Onderwysers: Is ons beste nog goed genoeg?

Argieffoto (Foto: ArtTower/Pixabay)

Deur Johan Koekemoer

Goeie opvoeders het deur die eeue dit reggekry om enige inhoud as ʼn voertuig te gebruik om die leerder ʼn geheelbeeld van die skepping te gee. Die opvoeders het die vermoë om inhoud oop te breek en die leerder se potensiaal te ontsluit. Die opvoeders meet hul eie sukses nie aan die hand van resultate nie, maar aan die afronding van die geheelkind. Dit is duidelik dat goeie opvoeders nie slegs kontraktueel verbind is om hul take uit te voer nie, maar ook ʼn diep verbondenheid het aan hul roeping.

Goeie opvoeders is bewus van die geheelprentjie, die samehang tussen die vakke en weet hoe om die goeie, die skone en die ware te integreer met daaglikse onderrig en leergeleenthede. Die onderrig en leergeleenthede wat goeie opvoeders ontwerp, is leerervarings. In leerervarings bou leerders kennis op betekenis en word die geleentheid geskep om van die werklikheid sin te maak. Kennis wat op betekenis gebou is, verseker dat leerervarings vir leerder ʼn belewenis sal wees. Leerders wat leer beleef se hart, liggaam en verstand is aktief betrokke binne die leerervaring.

Die goeie opvoeder is in staat om leerervarings te ontwerp wat tot belewenisse lei, juis omdat hulle die vermoë het om anderkant die eindeksamen te kan kyk. Goeie opvoeders kry dit reg om verder te mik as die einde van die jaar se resultate, omdat hulle nie deur die ego aangedryf word nie maar deur hul verantwoordelikheidsin teenoor hul roeping. Dit beteken nie dat resultate nie vir dié opvoeders belangrik is nie, dit is bloot net ʼn logiese byproduk van gehalte onderrig.

Goeie opvoeders is egter altyd verbind tot ʼn span of ʼn kring van ander geroepe opvoeders. Waar elke opvoeder doelgerig saam verantwoordelikheid neem vir die leerders in hul sorg. In ʼn kring bevoegde en bekwame opvoeders, word kundigheid versprei en die plafon van individuele potensiaal verhoog tot die som van die geheel. Binne ʼn kring van opvoeders word kritiese vaardighede, vir die digitale era van werk, soos kreatiwiteit, kritiese denke, samewerking en kommunikasie gemoduleer vir leerders om te volg.

Die Afrikaanse gemeenskap is besonders bevoorreg met die gehalte van ons opvoeders wat, ten spyte van staatsverval, steeds die vermoë het om te verseker dat ons skole nog wêreldklas is. Maar die vraag wat ons krities lojaal moet beantwoord is: “Is wêreldklas goed genoeg?”. Sal wêreldklas onderwys verseker dat die volgende geslag vanuit die Christelike lewens- en wêreldbeskouing leef en daadwerklik terug ploeg waar hulle geplant is. Of is dit tyd dat ons wêreldklas onderwys oopbreek en nuut dink vir die volgende geslag?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.