Matrieks: Pak hierdie kwartaal só aan

Argieffoto.

Matriek is die hoogste piek van ʼn twaalfjaarskoolloopbaan. Terwyl daar nou onsekerheid en spanning onder matriekleerders heers, is dit ook die tyd waarin hulle harder as ooit tevore moet werk. Goeie matriekuitslae skep beter geleenthede ná skool en sorg vir ʼn goeie fondament vir verdere studies.

Junie is vanjaar ʼn besonder belangrike maand vir die jeug van Suid-Afrika. Eerstens heropen skole vir graad 12’s en 7’s, en tweedens word Jeugmaand gevier.

“Vandag se jeug speel ʼn belangrike rol in môre se toekoms, veral in die gemeenskappe waarin hulle hulself bevind,” sê prof. Gawie du Toit, dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia. Ter viering van Jeugmaand deel Akademia wenke aan matrieks wat terugkeer na skole om ʼn sukses van die laaste deel van hulle skoolloopbaan te maak.

1. Werk slim met jou tyd

Dit is belangriker as ooit om jou tyd te beplan. Stel vir jou ʼn plan op met die aantal ure wat jy nodig het om aan elke vak te bestee. Wees realisties wanneer jy jou plan saamstel. As daar vakke is wat moeiliker is of meer vakinhoud het, reken dit in jou plan in. Wees streng op jouself met jou eie tydsbeplanning en doen jou bes om daarby te hou. Reken ook tyd in om te ontspan. Kort pouses help om fokus te verbeter.

“In die lewe gaan dit egter nie oor wat jy nie het nie, maar oor wat jy doen met dit wat jy tot jou beskikking het,” reken Du Toit. “Gebruik elke minuut wat beskikbaar is om iets sinvols te doen. Niemand het al ooit sukses bereik sonder beplanning, harde werk en deursettingsvermoë nie.”

Rig vir jou ʼn stil plek in by die huis waar jy minder afleidings ervaar sodat jy by jou studiebeplanning kan hou. Bêre jou selfoon wanneer jy skoolwerk doen en pak elke aktiwiteit produktief aan.

2. Maak gebruik van ekstra ondersteuningsbronne

Onderwysers is gretig om te help. Vra as jy nie verstaan nie, en vra wéér as jy steeds nie verstaan nie. Wolkskool, ʼn inisiatief van die Skoleondersteuningsentrum, bied bykomende hulpbronne vir leerders om vakinhoud te bemeester. Wolkskool se dienste word tot 30 Junie gratis aangebied. Dalk is ʼn ander onderwyser se manier van verduidelik net wat jy nodig het om ʼn konsep of idee te snap wat jy nie voorheen verstaan het nie. “By Akademia moedig ons studente aan om studiegroepe te vorm om mekaar met studie-inhoud te ondersteun en te help,” sê Du Toit. Oorweeg dit om virtuele studiegroepe met klasmaats te begin.

 3. Probeer weer en weer

“Die Japannese het ʼn gesegde wat lui: sukses is as jy net een keer meer opstaan as die aantal kere wat jy geval het,” vertel Du Toit. Dit is ʼn stresvolle tyd in jou lewe, maar jy is nie alleen nie. Daar is duisende matrieks wat saam met jou deur hierdie moeilike tyd gaan. Hou die einddoel in gedagte wanneer jy take aanpak. Hou aan probeer totdat jy die konsep verstaan of die som se antwoord vind.”

Du Toit vertel verder dat dit verbasend is hoeveel jongmense ʼn betekenisvolle en gelukkige lewe kon uitbeitel juis omdat hulle uitdagende oomblikke soos dié aangryp en omhels.

4. Kweek ’n gesonde leefstyl

ʼn Gesonde liggaam huisves ʼn gesonde gees. Verskeie studies het al getoon dat ʼn gebalanseerde dieet, gereelde oefening en genoeg waterinname voordele soos beter fokus, geheue en kreatiwiteit vir studie inhou. Jou liggaam en brein kan nie voldoende funksioneer as jy nie goeie voeding kry nie. Drink genoeg water en eet minstens een gebalanseerde ete per dag. Gaan stap of draf vir 15 minute en kry vars lug. Nie net is dit verfrissend nie, maar dra by tot beter konsentrasie wanneer jy weer voor jou lessenaar sit om die boeke aan te pak.

5. Besin en beloon jouself vir klein prestasies

Maak ʼn lys van alles wat jy aan die einde van die dag reggekry of bereik het – maak nie saak hoe groot of hoe klein nie. Dit is belangrik om te besin oor jou dag en terug te dink oor mylpale en aktiwiteite waarop jy kan verbeter. Beloon jouself wanneer jy ʼn paar somme kon regkry of wetenskapkonsepte onder die knie kon kry. Partykeer vergeet ʼn mens om klein prestasies te vier, hoewel dit waarskynlik ʼn groot aandeel het in die bereiking van groter prestasies.

“Onthou, klein treetjies vorentoe is ook ʼn tree,” sê Du Toit. “Die matrieks wat onseker voel oor hulle akademiese reis, moet besef dat dit juis oomblikke soos dié is wat lei tot nuwe moontlikhede wat opwindend kan wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.