Ouers, berei julself só voor vir die eerste skooldag

Argieffoto. (Foto: Maroela Media)

Nóg ʼn feesseisoen het gekom en gegaan en binnekort gaan duisende kinders hul eerste dag op kleuter-, laer- of hoërskool beleef.

Ouers gaan natuurlik uit hul pad om hul kinders vir die eerste dag van ʼn nuwe skoolfase voor te berei, maar vergeet (of ontken) dikwels die voorbereiding wat hulle self ook moet ondergaan om dié proses so glad moontlik te laat verloop.

Tracey Teague, hoof van die privaat Christelike skool, Eduplex se voorskool, Marnelda de Beer, hoof van die Skoleondersteuningsentrum (SOS) se grondslagfase-vereniging, en Celeste Labuschagne, voormalige adjunkhoof by Hoërskool Erasmus in Bronkhorstspruit, het ʼn paar nuttige wenke vir ouers gedeel.

ʼn Nuwe skoolfase is natuurlik angswekkend vir ouers en kinders. Wat dink jy is die grootste fout wat ouers dikwels maak in aanloop tot die eerste skooldag?

  • Tracey: Die ouers is dikwels meer emosioneel oorweldig as wat hul kinders is en dan projekteer hulle onbewustelik hul emosionele onsekerhede of angs. Kinders voel hierdie onsekerhede aan, daarom is dit belangrik om kalm te wees voor jou kind. Vertrou dat die onderwyser jou kind se beste belange op die hart dra. Nege uit tien keer is jou kind beter voorbereid as wat jy besef.

 

  • Marnelda: Die meeste kinders is meer opgewonde as bang oor die nuwe fase wat hulle gaan betree, maar ouers word angstig omdat hulle nie naby hul kind kan wees nie. Ouers moet die nuwe fase sien as ʼn opvoedingsgeleentheid waar hul kinders sagte vaardighede kan aanleer om suksesvol in die samelewing te kan funksioneer.

 

  • Celeste: Ouers moet onthou dat hoe hulle hoërskool beleef of aangepak het en selfs die prestasies wat hulle bereik het, gaan verskil van hul kinders. Verwagting, vergelykings of om sekere aktiwiteite of sportsoorte af te dwing kan onnodige spanning veroorsaak. Die kinders is in ʼn fase van hul lewe waar hulle besluite begin bevraagteken en dikwels is dit beter om die kind, sonder om druk toe te pas, te lei om die besluit self te neem. So kry mens baie beter resultate.

 

Wat moet ouers doen om hulself te “beskerm” of keer wanneer daar dalk ʼn tranedal of te veel emosies op die eerste dag is?

  • Tracey: Moet nooit loop sonder om te groet nie, maar maak dit vinnig. Moet ook nie wag totdat jou kind se aandag afgelei is om uit die klaskamer te sluip nie. Die skeidingsangs sal net vererger. Onderwysers is kenners en weet hoe om situasies te hanteer wanneer kinders vasklou of tranerig is. Ek sê altyd vir ouers: “Jy ken jou kind, ons ken baie kinders.”

 

  • Marnelda: Ouers moet vroeg al met voorbereidingsgesprekke begin om die skeiding makliker en meer verstaanbaar te maak. Baie skole bied selfs vooraf ʼn “ontmoet jou juffrou”-dag aan. Een van die beste beleggings is natuurlik om jou kind in die betrokke skool se graad R-jaar reeds in te skryf, dit maak dit net makliker om aan die skoolopset en omgewing gewoond te raak. ʼn Ander voorstel sal wees om vir hulle ʼn horlosie te gee en te wys hoe laat jy hulle gaan haal. Só leer jou kind geduld, uitgestelde bevrediging en om tyd te lees.

 

  • Celeste: Daar gaan nie noodwendig met ʼn voornemende hoërskoolleerder ʼn vreeslike tranedal wees nie en ouers moet onthou om nie hul tieners te hanteer asof hulle nog in die laerskool is nie. Ouers moet hul kinders die ruimte gee om die verandering en nuwe ervarings wat voorlê op hul eie manier te verwerk. Jy ken mos jou eie kind. Gee hulle die nodige ruimte en wanneer hulle wil praat oor onsekerhede – gee raad, wanneer hulle opgewonde raak – laat hulle praat. Onthou, dit is jou kind wat hoërskool toe gaan en nie jy nie.

 

Party ouers twyfel dalk oor hul skoolkeuse. Is dit normaal en hoe kan ouers daardie twyfel hokslaan?

  • Tracey: Ouers wat hul gekose skool deeglik nagevors het en gedurende skooltyd besoek het, sal ʼn goeie idee hê van hoe die skool buite hul opedae ​​funksioneer. Praat ook met ouers wie se kinders reeds die skool bywoon as jy onseker is.

 

  • Marnelda: Dit is heel normaal, want ouers wil net die beste vir hul kinders bied. Ouers moet skole identifiseer en reeds vroeg in die jaar voordat aanlyn registrasies plaasvind afsprake maak en die hoof van die skole gaan spreek as hulle onseker is. Vra al die vrae eerder direk aan die hoof en personeel en bly liefs weg van sosialemediaplatforms om antwoorde te kry.

 

  • Celeste: Betrek jou kind by die besluitnemingsproses en maak seker dat jy oordeelkundig is en nie jou kind weens groepsdruk in ʼn sekere skool plaas nie. Baie ouers leen hul ore uit aan praatjies en grond hul besluit op waarheen die “Jones-kring” hul kind gaan stuur. Dit is jou kind wat vir vyf jaar in daardie skool moet wees, nie jy nie. Jy het jou innings

Is dit goed of sleg om heeltyd in te loer deur die skooldag?

  • Tracey: Om onafhanklik te word, is ʼn belangrike fase in jou kind se lewe en is deel van grootword. Moenie hulle daarvan ontneem nie. Wat onderwysers betref, is dit belangrik om daarop te let dat hulle nie heeltyd WhatsApp-boodskappe kan beantwoord nie en onderrig kom eerste. Maak ʼn afspraak om jou vrae of bekommernisse apart te bespreek.
  • Marnelda: Ouers het nie nodig om hul kinders gedurende skoolure te kontak nie. Onderwysers is professioneel en kenners van kindergedrag. Hulle sal die ouer via die kantoor kontak indien nodig. Wanneer ʼn kind skeidingsangs beleef, duur dit slegs ʼn paar minute. Soms is die ouer nie eens by die hek uit nie, dan het die kind reeds bedaar en speel hulle heerlik met ʼn

 

  • Celeste: Nooit nie! As jy ʼn helikopterouer by die hoërskool gaan wees, gaan jou kind daaronder lei. Hy of sy is nou op ʼn plek waar jy hulle moet leer om hul probleme te trotseer en self op te los, met jou ondersteuning, natuurlik. Jy moet betrokke wees, maar nie ʼn oorlas nie!

Het jy dalk ʼn goue reël om ouers te help of gemoedsrus te gee vir ʼn nuwe skoolfase?

  • Tracey: Die eerste dag of week is uitdagend vir kinders wat met verandering sukkel. Daardie gevoelens van onsekerheid behoort verby te gaan soos hulle gewoond raak aan die nuwe roetine, nuwe vriende maak en uitsien na skool en die aktiwiteite. Gemengde gevoelens en onsekerhede gaan gou verby. Wees ondersteunend en luister na jou kind.

 

  • Marnelda: Praat positief oor die skool en van die juffrou voor die kind. Indien ouers ongelukkig oor iets of ʼn insident by die skool is, moet julle dit nooit voor die kind met mekaar bespreek nie. Ouers moet die nodige emosionele intelligensie hê om die saak weg van die kind en met die betrokke onderwyser te bespreek. Vertrou die proses en word deel van die skoolgemeenskap. Ouerbetrokkenheid by die kind se opvoeding en die skool se aktiwiteite is die belangrikste tyd wat jy kan bestee.

 

  • Celeste: As ma wat al drie seuns hoërskool toe moes stuur, dink ek dit is belangrik dat ouers moet ontspan oor die hele proses. Dit is klaar spanningsvol vir die kind wat ʼn nuwe fase in ʼn nuwe skool moet begin en dit is belangrik dat jy as ouer nie met jou optrede jou onderliggende spanning oor die verandering na jou kind projekteer nie. Hoewel dit soms onvermydelik is, probeer ook om nie nog ʼn groot skuif of verandering te maak tussen laerskool en hoërskool nie en speel van die begin af oop kaarte met kinders indien sodanige skuif wel moet plaasvind.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.