Foto’s: ʼn Landjie vol lekkerte

(Foto: Jacques Marais)

Deur Jacques Marais

Wanneer laas het jy in Eswatini, voorheen Swaziland, gaan kuier? Hierdie koninkryk mag nou wel piepklein wees, maar dié buurland loop oor van avontuur en is verseker een van die sub-kontinent se vriendelikste bestemmings.

Die plek: Mlilwane-reservaat, Lobamba in Eswatini

Dit bly darem altyd spesiaal om jou paspoort te laat stempel, of hoe? ʼn Mens staan op die drumpel van ʼn onbekende kultuur, met verassings wat wag om elke hoek en draai. Met die Rand wat so sukkel, maak dit nogal sin om Eswatini toe te mik vir jou volgende vakansie.

Dit is relatief naby vir mense in die noordelike provinsies, is redelik bekostigbaar, en dit is beslis een van daardie tipiese ‘Afrika vir Beginners’-bestemming. Geografies is Eswatini ʼn buksie van ʼn buurland: ongeveer 200 km lank en 100 km breed. Dit mag wel na ʼn liggewig landjie klink, maar dié strokie bosveld neffens die Lubombo-reekse is met avontuur gepak. Uiteenlopende geografie, ʼn tradisionele Nguni-kultuur en puik natuurreservate is maar net ʼn handvol van die aanloklike opsies wat op jou wag.

Mlilwane, digby Lobamba, en sowat halfpad tussen Mbabane en Manzini, is net die plek vir jou volgende familiewegbreek. Hierdie uiteenlopende reservaat is deel van Eswatini se grootwild-parke, ʼn organisasie wat sedert 1964 dien as Eswatini se natuurbewaring-vleuel.

Daar is drie puik parke en reservate waar ʼn mens kan gaan kop skoonmaak. Hlane is soort van soos hulle Krugerwildtuin, terwyl Mkhaya my weer aan Hluhluwe laat dink. Mlilwane is die oudste van die drie, en is ʼn perfekte buitelug-bestemming indien jy wil fietsry en stap.

Hierdie opregte natuur-heiligdom strek al teen die Ezulwini-vallei langs, met savanna-vlaktes, digte woude en ruwe pieke. Daar is nie juis gevaarlike wild om van te praat nie, maar hou wel jou oë wawyd oop vir krokodille wat naby die damme en rivierlope baljaar, veral na sononder.

Die uitsig van bo-op Nyonyane-piek is asemrowend. Blykbaar het Swazi-konings van ouds hul vyande hier oor die krans gewerp, en onder jou strek die vlaktes soos ʼn mini-Serengeti, maar gelukkig sonder die leeus en luiperds.

Gaan loer gerus by www.biggameparks.org

Dinge om te doen

Trap fiets: Pak jou ysterperd, want daar is grondpaaie, 4×4- en bergfietsroetes om van te kus en te keur. Fietse kan by Mlilwane gehuur word, en dit is ʼn uitstekende manier om die wild in die reservaat te besigtig. Daar is sowat 45 km se gruis- en enkelspoorpaaie om te verken.

Draf en stap: Verskeie kort uitstappies, asook langer, meerdaagse roetes kan in Mlilwane-reservaat onderneem word. Troppe sebras, blesbokke, rooibokke en wildebeeste wei rustig op die vlaktes, en dit is maklik om waterbok, bastergemsbok, Oribi, klipspringer en rooihartbees te gewaar.

Saal op: Indien die fietsry na harde werk klink, kan jy altyd besluit om liewers jou ysterperd vir ʼn regte perd te verruil. Dit sal jou toelaat om nog nader aan die vlakte-wild te kom sodat jy pragtige foto’s kan neem. Mlilwane is natuurlik ook ʼn paradys vir voëlkykers, met die kleurvolle byevreters, visvangers, houtkappers en ʼn magdom ander geveerde spesies wat ʼn  mens hier kan kom aftik.

(Foto: Jacques Marais)

Hoe maak ʼn mens?

Hoe jy daar kom: Daar is verskeie grensposte tussen Suid-Afrika en Eswatini afhangende van waar jy reis. Kies tussen onder andere Golela, Mahamba, Nerston, Oshoek, Josefsdal en Jeppe’s Reef. Die Mlilwane-afdraai is op die MR3-roete tussen Mbabane en Manzini.

Bly en eet hier: Die goeie nuus is dat jy nie deur jou nek sal betaal vir die hope spasie en rustigheid wat jy in Mlilwane vind nie. Suid-Afrikaanse rand word meesal aanvaar, jy hoef nie ʼn visa aan te skaf nie, en die verblyf wissel van spotgoedkoop slaapsale vir rugsakreisigers (backpackers) tot tradisionele Swazi-riethutte.

Daar is ook goed versorgde selfsorg-rondawels (vanaf R515 per persoon) of luukse verblyf by die historiese Reilly’s Rock Lodge, ʼn pragtige ou klip gastehuis (tariewe vanaf R1 485 per persoon). Doen jouself ʼn guns en gaan kuier – jy sal aangenaam verras wees.

Die Hippo Haunt is ʼn 120 sitplek semi-opelug-restaurant met ʼn volledige kroeg, en dit kyk uit oor ʼn watergat waar watervoëls en krokodille kuier. Self-dien-aandetes, ʼn A la carte-spyskaart en drie maaltye per dag word aangebied.

(Foto: Jacques Marais)

Roete-inligting:

  • Moeilikheidsgraad: Maklik tot moeilik, afhangende van die roete-afstand.
  • Lengte: Enigiets van 1 tot 4 uur
  • Beginpunt: Mlilwane Wildreservaat-kampeerterrein
    GPS-koördinate: 26°28′05.7″ S /  031°09′42.2″ O
  • Terrein: Dubbel-spoor 4×4-roetes, gruispaaie en sowat 10 km enkelspoor
    Kaart: Beskikbaar by Mlilwane-wildreservaat
    Meer inligting:
    www.biggameparks.org

Jacques Marais is die skrywer van Top MTB Trails en Doen-dinge in ʼn dorp. Stuur vir Jacques ʼn boodskap by @jacqmaraisphoto op X, voorheen Twitter, of besoek jacquesmarais.co.za

(Foto: Jacques Marais)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.