Kinders moet ook self leer kies

Mariesa Candiotes. (Foto: Verskaf)

Deur Mariesa Candiotes

Ons kinders beweeg binne waaksame en sorgvuldig uitgekose grense. Hierdie grense word natuurlik deur ons as ouers daargestel. Grense wat veiligheid bied en om ʼn gevoel van geborgenheid by ons kinders te vestig, is tog so nodig. Wanneer moet ons egter sementgrense bou, en wanneer moet ons juis die grense vir ʼn lewensles verskuif?

Badtyd in ons huis lyk soos iets uit ʼn Hollywood-film gekruis met springgety en ʼn walvis wat op die stand uitgespoel het. Met ander woorde, daar is baie water betrokke en dit kom nie noodwendig net in die bad voor nie; dis oral. Dis ʼn gespeel en ons twee dogtertjies verbeel hulself seker hulle neem aan een of ander borsslaggala deel. Nietemin, dit gebeur darem nie elke aand nie, maar so dan en wan is die meerminne aan die baljaar.

Nie te lank terug nie, is hierdie mamma moeg gepraat en steek ek ʼn preek af wat enigiemand in hul spore sal laat trap en oop oë die Onse Vader sal laat bid. Ons oudste kyk my bedees aan en vra my of ek hulle volgende keer eerder in ʼn skottel sal laat bad, omrede hulle dan minder sal mors. Glad nie ʼn slegte idee nie, dink ek, maar dit dien geen doel om hulle ʼn skottel as opsie te gee nie. Die uitdagings wat ʼn bad vol water bied, gaan hulle daagliks konfronteer. Dis inderwaarheid ʼn gestalte van die keuse tussen wat reg en verkeerd is.

Waarom moet kinders aan keuses blootgestel word?

Kinders moenie van situasies waar hulle tussen reg en verkeerd moet kies ontneem word nie. Dit is partykeer nodig om die grense te verskuif eerder as om ʼn muur te bou. Die bad vol water is ʼn situasie waarin hulle voor ʼn keuse te staan kom. Daarom is dit ontsettend belangrik om ons kinders van jongs af besluitnemings- tesame met probleemoplossingsvaardighede te leer. Ons is geneig om vír hulle te besluit of selfs voor te sê; dis mos makliker en vinniger.

Kinders wat die geleentheid gegun word om besluite te neem, neem verantwoordelikheid vir hulle besluite. Hulle neem ook dus eienaarskap van hulle besluite. Hierdie waardevolle vaardighede lei daartoe dat hulle later in die lewe konfliksituasies kan hanteer, logiese denke illustreer en probleme kan oplos. Die gesegde lui nie verniet “Ons leer uit ons foute” nie. Deur ons kinders aan besluitneming bloot te stel, vorm ons hulle om verantwoordelik op te tree. Op hul beurt leer hulle om nie dieselfde foute te maak nie.

Hoe gemaak om hierdie besluitnemingsvaardighede daar te stel?

Foto ter illustrasie. (Foto: Lubomirkin/Unsplash)

Kinders moet geleer word om die keuses wat die situasies bied te identifiseer.

  • Watter keuse moet ek maak?
  • Wat is my opsies?
  • Watter nagevolge het my keuses?
  • Is daar enige reëls wat ek moet nakom in die maak van my keuse?

Daarmee saam moet ons die “werklike wêreld” as voorbeeld gebruik om regte en verkeerde keuse uit te wys. Gesels met jou kind oor die opsies en nagevolge van hul keuses, maar blootstelling is die beste leermeester. Bied ook ʼn ruimte vir die verkeerde besluite of keuses wat as vertrekpunt vir ʼn diepgaande gesprek dien oor wat as aanvaarbare gedrag en onaanvaarbare gedrag bestempel word. Speel saam en maak juis verkeerde keuses om te modelleer en te bespreek. Kommunikeer en praat weer, raak deel van hulle wêreld en wees die kompas wat leiding bied, eerder as die grens wat inperk.

Om in ʼn skottel te bad is dalk ʼn opsie, maar dit is nie noodwendig die beste keuse nie.

  • Mariesa Candiotes is ’n Wolkskooldosent aan die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.