Foto’s: Niks of niemand is dwars in dié vallei

Crescenda Willemse-Bauer, proelokaalbestuurder, en Diaan van Zyl, die bemarkingsbestuurder, by Thelema. (Foto: Clifford Roberts)

Tussen Stellenbosch en die T-aansluiting na Paarl – Franschhoek en Simondium – lê ’n ses kilometer lange vallei genaamd Dwarsrivier. Dit sluit Pniël, Kylemore en Johannesdal in. Hier koester die berge, die fynbos en gulhartige mense enige besoeker, skryf Maryke Roberts.

By Thelema op die kruin van die vallei, lê daar dennebolle in die stofpad neffens die netjiese wingerdrye. “Moet seker ’n vergadering wees,” grap my man. Ek kyk na die ses bolle wat so naby mekaar lê en lag. Voor ek kan antwoord, gaan hy voort: “Meneer die voorsitter, ek stem saam met die besluit.”

Ons skater soos kinders. Dit is wat ’n dag of twee in die mooie wynlande, ruite af en sagte musiek oor die luidsprekers vir jou siel doen, besef ek opnuut. Jy kyk regtig na die lewe buite jou klein onsigbare stresborrel, wat jou oral soos ’n onweerswolkie volg. Ons waai vir die wingerdwerkers wat weerbarstige jong lote tem sodat die wingerde reg groei vir die volgende oes.

Diaan van Zyl, bemarkingsbestuurder, ontmoet ons met ’n glas yskoue Thelema Cap Classique 2016 in die hand. Dit was 42 maande op die gismoer – meeste cap classiques is net 12 of 18 maande op die gismoer. Dis droog, beskuiterig en ʼn heerlike lafenis in die warmte wat laatoggend klaar in die vallei kom nesskop het.

Thelema is in 1983 deur Gyles Webb aangekoop. Toe was dit allesbehalwe die netjiese wynplaas wat dit vandag is, vertel hy. Dit was ’n verwaarloosde vrugteplaas. In 1984 is die eerste wingerde geplant; 1988 die eerste wyne gemaak en gebottel en sedertdien kom kuier mense graag hier vir wynproe met die uitsig oor die Petit Verdot-wingerde met die Groot Drakensteinberge daaragter, wat só naby voel, jy wil oor die reling leun en daaraan vat.

Agter die reusebome so regs van die reuse- nuwe houtstoep, wink Botmaskop en skuins agter die kelder troon Simonsberg bo ons koppe uit.

Gyles het in 2002 nog ’n lappie grond bygekoop, Sutherland, in die koeler Elgin-vallei. Thelema se 60 hektaar wingerd en Sutherland se 30 hektaar, gee hom genoeg verskeidenheid om na hartelus in die kelder te versny en te verouder. Die plaas het bykans 30 verskillende wyne onder die twee etikette. Daar is soveel lekker wyne en die groep wat op die stoep proe, het elkeen hul eie gunstelinge, maar dis vir die cabernet sauvignon wat die plaas bekend is en Diaan verduidelik dat Gyles een van die Groter Simonsberg-streek se pioniers met wingerd plant was bykans 40 jaar gelede.

Crescenda Willemse-Bauer, proelokaalbestuurder, gesels met gaste in Duits en oral by tafels sit mense en wynproe en gesels. Die kelder het geen restaurant of peuselgoed nie, maar die parkeerterrein is vol. Dis ’n teken van die gehaltewyne wat hier gemaak word.

Ons gesels met Kim Lord wat vertel dat danksy die Banhoek Trails al 36 plase in die Banhoek-vallei nou aanmekaar met stap- en fietsroetes verbind is. Jy kan oral op paadjies stap, sonder om een maal op die teer te stap of besige paaie aan te durf, en letterlik van Stellenbosch tot Franschhoek op plase stap of fietsry.

So ongerep is dele van die plase dat jy gereeld ’n Kaapse luiperd in die bosse gewaar en aan voëlgesang, fynbos, natuurskoon en klein diertjies is daar geen tekort nie.

Danksy die inisiatiewe van Banhoek Trails en Trails SA wat hul fondse van Imperial ontvang, is die paadjies ook beman en in geval van nood kan die personeel van die Kylemore- of Idasvallei-gemeenskapspanne jou van hulp wees.

“Jy stap op ’n roete wat jou hart lig; in die vars lug, omring deur hierdie ongekende natuurskoon. Ons werk tans aan ander roetes en uiteindelik sal jy van die Waterfront af kan stap of fietsry, deur Stellenbosch, Paarl, Phesantekraal, Melkbos en Wellington, en tussendeur op ’n wynplaas wynproe of eet voor jy vanaand in die verebeddegoed op Franschhoek neerval.”

Ons stap van Thelema se proelokaal die 20 minute stap na Zorgvliet, wat effens verder in die Banhoek lê saam met die Banhoek Bewarea veldwagters. Dié plaas is die laaste binne die Stellenbosch Wynroetes-afbakening. Daarna val die plase onder die Franschhoek of Paarl Wynroete-afbakenings, maar heelwat van die aanbiedinge in die vallei val onder Visit Stellenbosch, om aan besoekers aan die Eikestad ’n wyer verskeidenheid van baie uiteenlopende ervarings te gee.

Dis asof die windlose, potblou dag die berge, damme en reusebome op die pad nog meer laat uitstaan. Asof iemand filters gebruik het om die mooi nog mooier te maak. Jou oë wil amper nie die oordadige kleurskouspel inneem nie.

Ons sit ’n halfuur later onder die bome by Zorgvliet en proe hul wyne wat in drie reekse beskikbaar is: Silver Myn (maklike drinkwyne), Zorgvliet (meer premium) en die Grand Cuvee (hul pronkstukke). Daar is ’n klein ponietjie wat onder die bome by elke tafel kom bedel dat jy sy maanhare deurmekaar krap, maar ons besef gou dis die lekker vrugte op ons kaasbord waarin hy meer belangstel!

Langton Ndaba, die jong proelokaal-assistent, vertel ywerig van elke wyn in ons glas en my hart is vrolik vir jong entoesiasme oor ’n wynbedryf wat al vir meer as drie eeue aankom. So met die stappery gesels ek met ander jong entoesiaste: Austin Lawrence, een van die gidse van Township & Village wat egte gemeenskapstoere bied, en ook Ettienne Basson, een van die Kylemore-gidse van Trails SA.

Austin vertel sy oom, Richard Williams, en sy oupa, Bernard Mentoor, is die vallei se krisantkonings. Hy deel staaltjies uit die vallei, waar sekere name vandaan kom en hoe mense die staptogte geniet.

Van die proelokaal, wat in en om die opstal wat uit 1860 dateer ingerig is, stap ons verby die wilgerbome en dam na die piekniek-area. Jy kan onder die bome op die grasperk onder sambrele lê, of by tafels en stoele sit om jou piekniek en wyn te geniet. Die oulike winkeltjie verkoop allerhande oulike geskenke ook en jy kan óf ’n piekniekmandjie bestel, óf jou eie een opmaak. Ons teug aan die plaas se wyn, eet botterskorsietertjies in fillodeeg, en kyk hoe die wolke patroontjies bo ons koppe maak.

Verderaan op die plaas is ’n luukse venue waar troues en ander feesvieringe gehou word.

ʼn Mens sou heeldag hier wou loom tussen slaap en wakker, maar Pniël se skatte wag.

Faith Stubbs, toergids, ontmoet ons voor die Pniël-museum en vertel van die geskiedenis, hoe die klokboom ’n integrale deel van die daaglikse lewe was, toe die boom omgewaai het en ’n kloktoring later jare opgerig is. Die klok op Die Werf word elke jaar op 1 Desember om 12:00 gelui om die herdenking van die vrystelling van die slawe in 1834 te vier.

“Dis ook toentertyd elke aand om 21:00 gelui.” Sy sien die vraagtekens op ons voorkoppe. “Die eerste eerwaarde, JF Steggman, was baie streng en het saans om 21:00 begin om die strate op sy perd te patrolleer, sweep in die hand. Die slawe moes dan volgens die aandklokreël reeds binne gewees het.”

Sy wys ons die werf, die vryheidsmonument en die Ubuntu-monument.

Die oulike Pniël-museumboekie vertel dat die Stellenbosch-distrik een van die grootste slawebevolkings in die Kaap gehad het en dat daar teen 1799 sowat 11 000 slawe hier gewerk het. Toe slawerny in 1834 afgeskaf is, was meeste van hulle haweloos. Die eienaars van die plaas, De Goede Hoop, het 19 hektaar geskenk waar ’n sendingstasie vir bevryde slawe geskep is. Dis Pniël genoem, vanuit ’n teksvers in Genesis 32:30: “…en Jakob het die plek Pniël genoem, want,” het hy gesê, “ek het God van aangesig tot aangesig gesien…”

In die museum – ingerig in die ou Papiere Molen se ou plaasopstal – is die ou Hollandse Bybel wat al die jare op die kansel gehou is. Dit lê onder glas oop by die teksvers in Genesis waar die dorpie se naam vandaan kom.

Ons gids deur die museum is Samantha Meyer. Teen die mure hang foto’s van ’n baie nou gemeenskap; selfs die stamboom van die bekende families wat die afgelope bykans 200 jaar hier woon. Dis verfrissend om ’n goed toegeruste en versorgde museum te ervaar.

By ons gastehuis, Lumley’s Place, waar ons laatmiddag arriveer, wys Benita Cyster na die reusehoutbak op die koffietafel. “As julle ʼn paar minute het, brei gerus. Ons brei vir die vroeggebore babas en skenk dit dan aan hospitale deur ’n vrou wat dit kom optel.”

So eenvoudig soos dit. Gemeenskap. Saamstaan. Omgee.

Dit is die woorde wat oral om jou draai soos jy die omgewing verken.

Na al die gewoel en ervaar is ons flou. Die swembad blink aanloklik. As jy op jou rug in die koel water dryf, wil jy jou hand uitsteek en aan die Simonsberg vat. Dié reuserots troon bo alles in die vallei uit en mense se trots daarmee skemer oral deur.

Ons bly in die Kliphuis-kamer wat hulde bring aan die eerste huis waarin Benita en haar ouers gewoon het. Die kaggel in ons kamer is uit daardie huis se klip gebou.

Later staan ons varsgestort met wynmengeldrankies in die hand by Staymore Gastehuis in Kylemore. ’n Vuur brand gesellig in ’n vuurbak met lae houtbalke daarrondom gepak getuig van baie lang kuier-aande onder die sterre. Dis hier wat ons na “auntie Rachel” luister. Die afgetrede onderwyseres noem haarself ’n trotse “Kylemorian” en word genooi as gaste kom kuier en braai, om van die omgewing se geskiedenis en sy mense te vertel. Dis Staymore se bier en braai wat mense van alle uithoeke lok.

Ons lag toe sy praat van die dorpies se mense se liefde vir byname en trots op hul rugby-uitblinkers soos Herschel Jantjies, Edwill van der Merwe en Ivan Jacobs. “Ons is dalk deur die week verdeel, maar Saterdae is dit die rugby wat ons weer herenig!”

Toe ons in Pniël by Alenore Pietersen se huisrestaurant, Alenore’s, aankom, is daar beurtkrag. Dis nog lig, so die straat se mense sit almal op hul stoepe, op die motor se neus, of op die tuinmuurtjie en gesels. Kinders speel sokker in die straat en almal gesels oor en weer. Niks wegkruip agter hoë mure en kragopwekkers om televisies en stowe aan die gang te hou nie. Dis ’n blaaskans dié. Mense sien en hoor mekaar waarlik.

Alenore verwelkom elke gas by haar hekkie. Binne is tafels in haar piepklein eetkamer gedek; glase staan in netjiese rytjies langs ’n groot fles oranje koeldrank, en op ’n klein tafeltjie is koppies, pierings tee, koffie en suiker vir later uitgepak.

Stoele en tafels is uit latte en ou palette buite op ongelyk sement prakseer; mens kon netsowel iewers in Griekeland of Argentinië wees. Alenore is ook deel van Townships & Villages, wat onder meer tuis-ervarings soos dié aan toeriste bied.

Ons gids deur die museum is Samantha Meyer. Teen die mure hang foto’s van ’n baie nou gemeenskap; selfs die stamboom van die bekende families wat die afgelope bykans 200 jaar hier woon. Dis verfrissend om ’n goed toegeruste en versorgde museum te ervaar. (Foto: Clifford Roberts)

Alenore vertel van die “Krismisparty” wat sy elke jaar vir die dorp se kinders, enkel-seniors en huisloses hou. Elkeen kry iets om te eet en ’n geskenkboks. Die klein ruimte voor haar huisie skaars groter as ’n dubbelgarage, maar hier kom meer as 120 mense elke jaar vir ’n dag van liefde, sorg en Kersfees-gees. Haar hart is onmeetbaar groot. “As jy gee en deel, is jou lewe geseën,” die eenvoudige antwoord.

Ons smul aan haar spinasietert vir voorgereg, toe botterhoender, rys en sambals, voor aarbeie en roomys volg. Die wyn is koud, die gesels gul en warm, en gou is al die vreemdelinge buite onder die lattedakkie vriende.

Sy kook al vier jaar so vir besoekers. Soms verstaan sy nie enige van die tale onder die gaste nie; soms is dit haar verlangse bure wat kom eet. Sondae is dit dié bymekaarkomplek in Pniël. Toe dit later donker word, brand kersies vrolik in klein inhamme en vertel Alenore van haar swaar grootwordjare, die invloed wat haar ouma op haar gehad het en haar geleer kook en bak het en hoe dankbaar sy is vir die lewe wat sy nou hier in die vallei kan geniet. “Daar is baie liefde en omgee hier en ek is geseënd en tevrede.”

Dis hartsmense hierdie wat dit wat hul het – soms baie min – so gulhartig deel. ʼn Mens is tegelykertyd dankbaar en effens skaam oor jou eie gejaagde lewe.

By Lumley’s slaap ons die slaap van die dooies voor die reuk van spek en eiers ons die volgende oggend kwylend teen die trappe na die eetkamer laat oploop. Die reuse- glasruite bied onbelemmerde uitsigte oor die vallei omdat die huis lekker hoog teen die hange van die berg sit. Benita vertel dat sy probeer om die dorp se gekook op haar tafel te bedien. “My ouers het my in die wêreld gebring, maar ek is deur die gemeenskap grootgemaak,” vertel sy. Die konfyt kom van ’n blok of twee weg, die suurlemoen- en pekanneutbome dra baldadig tot die aanbieding op die ontbyttafel by.

By elkeen se bord lê ’n poskaart met ’n seël op. Benita moedig ons aan om daardie verlore vriend – iemand met wie jy kwaaivriendskap het, of ’n geliefde oorsee – met ’n poskaart te verras. “Skryf so tussen die tuisgebakte muffin en koffie deur; ons sal dit pos,” gesels sy.

Een van die interessante kunswerke wat by Staymore-gastehuis te koop is, is deur die kunstenaar Joel Biza. (Foto: Clifford Roberts)

Ons skuif aan na Johannesdal 1207, wat deur die eienaars van Okasie, Chris Willemse en Dané Erwee, besit word. Hulle is nie net bekend vir hul ongelooflike blommekuns nie, maar hul gastehuis en onthaalvenue is baie gesog, veral as jy die ondergrondse danssaal met sy klankdigte (middernagblou) mure sien. Die gastehuis waar veral bruidsgeselskappe lafenis voor en na die bruilof ervaar is luuks, en ʼn mens wil sommer op een van die beddens gaan lê.

Op die stoep by ’n lang houttafel wag Fatimah Allie van Cape Essence vir ons. Sy verwelkom ons met ’n faloeda melkskommel, iets eie aan Kaaps-Maleise gesinne. “In die winter verwelkom ons gaste met warm boeber,” vertel sy.

Fatimah is ’n gekwalifiseerde toergids wat kultuur as haar spesialisgebied gekies het. Sy doen Kaaps-Maleise kookklasse, wys jou hoe om jou eie kruie en speserye te rooster en deel die resepte van haar ma, ouma en tannie. Haar navorsing om haar toere bymekaar te sit, het haar diep laat grawe en wyd laat reis.

“Dis toe ek spyseniering vir groot toermaatskappye begin doen het, wat ek besef het hoe onkundig mense oor Kaaps-Maleise tradisies is en selfs wat halaal beteken.”

Sy wys vir ons ’n Masala Daba, ’n ronde blik waarin verskillende speserye gehou word. “Elke bruid kry een met haar troue en sy bou dan mettertyd haar eie unieke versameling speserye op,” verduidelik Fatimah. Sy deel ’n paar geheime oor die perfekte kerrie: minder is beter; geroosterde speserye en fyngekapte uie met nie te veel tamatie nie.

Sy sê sy gebruik haar pa se definisie van kultuur: “Dis susterskap, broederskap, almal om die vuur wat uit een pot eet.”

Die luilekker kuier in die Dwarsrivier word met middagete in Kylemore afgesluit by Siena Charles se Bord en Beker in Skoolstraat. Sy woon verder af in die straat, maar hou haar etes by haar vriende, “antie Marie” en haar man, Japhta Swart se huis.

Siena vertel dat sy gebore en getoë is in Skoolstraat. “Ek ken vir Skoolstraat; nie vir Malvastraat of een van die ander nie. Ek kuier daar, maar ek kén vir Skoolstraat.”

Terwyl ons eet, is daar kort-kort ’n kind by die hekkie wat vra vir iets om te eet. Siena se omgee is duidelik in die manier hoe sy elkeen omarm en help.

Siena bedien smoorsnoek, soetpatat en rys met ’n groot slaai, voor ons weglê aan maaskaas-en-Peppermint Crisp-tert. O, ek is ewe skielik weer ʼn klein dogtertjie in Ouma se huis toe die tert in my mond smelt. Met ons moderne resepte en kosneigings is dié ou gunstelinge gewoonlik vergete, want dis óf te soet, óf te veel gluten, óf te veel suiwel na een se smaak. Vir nou luister ek na geen stemme in my kop nie: Ek skep sommer twee maal om die genot langer te laat hou.

Dis maar enkele dae wat ons hier kuier, maar dit bring groot veranderinge in jou binneste mee.

Kitsfeite

  • ’n Krisantefees word op 7 Mei in die vallei gehou. Meer inligting by die toerismekantoor.
  • Die Stellenbosch Wine Walks strek oor 12 kilometer en begin by die Idasvallei Natuurreservaat en sluit by Le Pommier vir ’n wynproe en middagete af, na ’n wynstop by Thelema. Slegs 13 mense per stap. Bespreek by [email protected].
  • Kontak Dwarsrivier toerismekantoor met Levinia Goshai aan die stuur van sake by 021 885 2467, [email protected] of besoek www.dwarsriviertourism.org.za.
  • Pniël is 12 kilometer van Stellenbosch; 25 kilometer na Franschhoek en 12 kilometer tot in die hartjie van Simondium.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.