Foto’s: Afrika-warmte ʼn kenmerk van Dinokeng

Om beurtkrag te ontsnap in die Bosveld is ʼn luuksheid op sy eie, al was dit die hele naweek tot laat in die middag sowat 35 grade buite. (Foto: Werner Bezuidenhout)

Sê wat jy wil van Afrika, maar ons vasteland se mense is beslis van die vriendelikste, warmste mense op aarde, veral wanneer dit kom by die gasvryheidsbedryf.

Vra maar vir enigiemand wat al na Europa gereis het.

Suid-Afrikaners is kleurryk en warm, net soos die versengende hitte wat ons onlangs met ʼn besoek aan die Dinokeng-natuurreservaat beleef het.

Proxy Masunda, die algemene bestuurder van die Mangwa Valley Game Lodge waar ons tuisgegaan het, het ons begroet met ʼn hemelsbreë glimlag en dit het ons gesinnetjie sommer dadelik tuis laat voel. Sy diens vooraf was ook uitstekend, met elke liewe detail van inkloktyd tot uitkloktyd wat netjies in ʼn lang e-pos vervat is. Vir ʼn beplanner soos ek is so iets goud werd!

Ek stuur ʼn foto of twee op sosiale media aan van die lieflike swembad wat oor die uitgestrekte veld van die lodge uitkyk. “Lekker luuks, né,” is die meeste antwoorde wat ek kry.

Inderdaad. Om beurtkrag te ontsnap in die Bosveld is ʼn luuksheid op sy eie, al was dit die hele naweek tot laat in die middag sowat 35 grade buite. Die lafenis van die swembad was ʼn welkome bonus.

Die vriendelike personeel van die lodge het gesorg dat ons telkens ʼn koue lafenis in die hand het en het selfs moeite gedoen om vir my kieskeurige seuntjie kos voor te berei wat nie op die spyskaart was nie.

Die grootste bedekte seën is dat daar nie televisiestelle in die wooneenhede beskikbaar is nie. Dit het ons gesin toegelaat om vir ʼn slag tyd saam deur te bring sonder die klanke van Paw Patrol en Blue’s Clues wat in die agtergrond weerklink.

Die lieflike swembad by die Mangwa Valley Game Lodge. (Foto: Leonie Bezuidenhout)

Gelukkig was daar meer as genoeg om te doen in die kort tydperk wat ons by Mangwa Valley gebly het en ná ʼn lang middagslapie (ja, ʼn middagslapie waar ál vier gesinslede gelyktydig geslaap het – ongehoord!) het Thomas, die veldwagter, ons op ʼn heerlike wildrit geneem.

Die aand is ons nadergeroep na die boma-area deur Afrika-tromme wat ons van ons chalet af kon hoor. Ons is verras met ʼn gesellige buffetete, met malvapoeding en vla vir nagereg en al, en ʼn groot vuur het die Bosveld TV-vermaak verskaf wat ons gesoek het.

Behalwe dat die Bosveld telkens die siel verkwik en verligting bied van beurtkrag, is dit ook voordelig dat dit net ʼn klipgooi van Pretoria af is en ons het skaars ʼn kwart tenk brandstof uitgery soontoe en terug.

Verblyfopsies in Dinokeng is daar te kies en te keur, ʼn hele paar kiosks met aandenkings en restaurante, en ʼn pad waar jy self kan ry om wild te besigtig.

Kortom, Dinokeng – en Afrika – is altyd ʼn goeie vakansie-idee!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.