Foto’s: Kom kuier in die Franse Alpe se Val d’Isère

Maroela Media het onlangs die kans gehad om Club Med se hotel in die bekoorlike Val d’Isère eerstehands te beleef. (Foto: Verskaf deur Club Med)

Sommige dorpies het net daardie atmosfeer wat jou met die eerste oogopslag bekoor. Val d’Isère, in die betowerende Franse Alpe naby die Italiaanse grens, is juis so ʼn plek met hart en siel waar elke gebou en nou straatjie met geskiedenis gevul is.

Dit is ook een van die geboorteplekke van skisport in die Alpe en daarom dalk geen verassing nie om te hoor Val d’Isère gereken word as een van die beste ski-bestemmings in die wêreld, en leen jy jou ore uit, sal jy waarskynlik hoor dit is beslis dié beste ski-oord. In die hartjie van Desember is dit natuurlik ʼn droombestemming; iets wat herinner aan ʼn toneel uit die geliefde kinderprogram Heidi met alles wat jy kan verwag van ʼn ware spierwit, sneeubedekte Kerskaartjie.

Maroela Media het onlangs die kans gehad om Club Med se hotel in die bekoorlike Val d’Isère eerstehands te beleef en wat akkommodasie betref het die hotel alles wat jy kan benodig om ʼn ski-vakansie te geniet wat luuks, eksklusief en ontspannend vir die hele gesin is.

Club Med is die enigste hotel in die dorp wat direkte “ski in en ski uit”-toegang tot die skibane bied en is omring deur sneeubedekte hange terwyl dit uitkyk oor die poskaartmooi Val d’Isère met sy 16de eeuse kerktoring wat oor die dorpie waak.

Val d’Isère word as een van die beste ski-bestemmings in die wêreld gereken. (Foto: Verskaf deur Club Med)

Boonop is die hotel so onlangs as 2022 heeltemal opgradeer en vorm nou deel van die groep se eksklusiewe versameling. By Club Med kraai kos koning en die oord spog met twee restaurante – Le Bellevarde wat ʼn buffet met sy eie kaassommelier bied, asook die à la carte-restaurant Le Millesimes, drie kroeë en 216 kamers.

Wat die Club Med-ervaring selfs nog lekkerder en gemakliker maak, is dat jou skitoerusting reeds gereed in jou eie sluitkas staan en wag. Al die toerusting word vooraf aanlyn bespreek en jy kan met dagbreek reeds uit op die skihellings wees om die sneeu te verken. Jou ski-pas wag reeds in jou kamer en jou Club Med-armband gee jou toegang tot al die geriewe in die hotel.

As jy nie ʼn skiër of sneeuplankryer in murg en been is nie, is daar genoeg pret om jou besig te hou. Daar word 24 uur se jogaklasse per week aangebied. Die klasse is ontwikkel deur Heberson Oliveira, ʼn dierbare man wat vir ons raad gegee het hoe om ons rûe te ontknoop ná die 12 ure op die vliegtuig van Suid-Afrika. Jy kan die Cinq Mondes-spa gaan ontdek en die laaste bietjie spanning, of moeë spiere, in die warm borrelbad in die buitelug laat wegsmelt.

Buiten ski-lesse vir enige ouderdom en vlak van ervaring is daar ook sneeuskoen-staptogte, hondesleeritte en self vetband-fietsry. As jy jouself wil verlustig in die geskiedenis van die dorp en sy omgewing, kan jy Val d’Isère saam met ʼn toergids verken of op eie houtjie aandurf.

Wat maak Val d’Isère wonderlik?

Kort jy nog ʼn bietjie oortuiging om dié besonderse skibestemming deel van jou wenslys vir oorsese vakansiebestemmings te maak? Val d’Isère is saam met Tignes deel van die Espace Killy-skigebied, wat ook die titel as die mooiste ski-gebied in die wêreld vir homself toegeëien het. Die streek spog met meer as 300 kilometer se ski-bane. Hierdie uitgebreide netwerk maak voorsiening vir skiërs van alle vaardigheidsvlakke, van hellings vir beginners tot uitdagende off-piste-areas, weg van die goedversorgde ski-bane, vir die meer avontuurlustiges.

Die ski-oord trek natuurlik voordeel uit sy hoë hoogte bo seespieël, met ski-hoogtes wat wissel van ongeveer 1 850 meter in die dorp tot meer as 3 450 meter hoër op in die berge. Hierdie hoogte bo seespieël verseker ʼn soort mikro-kilmaat aan die omgewing met uitstekende sneeubedekking wat ʼn heerlike lang ski-seisoen van laat November tot vroeg in Mei bied. Europa het in 2022/2023 ʼn besonders slegte sneeuseisoen beleef, maar Val d’Isère het steeds goeie sneeuval gekry, wat skiërs aan die ski gehou het van Desember 2022 tot Mei 2023.

Boonop bied die hele omgewing ʼn uiteenlopende reeks terreine, insluitend breë, versorgde skihellings, uitdagende steiltes en beduidende geleenthede om te ski weg van voorbereide ski-bane, of off-piste soos die Franse dit sal noem. Hierdie verskeidenheid verseker dat skiërs en sneeuplankryers van alle vermoëns ‘n vervullende ski-ervaring het.

Val d’Isère het oor die jare baie in sy infrastruktuur belê, en bied moderne ski-hysers, goed onderhoude hellings en ‘n wye reeks dienste, insluitend skiskole, toerustinghuurwinkels en après-ski-aktiwiteite, ná ʼn lang dag in die sneeu.

Anderkant die skihellings is Val d’Isère bekend vir sy eg bekoorlike Alpe-kleindorpie-atmosfeer, met ‘n lewendige après-ski-ervaring. Die dorp spog met ‘n wye verskeidenheid restaurante, kroeë en nagklubs, sowel as winkels en spa’s, wat dit perfek maak vir ontspanning ná ‘n dag teen die berg.

Die ski-dorp spog met skilderagtige skoonheid in ‘n asemrowende berglandskap en bied van die mooiste uitsigte oor die Franse Alpe. Die tradisionele Savoyard-argitektuur dra by tot die oord se sjarme en atmosfeer, wat dit nie net ‘n plek maak vir ski nie, maar ook om die skoonheid van die berge te geniet.

As jy vandag na Val d’Isère kyk sal jy nooit kan glo dit het die Franse avonturier Jacques Mouflier jare geneem om mense te oortuig om in die dorp te belê om dit die besonderse ski-oord te maak wat dit vandag is nie. Jacques het die omgewing in 1929 vir die eerste keer besoek en dadelik verlief geraak daarop. Die destydse burgemeester Nicolas Bazile, was egter oortuig dit is onmoontlik om te ontwikkel weens die ongenaakbare klimaat en afgeleë ligging van die dorp.

Alhoewel Val d’Isère ‘n afgeleë en afgesonderde gevoel behou het, is dit relatief toeganklik vanaf groot lughawens en stede in die streek. Hierdie toeganklikheid, gekombineer met die oord se omvattende interne vervoeropsies, maak daarvan ʼn gerieflike besoek vir reisigers.

Om vir die eerste keer ʼn skivakansie in ʼn vreemde land te reël kan ingewikkeld raak. Daar is vlugte wat bespreek moet word, toerusting wat gehuur moet word en skilesse wat vasgemaak moet word. Club Med maak dit so maklik as wat dit kan wees: Alles is by jou vakansie ingesluit, selfs sjampanje wat van 18:00 daagliks bedien word.

Geen sneeu nie? Geen probleem nie. Val d’Isere word ook gedek deur Club Med se sneeuwaarborg. As daar ‘n gebrek aan sneeu by enige van sy 14 Europese bergoorde is, kan gaste gratis geskuif word of hulle vakansie kan herskeduleer word.

  • Maroela Media se besoek aan Val d’Isère is moontlik gemaak deur Club Med Suid-Afrika. Die toergroep het met Air France na die Franse Alpe gevlieg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.