Foto’s: Kaapstad deel oorsese skatte

Die foto-uitstalling van die lewe onder die see-oppervlak, is só gepas teen die promenade-muur in Seepunt. Dit maak ʼn mens opnuut bewus van die ekosisteem wat so wankelrig is danksy die mens se roekeloosheid.

Op 22 Januarie behaal Kaapstad die 22ste plek op die media- en reismaatskappy, Big 7 Travel, se lys van top-50 mees “Instragrambare” plekke vir 2022. Kenia se Masai Mara in 35ste plek en Marrakech in Marokko as nommer 33, is ook daar, skryf Maryke Roberts.

Dié lys word saamgestel op grond van die hoeveelheid hutsmerke wat elke bestemming kry en ook steekproewe van die maatskappy se gehore. Die foto wat saam met die artikel op hul webblad gaan, is die Bo-Kaap se veelkleurige huisies.

ʼn Mens se hart swel as jou stad as een van die 50 mooiste plekke aangewys word en daar net twee ander Afrika-lande ingesluit word, want kom ons wees eerlik, daar is móói plekke op aarde en ook op ons vasteland.

Op 8 Mei is die Moederstad, deur die Britse koerant – The Telegraph, as die derde beste stad op aarde aangewys. Kaapstad is die enigste Afrika-stad in die top-50 en het ʼn telling van 549 uit 810 behaal.

Ross Couper se foto van ʼn troupant, wat hy in Singita Sabi Sand geneem het, is my gunsteling van al die voëlfoto’s op die Seepunt-promenade se voël-uitstalling. Dit volg op die oseaan-uitstalling, afhangende van in watter rigting jy stap.

Met dié verwysings in my agterkop, kuier ons by die opgeknapte Winchester Mansions in Seepunt, beslis een van die plekke wat gereeld ʼn hutsmerk vir mooi en stylvol op Instagram ontvang, en een van dié hotelle wat al vir meer as ʼn eeu deel van die Kaapse sosiale landskap is. Dit het twee jaar se opknappings en bouwerk ondergaan en staan nou bekend as The Winchester Boutique Hotel. Die gebou is vanjaar ʼn eeu oud en spog in al haar Kaap-Hollandse glorie.

Ons het al verskeie mylpale by hierdie hotel kom vier: van huweliksherdenkings met yskoue sjampanje en baie goeie vriende, tot laatontbyte op ʼn Sondagoggend met jazz in die binnehof wat met rye diep pienk bougainvilleas omsoom is.

Om ons tasse neer te sit, die vensters oop te gooi en die seelug diep in te asem, is vir my die eerste stappie in ontspan. En as jy so tussen die palmbome deur korrel na die golwe en horison, kan jy jou verbeel jy is enige plek op aarde, van die Franse Riviera tot ʼn Griekse eiland.

Die groot bederf is lang middae langs die swembad met die gekrys van seevoëls wat nie weet of hulle op die strand wil sit, of op die muur langs die swembad nie! ʼn Mens dut kort-kort in en dis net die geplons van ʼn ander gas in die potblou water, wat jou terugroep na die hede – net om te besef hoe hemels hierdie hede is! Agter die hotel se wit mure wink Tafelberg in al haar glorie en met volmaan sien jy saans die stappers met hul kopliggies wat soos ʼn dun slangetjie teen Leeukop opseil.

Ná ʼn luilekker stort, is ons op die stoepie by die hotel se legendariese kroeg, Harvey’s Bar vir drankies, terwyl die son patrone oor die see maak; en al wat leef en beef met hul poedels, kinders, eksentrieke vriende en fietse oor die promenade gly. Yslike skepe lê op die horison en om hulle kom seiljagte en katamarans te voorskyn, wat toeriste wat – soos ek ook maar –  begin glo het hierdie prag gaan ons danksy die pandemie en sy inperkings nooit weer beskore wees nie.

Die paar treë van die ruim stoep na die hotel se vlagskip-restaurant wat nou bekend is as Shoreditch, word oordonder deur die heerlike reuke wat uit die kombuis kom. Dis so wonderlik om te sien hoe Seepunt se statige dame met haar nuwe baadjie (pels en smaragde en hoë polvye) spog, maar met ʼn nuwe kontemporêre elegansie wat jou sommer na ʼn Londense hotel verplaas.

Ons ontmoet heel toevallig vir Rory Jossel, wat die bestuur van beide Shoreditch House en Harvey’s Bar oorgeneem het. “Dis presies die atmosfeer wat ons met die nuwe voorkoms wou skep. Ons wou ʼn absoluut ikoniese bestemming in Kaapstad vernuwe, en die fantastiese nuwe energie wat deur die eiendom loop, ontgin.”

Ons peusel aan lekker kleinbordjie-geregte wat alles hulde bring aan ons Suid-Afrikaners se liefde vir vlam, vuur en rook.

Soggens vroeg is dit die eerste strale wat goud deur ons badkamervenster val, wat ons uit ʼn slaap van die dooies laat ontwaak. By ons oop kamervenster uit, is die ywerige drawwers op die promenade te sien en die reuk van koffie wil-wil ons eetkamer toe lok, maar eers stap.

As jy die hele promenade – of The Prom as jy ʼn local is – stap, gaan jy baie treë op jou gesondheidstoepassing registreer, want van die Waterfront, verby Mouillepunt deur Seepunt, is meer as 11 km.

Ons stap ver op die promenade waar daar nou foto-uitstallings teen die kurwes van die sementmuur pryk en waar die valskermswewers oor jou kop draai en dan op die reuse-stuk grasperk kom land. Honde draf uitgelate agter balle aan; kinders gil op hul skopfietsies en vriende gesels land en sand en los die wêreld se probleme tree vir tree op.

Elke keer as ons op die Seepunt-promenade stap, is daar ʼn ander natuur-kunswerk wat teen die lug en op die see uitspeel.

Jy kan lekker drentel en jou aan die mense vergaap, of vinnig stap en dan by een van die vele klein koffiestalletjies of klein restaurantjies in die kuspad indraf vir koffie en ʼn croissant.

Ons byt egter vas vir die heerlike ontbyt wat by die hotel wag. Varsgestort en nat kuiwe later, is die Benedict-eiers romerig en warm op my tong. Ek onthou die dae voor Covid-19, toe ons die laaste maal in New York in die VSA gekuier het en in ʼn restaurantvenster die lewe buite gadegeslaan het, met dieselfde romerigheid en sterk koffie as nou.

My geliefde laat ʼn gelate sug uit en verklaar dat ons twee darem maar baie van venster-sit hou…

Die laatoggend-vertoning by The Labia, ʼn privaat kunsfilmteater in Tuine, bly een van my gunstelingdinge om oor ʼn lui naweek te doen. Die teater was in Mei vanjaar 73 jaar oud. Die oorspronklike gebou was ʼn Italiaanse ambassade-balsaal, wat op 16 Mei 1949 deur prinses Labia geopen is as ʼn teater vir die uitvoerende kunste. Rolprente is vertoon wanneer geen lewendige teater-optredes aangebied is nie.

In die vroeë 70’s het ʼn groep jong rolprent-entoesiaste die lokaal omskep in ʼn voltydse bioskoop wat kunsfilms vertoon. Dit vertoon vandag steeds hoofsaaklik kultus-, klassieke- en kunsflieks en dis die enigste plek waar jy jou “Slush Puppy” met vodka of jenewer kan geniet en jou springmielies nog in ʼn bruin papiersakkie kom.

Die beeldhouwerke wat op die grasperk langs die promenade pryk, het al deel van die landskap geword. Hier lyk Michael Elion se reuse-sonbril, getiteld “Perceiving Freedom”, wat die voormalige Suid-Afrikaanse president, Nelson Mandela, eer heel misterieus in die oggendmis.

Baie van die oorspronklike kenmerke van die ou gebou is in stand gehou, soos die kaartjiehokkie, lekkergoedtoonbank en selfs die sitplekke in die teaters. Dis ouwêreldse sjarme, waar jy amper die sterstof tussen die fluweelsitplekke kan ruik.

Net om die draai, is een van ons ander gunstelinge: Kloofstraat met sy menigte koffiewinkels, restaurante, roomysplekke en kunsgalerye. Net om na die winkelvensters te kyk, bied ons ure se genot.

Ons sit – natuurlik weer in die venster – by Egg Head, ʼn katspoegie van The Labiateater. Die polsende Buddha Bar-musiek laat jou voet onwillekeurig, maar onbewustelik, liggies saamtik. Die restaurant se eb en vloei tussen ontbyt, laatontbyt en middagete wissel saam met die buie van die berg wat deur die reuse houtvensters omraam word.

“Die berg lyk nooit dieselfde nie,” verklaar ons kelnerin filosofies. Ek is nogal verbaas dat sy, ten spyte van haar besige drafstap-skedule tussen kliënte deur, nog na die berg kyk. ʼn Mens raak mos enige uitsig gewoond, hoor ek. “Ja, seker,” beaam sy my vermoede. “Maar die berg is uniek. ʼn Mens kan nie ophou kyk nie. En as die wolke soos ʼn woltafeldoek oorwaai, kan jy maar jou jas teen die snydende Suidooster uithaal.”

Op hierdie vroegmiddag laat in die lente, is die lug vars, blou en oop. Die rooi busse waaruit toeriste by elke busstop peul om foto’s te neem en nuwe plekke te ontgin, draai hoog teen die berg om sy vrag op of af te laai soos wat mense die kabelkarretjie geniet. Die eb en vloei is daar ook konstant.

Eksentrieke studente kom drink vegetariese drankies en ruil wenke oor braids uit by die tafeltjies onder ons neuse – anderkant die venster. Neffens hulle sit hip jong gemanikuurde sakemanne en tussenin is daar tale wat só vreemd – maar strelend – op die oor val ná twee jaar se toerismedroogte.

Theatre on the Bay in Kampsbaai gee jou nie net ʼn lekker teater-ervaring nie, daar is ʼn tikkie Engelse romantiek daar in die mooie gebou.

Ons gaan terug hotel toe en ontspan in die binnehof. Die ure vloei onder ons uit, maar sonder dat ons dit probeer vashou. Die glas wyn langs my boek, word later ʼn koffie en heelwat later, ʼn jenewer en tonikum met ʼn paar kougoed. Ek is amper traag om my boek neer te sit en te gaan regmaak vir ʼn aand by een van die stad se ander statige dames: Theatre on the Bay in Kampsbaai. Maar enige toneelstuk of musiekblyspel daar, is ʼn klein herinnering aan teater in Londen se West End of New York se Broadway en die dae toe dinge anders was.

Ons Uber soontoe, te dankbaar vir die geleentheid om soos ware stadsbewoners ook net op die toepassing op ons fone te klik en siedaar, ʼn voertuig verskyn voor die hotel se deur. Ons woon 50 km buite die middestad en sou ʼn plaas se prys vir hierdie luuksheid moes betaal. Maar die paar kilometer tussen Seepunt en Kampsbaai, vlieg sommer vinnig verby.

The Labia, ʼn privaat kunsfilmteater in Tuine, bly een van my gunsteling dinge om oor ʼn lui naweek te doen. Die teater was in Mei vanjaar 73 jaar oud. Die oorspronklike gebou was ʼn Italiaanse ambassade-balsaal, wat op 16 Mei 1949 deur prinses Labia geopen is as ʼn teater vir die uitvoerende kunste. Rolprente is vertoon wanneer geen lewendige teater-optredes aangebied is nie.

Ons kry vriende daar voor die vertoning vir drankies en met die teater se reuse-glasdeure oop, spoel die son en seelug so baldadig by die voordeur oor ons voete, in. Weer hoor jy seevoëls en wieg die palmbome in die ligte briesie. ʼn Mens voel sorgeloos vir ʼn paar ure.

Twee ure later is my gemoed vol van die aand se vertoning. Op die marmervloer van die voorportaal klink vroue se hakke op; mans kry drankies en die agtergrondmusiek tiekiedraai tussen die pilare van die pragtige argitektoniese gebou.

Egg Head, ʼn katspoegie van The Labiateater, se mooi dekor en polsende Buddha Bar-musiek laat jou voet onwillekeurig, maar onbewustelik, liggies saamtik. Die restaurant se eb en vloei tussen ontbyt, laatontbyt en middagete wissel saam met die buie van die berg wat deur die reuse houtvensters omraam word.

Almal is lus vir iets kleins om te knaag en die Mojo Market in Seepunt se Regentweg, is op pad terug hotel toe. Daar is lewendige musiek en mense kry kos by stalletjies en vergader dan by gemeenskaplike tafels in die middel van die reuse saalagtige gebou. Ons eindig die aand met glase vonkelwyn, groot heildronke op die mooi in die lewe en vriendskap.

Ons laaste stop op pad huis toe, is Yiayia’s Table in Durbanweg, Mowbray. Ons wou net stop vir hul heerlike Griekse wegneemetes, maar die reuk van koffie en ekmek tataifi hang in die lug en ons sit vir ʼn paar salige minute. Die soete saligheid van stroop, Griekse roomvla en neute streel enige swaarmoedigheid weg.

Kort-kort kom iemand in en daar word Griekse geselsies uitgeruil met die eienaars, Dimitri Parolis en sy vrou, Kathy. Ek lees so tussen teugies cappuccino deur, op die plakkaat teen die muur, dat die eetplek opgedra is aan Elli Parolis wat in 2012 oorlede is. “Yiayia” beteken “ouma” in Grieks. Sy het in 1937 van Griekeland gereis vir ʼn gereëlde huwelik met Jimmy en hulle het hul hele lewe in Mowbray gewoon en van die perseel waar Yiayia’s Table is, onder meer ʼn teekamer en later ook hul slaghuis bedryf. Haar gasvryheid en heerlike Griekse kos was legendaries en haar kleinseun en sy vrou het die onderneming ter ere van haar begin.

Die nostalgie van ouma se gebak wat nou met dieselfde oorgawe aan kliënte bedien word, gee my sommer ʼn knop in die keel. En die gesels oor Griekeland, reis en sorgelose dae, gee my skoon reiskoors!

Ons eet toe ook maar van die filodeeg-pasteie met spinasie, feta, hoender en sampioene, voor ons die bereide maaltye in die yskas takel en ʼn mandjie halfvol pak vir huis toe neem.

Die twee wesens wat 72 uur later hul bagasie in die kattebak bêre en die hotelpersoneel by The Winchester groet, is ander mense as drie dae tevore. Die mini-wegbreek het behoorlik soos ʼn oorsese avontuur gevoel.

Kitsfeite:

  • Bespreek jou verblyf, ete of drankies by The Winchester Boutique Hotel by 021 110 5006 of Newmarkhotels.com
  • Vir meer inligting oor die Theatre on the Bay-program vir die volgende paar maande, besoek www.pietertoerien.co.za
  • Vir meer inligting oor The Labia-program vir die volgende paar weke, besoek www.thelabia.co.za
  • Vir ʼn regte Griekse-ervaring in die hartjie van Kaapstad, gaan loer in by Yiayia’s Table of besoek www.yiayiastable.co.za

Foto’s verskaf deur Clifford Roberts en Newmark Hotels & Reserves.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.