, die akademiese program en toewysing van hulpbronne te besluit. In Suid-Afrika het minder staatshulp en eise vir groter staatsbeheer presies die teenoorgestelde effek.

Geleenthede

Om gehalteonderwys op die lang termyn te verseker, is ʼn strategie vir groter selfstandigheid van openbare skole noodsaaklik. Soveel as moontlik magte en besluite moet na skole en hul beheerliggame afgewentel word. Indien hierdie verantwoordelikheid vir eie gewin misbruik word ten koste van leerders se belang – soos in die geval van swak bestuur, lui onderwysers of die verkoop van poste – moet daar sterk teen oneerlike individue opgetree word, sonder om almal met groter sentralisering te straf.

Om standaarde te behou en skole vir toekomstige geslagte op te pas en uit te bou, moet skole op die betrokkenheid, vrygewigheid en beskerming van die gemeenskap kan reken. Dit is slegs moontlik wanneer ouers en leerders voel dit is “ons skool”. Die sukses van Afrikaanse skole is ʼn sprekende voorbeeld van gemeenskapskrag, waar ouers en gemeenskappe beheer neem en besluite uitvoer in die beste belang van hul kinders.

Soos Churchill gesê het: Een van die tekens van ʼn suksesvolle gemeenskap, is die toewyding waarmee hulle kultuur – of alles wat vir hulle kosbaar is – na die volgende geslag aangee.

  • Melanie Buys is hoof van ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum en Sarina Prinsloo is die skakelbeampte van dié organisasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.