Herontdek jou agterplaas

(Foto: Verskaf)

Dis sewe-uur. ’n Somersoggend. Sonstrale lê al sag oor die Moederstad se hawe en wil-wil oor Tafelberg loer na Kampsbaai. Hier waar ons staan, lyk dit soos twee verskillende seisoene aan weerskante van die berg. Die warm son aan die stad se kant en die oggendskaduwees wat nog Kampsbaai en Bakoven koel omarm. Dit is nie ’n ongewone situasie in Kaapstad nie, ’n plek waar die wind soms byna stormsterkte kan dwarrel in die stadskom en net anderkant Seinheuwel en Leeukop is dit ’n perfekte windstil stranddag.

Vandag het ons besluit om terug te keer na die basics en om ons agterplaas beter te verken, en wat ’n besonderse agterplaas. Kaapstad lê versprei op die hange van een van die sewe natuurlike wonders van die wêreld en die natuurskoon is soms bykans magies, behalwe dat in stede van drake en feetjies is daar dassies en (soms) bobbejane.

Ons het ’n avontuur gesoek wat die hele gesin, oud en jonk, kan geniet en waardeer maar wat almal se hartritme darem effens sal laat styg. Ons het besluit op een van die oudste en mooiste roetes van Tafelberg. Die Pipe Track het ontstaan in die 1800’s toe, net soos die naam aandui, waterpype aangelê is om water te lei vanaf die Disa-kloof na die reservoirs in Oranjezicht. Die pype word vandag nog gebruik om drinkwaterreservoirs in die stad vol te hou.

Dit is ’n heerlike roete van sowat 6 km in lengte en die beste tyd om te gaan is vroegoggend, omdat die roete aan die westelike hange van Tafelberg is en dit nog lekker koel is. Laatmiddag kan dit baie warm word.

Die roete begin by die eerste parkering wat ’n mens kry as jy op die Tafelbergpad indraai uit die Kloofnekpad uit. Die roete kronkel al langs Tafelberg se indrukwekkende sandsteenhange opwaarts, in parallel met die pyplyn, wat hier en daar kop uitsteek, en loop uiteindelik tot by Kampsbaai.

Dis ’n gemaklike stap wat nie te steil is nie, met ’n effense op- of afdraande hier en daar. Stappers hoef nie topfiks te wees om dit te doen nie. Die grootste aantrekkingskrag van hierdie unieke roete lê in die asembenewende uitsigte. Al langs die roete word stappers omring met besienswaardighede soos Leeukop, die oneindige Atlantiese Oseaan, Kampsbaai en die 12 Apostels-bergreeks wat konstante metgeselle is.

Reg om die klipperige paadjie lê die veld besaai met van die wêreld se mooiste blommeprag. Die Kaap se unieke fynbos met die protea aan die kop van die tafel is gedek as ’n feesmaal, terwyl Suikerbekkies en ander voëlsoorte se gesang jou geselskap hou. Die roete deurkruis verskeie ander Tafelberg-roetes wat berg-op en meer uitdagend is en ook minder kindervriendelik – veral vir gesinne met jonger kinders. Langs die pad is daar oral natuurlike piekniekplekkies vir wanneer stappers ’n blaaskans wil neem of die uitsig wil geniet.

Die hele roete heen en weer neem sowat drie ure, maar jy kan jou stap aanpas afhangend van die mense wat saam stap. Met klein kinders is dit dalk te lank, maar groter fikse stappers kan die roete maklik kafdraf.

Dit is moontlik om aan die Kampsbaai-kant te begin, alhoewel die roete van daardie kant af, ’n aanvanklike opwaartse klim insluit en gevolglik ’n bietjie meer uitdagend is.

Die beste van alles is hierdie heerlike uitstappie is heeltemal gratis en is maklik om te bereik. So te sê in jou agterplaas. Die Moederstad spog met nog vele soortgelyke, maklike, gesinsvriendelike staproetes wat inwoners sowel as besoekers gerus kan probeer.

(Foto: Verskaf)

Hier volg ’n paar ander van hierdie voorbeelde wat vinnig bereik kan word vanaf die stad:

Kloof Corner neem tussen sestig en negentig minute om te voltooi. Dis effens meer uitdagend omdat dit meestal opwaarts is met rotstrappe, maar die uitsig bo, oor die hele Kaapstad en Kampsbaai, maak dit die moeite werd.

Vredehoek na Deer Parkkontoerpad. Die roete is heel bo aan die Duiwelspiek-kant van die stadskom en loop aanvanklik reg agter die huise verby. Voor jy terug draai kan jy eers nog Deer Park gaan verken of ’n lekker koffie koppie gaan drink by nabygeleë Deer Park Café wat net af met die pad is.

Vredehoek Quarry is ’n sirkelroete om die ou steengroef van Duiwelspiek. Hierdie roete is ’n maklike 45 tot 60 minute se stap lank vanaf die parkering in Vredehoek. ’n Mens kan na die tyd die steengroef gaan besoek nadat jy jou pad deur die ou tonnel maak.

Vredehoek na Blokhuis – Weer is die vertrekpunt vanaf die parkering in Vredehoek, maar die keer verby die steengroef se ingang, in Nuweland se rigting. Hierdie is nog ’n gemaklike 6 km se stap met pragtige natuurtonele en ’n uitsonderlike uitsig oor die stad se hawe wat jou volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.