Gesinsvakansie in die korona-tyd

Kreta, Griekeland. (Foto: Pixabay)

Ná die lang winter in Berlyn, met sy grendelstaat en ’n koue en reënerige lente, was ons uitgehonger vir son en die “Suidelike lewensgevoel” en het ons dus gesoek vir ’n vakansie iewers in die Middellandse See.

Ons kon uiteindelik in Kreta, die grootste Griekse eiland, regkom nadat dit twee keer weens korona-beperkings uitgestel moes word. Dit was ’n vakansiepakket met vlugte, hotelverblyf en etes ingesluit – ’n eerste vir my wat die selfstandige en selfgeorganiseerde reis verkies, maar met twee klein kinders was dit die beste opsie.

Griekeland word steeds as ‘n korona-risikogebied geklassifiseer, soos bykans alle lande in Europa, maar die getalle neem ook daar af. Ons moes egter, teen taamlike koste, eers ’n PCR-toets laat doen en ’n immigrasievorm invul. Die vertreklughawe is ook op kort kennisgewing verskuif vanaf ons blyplek (Berlyn) na Dresden, sowat drie uur per trein. Omdat daar geen nagtreine is nie, moes ons die laaste trein die vorige aand vat en op die lughawe oorslaap, want die vlug was die volgende oggend.

Vlieg met lugrederye wat deel is van vakansiepakkette is ook nie gerieflik nie – daar word op alles bespaar, jy kry nie eens meer ’n beker water nie, om van kos, drankies, koerante, rolprente, ensovoorts wat vlieg lekker maak, nie eens te praat nie. Die seisoen het so pas begin en ons was op een van die eerste toeristevliegtuie wat Kreta ná die lang korona-pouse bereik het.

Kreta, Griekeland. (foto: Pixabay)

Die eerste paar dae was ons amper die enigste gaste in die hotel en ook in die dorp waar ons gebly het. Kato Gouves, gewoonlik ’n bedrywige toeristedorp, was baie stil en dit was amper die gevoel van dekades terug se reis, waar besoekers van ander lande nog min was en met vriendelikheid en belangstelling verwelkom is.

Die tekens van die lang grendelstaat op ’n eiland wat grootliks van toerisme leef, was sigbaar, met talle winkels, restaurante en kroeë permanent gesluit en vervalle. Hier en daar was daar egter tekens van lewe, mense wat hul plekke begin herstel en regkry vir die seisoen. Omdat daar ’n ooraanbod aan toeristeprodukte soos klere, juwele en aandenkings was, was alles betreklik goedkoop. Maskers word orals binne gedra, maar andersins is daar geen beperkings nie en daar word nooit ’n toets gevra nie. In Duitsland kon jy tot onlangs toe nog in talle plekke nie eens koop sonder ’n negatiewe toets nie.

Kreta bied baie vir die besoeker, sowel vir diegene wat ontspanning soek asook vir diegene wat hou van kultuur en geskiedenis. Strande, son en hope vermaak, restaurante, kroeë, ensovoorts is daar, maar my indruk was dat dit nie ’n plek is wat voorsiening maak vir die soort jeugdige suip-en-fuif-toeriste wat so vele toeristebestemmings, veral by die see, ondraaglik gemaak het nie. Die strande is wel meestal klipperig, maar die water is lieflik helderblou en bied ook goeie geleentheid vir snorkel en duik. Die see – sowel wat die golwe en strome asook gevaarlike seediere betref – is veel veiliger as Suid-Afrika s’n.

Heraklion se hawe en kasteel. (Foto: Sebastiaan Biehl)

Afgesien van die see is daar ook ’n opwindende binneland met berge en klowe wat ook geskik is vir staptogte. Die plantegroei, met bosse vol wit en pienk bloeisels langs die pad, is ’n lus vir die oog. Olyfbome is natuurlik volop en in feitlik in elke erf, maar natuurlik ook as plantasies. Griekeland is immers een van die eerste lande wat olywe gekultiveer het, maar dit is inheems aan die hele Mediterreense en Midde-Oosterse streek. Ook granaat- en vyebome is volop. Die klimaat en landskap laat nogal aan die Weskus dink, sonskyn inkluis.

My belangstelling vir die geskiedenis kon ek weens die kort tyd en die behoeftes van die gesin net effens bevredig. Die bekendste historiese plek in Kreta is seker die ruïnes van Knossos wat uit die vroegste geskiedenis, 1700 voor Christus, dateer. Dit het ek reeds by ’n vorige geleentheid besoek.

Ook in die stryd tussen die Christene en Moslems in die 17de eeu ná Christus het die eiland ’n belangrike rol gespeel. Die hoofstad Heraklion was destyds onder die naam Candia ’n vesting van Venesië, wat met sy handelsryk groot dele van die Middellandse See beheer het. Kreta was, soos Siprus, die skakel in die beheer oor die Levant (die oostelike Middellandse See). Die indrukwekkende kasteel uit dié tyd wat die toegang tot die hawe beskerm het, kan besigtig word; talle kanonne en ander oorblyfsels is nog te sien.

Agios Nikolaos se meer en stad.

Ook dele van die enorme stadsmuur is nog behoue. Die Turkse vloot het Heraklion 21 jaar lank beleër, die langste beleg in die geskiedenis, en uiteindelik die vesting en stad onder geweldige groot verliese in menselewens aan beide kante, in 1669 ingeneem. Vir meer as 200 jaar het die Turke Kreta beheer. Anders as in Siprus, is daar egter vandag geen Turkse minderheid meer in Kreta nie.

Ook Agios Nikolaos kon ons besoek. Die ligging van die stad is skilderagtig, op ’n skiereiland met see aan drie kante en boonop ’n meer in die middel van die stad wat op een plek met die see verbind is. Die stad is op talle heuwels geleë wat stap en ry (veral in die nou straatjies) ’n uitdaging maak, maar ook lieflike uitsigte bied. Die water hier is ook baie skoon en ryk aan seelewe, soos wat ’n mens kan waarneem as jy ’n onderwaterbootrit onderneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.