Gent: van koffieplek tot katedraal

Die binnekant van die Gent-St.-Pieters-stasie met die Starbucks in die hoek. Foto: Dalene de Vente.

Die mooiste Starbucks waar ek al ooit was, is die een by die stasie Gent-Sint-Pieters.

Reisigers met rugsakke, skoolkinders, verliefde paartjies. Selfs ’n paar oumense sit met ’n koerant en porseleinkoppies waaruit hulle drink. ’n Man sit en skryf op A4-eksamenblok – ek het hom al voorheen gesien. ’n Student sit by sy skootrekenaar en elke nou en dan staan hy op (en los sy besittings net daar!) om koffie te kry. Die houtvloere, loodglasvensters, tekeninge teen die muur en selfs net die immerteenwoordige geselligheid met die reuk van koffie… dis waar ’n moeë reisiger vir ’n oomblik ’n tuiste kan vind.

Ek sit in my hoekie, selfoon in die hand. Die hoekie waar ek seker al die meeste tyd in Europa deurgebring het. Waar ek die lekkerste sit en lag (want ’n meisie wat alleen rondreis, kry soms vreemde versoeke…). Maar dit is ook die plek waar ek sit wanneer my hart saamtrek van verlange na Suid-Afrika.

Op die stasie kan jy ʼn gratis kaart van die stad kry, wat vir jou die paaie en tremroetes wys en ook so bietjie ekstra geskiedenis gee. Die kaart wys selfs waar die gratis toilette in die stad is (en dít is skaars).

Gent is iets van alles: ’n stad met studente, ’n stad met geskiedenis, ’n stad soos enige ander stad waar mense werk en in die verkeer vassit. Maar tog ook ’n stad wat anders is. Dit is ’n moderne stad wat gebou het op gister se juwele. ’n Stad waar jy die atmosfeer moet gaan vóél: Die kanale, die argitektuur, die mense. Ek het al ure deur die stad gedwaal – en elke keer iets nuuts ontdek.

Vanaf die stasie kan jy stap tot in die middestad. As ek op die Korenmarkt-plein staan, kan ek nie besluit watter kant toe nie, want alle kante lyk aanloklik. Aan die een kant is die St. Pieters-katedraal, aan die aan die ander kant strate vol winkels en koffieplekke. Die McDonald’s staan getrou op sy plek.

Die St. Pieters-katedraal hou my ure besig. Daar is papiere met geestelike gedigte wat jy kan saamvat en toeriste wat twee keer draaie loop deur al die prag en praal. Daar is ook verhitting in die katedraal – perfek vir wanneer jy op ʼn koue dag bietjie wil rus.

Op die Korenmarkt-plein staan ʼn man en maak borrels met ʼn bak seepwater, twee stokke en ʼn stuk tou. Hy is ʼn regte katjie van die plein met ʼn hoed vol kontant. Die borrels waai in die koue lug in, tussendeur die eeue oue geboue – klein ronde reënboë totdat dit skielik in die lug oopspat. ʼn Trem ry skreeuend om ʼn draai en toeriste met seer voete loop na die talle restaurante by die Korenmarkt.

Daar is die Gravensteen en ʼn baie ou woonbuurt, Patershol. Daar is markte met klere en groente en winkels met wafels. My oog vang ʼn koffiewinkel, “Koffeine” en ek laat my nie twee keer nooi nie. Die man agter die toonbank dring daarop aan dat ek die koffie sonder melk of room drink. “Die koffie is te lekker vir melk.” Hy lyk eintlik half aangevat toe ek nog steeds melk bestel.

Daar sit ek en skryf oor Gent. Daar is iets vir elke tipe reisiger hier: jy kan verken met ʼn bus, ʼn trem, ʼn fiets of te voet. In elke hoek en kant van die stad lê daar ʼn stukkie van my hart.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dr Phil ·

Dalene, weer eens lekker leesstof vir al ons rusbankreisigers…

Therese van Schalkwyk ·

Stem saam met die lesers hierbo.
Pragtig beskryf, voel of ‘n mens self daar is!
Wanneer die verlange na SA erg raak, dink aan kanse wat dikwels net een keer ‘n leeftyd kom.
Geniet en vertel nog!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.