Help my! Benodig ons kinders nie stimulasie nie?

Argieffoto. (Foto: Markus Spiske/Unsplash)

Deur Johan Koekemoer

ʼn Rukkie terug roep my vrou my. Ek kon die bekommerde, moeë oë na ʼn moeilike dag sien. Sy was verwagtend met ʼn tweeling wat, soos die Here wil, hul verskyning oor ʼn week sou maak. Saam met die swangerskap moes sy na die ander drie kinders ook omsien, met geen elektrisiteit vir ʼn volle dag in ons buurt nie. Sy is sterk, dit weet ek, maar op daardie dag en oomblik het sy nie naastenby so gevoel nie.

“Wat is fout?” vra ek met soveel empatie as wat my persoonlikheid my toelaat. Ek het werklik medelye, maar ek wys dit nie goed nie, hoor ek gereeld. “Ek dink ons seun kort stimulasie. Dink jy nie ons moet hom maar kleuterskool toe stuur nie?” vra sy met trane wat vlak lê.

Talle persone het daardie einste vraag al so baie vir my gevra, maar nog nooit my vrou nie. Dalk is dit die moegheid wat praat. Net so ʼn bietjie agtergrond: Nie een van ons kinders is in ʼn kleuterskool nie. ʼn Besluit wat ons gesin geneem het nadat ons kinders deur twee kleuterskole in en om ons omgewing in die stad was. Ek wil nie veralgemeen nie, maar een van die kleuterskole het nie gras gehad nie en die ander een het “werkkaartjies” gedoen. Dit is soveel anders as die platteland waar ons ons kinders daagliks vuil en moeg gaan optel het. Die oneindige soeke na nog stimulasie het enkele kleuterskole in die stad gekaap en plaas ʼn drukgang om klein “klein grootmense” te wees in plaas van net om volledig kind te wees.

Ek weet my vrou is moeg, maar ek gaan nie die vraag met takt antwoord nie. Ek moet haar herinner aan haar eie woorde: “Ons kinders moet speel. Hulle moet op gras speel”. Ek volg op met ʼn bietjie navorsing deur Mark Hawkins dat kinders genoeg geleentheid in ʼn dag moet kry om verveeld te wees, want verveeldheid is noodsaaklik om kreatiwiteit te stimuleer en betekenis aan alledaagse takies te gee. Kunsmatige stimulasie werk presies teen kreatiwiteit en ontwikkel kinders wat hulle hele lewe afhanklik gaan wees van iemand anders om hulle te stimuleer.

Argieffoto. (Foto: Paige Cody/Unsplash)

Ek herinner haar aan ons grootwordjare toe ons ouers ons vroeg op ʼn Saterdagoggend by die agterdeur uitgestuur het. In die agtererf was daar nie “hot wheel tracks” of “nurf guns” nie. Daar was stokke, klippe, sand en water. Ure in die “wildernis” het soos minute gevoel en dan is ons ingeroep om ons vier snye witbrood te eet om dit dan op te volg met ʼn middagslapie. Ek stel haar gerus dat ons kinders nie nog stimulasie nodig het nie, maar eerder nog geleentheid vir verveeld wees. Hoekom sal ʼn ouer wil hê hul kinders moet verveeld wees, wonder jy seker?

Verveeldheid word gereeld gevolg deur vryspel waar ʼn stok ʼn swaard word en ʼn plas water ʼn meer vir miniatuur meerminne. Vryspel leer ons kinders kreatief en probleemoplossend dink. Wanneer ons eksterne stimuli, veral voorskool, konstant moet voorskryf, verleer kinders die vermoë om vir hulself te dink en sal hulle as grootmense altyd mede-afhanklik wees van ander om vir hulle te dink. Ons sien die tendens al hoe meer toeneem waar leerders in ons skole nie meer vir hulself kan dink nie. Kinders kontrakteer hul eie onafhanklike denke uit aan die groepe waaraan hulle behoort, hul onderwysers, ouers en veral sosiale media.

Ek sien hoe my vrou se hart rustig raak soos wat ek met haar gesels. Gewoonlik hou sy nie daarvan as ek preek nie. Ek sluit my preek af deur haar gerus te stel dat vir ons string voorskoolse kinders  daar net ʼn paar goed is wat werklik belangrik is en dit is dat Mamma en Pappa se verhouding gesond is, dat hulle veilig is en dat hulle weet die Here is in hulle harte. Die res sal hulle self uitpluis en ons sal hulle rig waar dit nodig is.

  • Johan Koekemoer is hoof van onderrig en leer by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.