Ontspan ouers, nie alle velprobleme is aknee nie

Aknee of puisies is ongelukkig een van daardie onvermydelike aspekte van tienerwees. (Foto: Polina Tankilevitch/Pexels)

Aknee of puisies is ongelukkig een van daardie onvermydelike aspekte van tienerwees, soveel so dat byna 85% van tieners die een of ander vorm van ʼn velprobleem het.

Dít sluit enigiets van verstopte porieë (witkoppies, swartkoppies), pynlike puisies, en soms harde, diep knoppe op die gesig, nek, skouers, bors, rug en bo-arms in.

Aknee kan verband hou met dieet, hormone, omgewing en selfs genetika, maar dit beteken nie dat dit nie behandelbaar is nie.

Natasha Davel van Fundamentals Skincare het veral simpatie met ouers wat hul tieners wil help om hul aknee hok te slaan.

“Dit kan oorweldigend wees, veral as jy nie weet waar om te begin nie. Hier is ons goue wenk vir alle ouers: voordat jou tiener met enige behandeling begin, is dit belangrik om te onderskei tussen aknee en ander toestande wat soortgelyk mag lyk, want nie alles is noodwendig aknee nie.”

Volgens Davel moet die behandeling van aknee sagkens gedoen word om verdere irritasie en droogheid te voorkom, wat donker kolle en littekens kan vererger.

“Bestanddele soos retinoïede en benzoylperoksied kan help om porieë skoon te maak en inflammasie te verminder, maar ʼn behoorlike diagnose en begrip van jou vel is egter kernbelangrik. Dermatoloë beveel aan dat die onderstaande oorweeg word voordat daar op ʼn spesifieke velsorgroetine of behandeling besluit word.”

Watter tipe velprobleem het jou tiener:

  1. Puisies: Etter-gevulde knoppe;
  2. Papules: Klein, verkleurde knoppe, dikwels rooi tot pers of donkerder as die natuurlike velkleur;
  3. Swartkoppies: Verstopte porieë met ‘n swart bokant;
  4. Witkoppies: Verstopte porieë met ‘n wit bokant;
  5. Nodules: Groot knoppe onder die vel wat pynlik is;
  6. Siste: Dit is groot, rooi swere wat van diep onder die vel ontwikkel.

Gesigserums met retinoïede is ‘n goeie hulpmiddel om aknee te behandel. retinoïede

Volgens Davel is daar dus twee basiese riglyne om dié velprobleme te takel:

  1. Aknee soos puisies, papules, swartkoppies en witkoppies is algemeen en kan oral op die liggaam voorkom. Hulle kan veroorsaak word deur verstopte porieë, hormone, omgewingssnellers en dieet. Dit kan met die regte velsorgprodukte en konsekwente sorg behandel word. Soek velsorgprodukte soos gesigserums wat bestanddele soos die vitamien B3-derivaat niasienamied, retinoïede, aselaïensuur en salisielsuur bevat.
  2. Aknee soos nodules en sistiese aknee is meestal hormonaal en word nie deur enige velsorgprodukte of omgewingsfaktore veroorsaak nie. Hierdie tipe velprobleem wys hoofsaaklik op jou kakebeen en ken en kan baie pynlik wees. Om hierdie soort aknee effektief te behandel, stel Davel voor dat ouers mediese advies moet kry.

Puisies moet nooit gedruk word nie. (Foto: Anna Nekrashevich/Pexels)

Kan aknee voorkom word?

Volgens Davel is daar ʼn paar basiese wenke wat aknee kan help beheer, maar sy benadruk dat elke tiener se vel en omstandighede anders is.

  • Moenie jou gesig te veel was of hardwerkende afskilferprodukte gebruik nie. Aknee word nie deur ʼn vuil vel veroorsaak nie en te veel seep of produkte kan die vel geïrriteerd en droog laat. Dít veroorsaak weer dat kliere meer olie produseer, wat die waarskynlikheid van puisies verhoog.
  • Gebruik olievrye produkte (dié wat nie porieë sal verstop nie) op jou gesig.
  • Moenie druk of pluk nie. Puisies kan aknee-bakterieë dieper in die vel indryf. Dit kan lei tot meer inflammasie en permanente littekens.
  • Gebruik sonskerm en vermy behandelings soos dié van sonbeddens.
  • Hou by ʼn spesifieke velsorgroetine vir minstens 12 weke om te sien of dit effektief is, of nie. Om kort-kort produkte te verander gaan geen resultate lewer nie.

“Die heel belangrikste is om nie toe te laat dat ʼn probleem vel definieer wie jy is nie. Doen wat jy kan om jou vel te verbeter, werk saam met ‘n dermatoloog indien nodig, en hou aan om die dinge te doen wat jy geniet,” sluit Davel af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.